Grey-kollege doen nog proefnemings teen Welkom Gimnasium

Die afrigters van Grey-kollege se eersterugbyspan is nog besig om hul doepa vir 2025 te verfyn wanneer hul span Saterdag teen Welkom Gimnasium in Welkom te staan kom.
Die kragmeting sal in die Down Touch Investments-stadion gespeel word. Dit is boonop die Gimmies se hulpafrigter, Jacques Juries, se hoofkwartier as die Griffons se breier.
Die span se agterlynafrigter, Bobby Joubert, het besluit om die binnesenter en losskakel in die span se eerste kragmeting van die seisoen twee weke gelede teen die Hoërskool Trio, Darius Erwee en Toriq Schambreel, om te ruil.
Daar sal ook natuurlik verwag word dat Welkom Gimnasium met sy gevaarlike buite-agterspelers Grey se verdediging wyer as gewoontlik sal toets.
Daar is nie baie spanne in Suid-Afrika wat die vermoë het om Grey agterlangs te laat bontstaan nie. Welkom Gimnasium beskik egter jaarliks oor dié vermoë.
Schambreel kan moontlik hier die Gimmies se angel trek. Die tuisspan se skakelpaar, Leano Williams (losskakel) en Rewaldo Farmer (skrumskakel) sal ‘n belangrike rol in hul span se aanslag speel. Albei sal met hul spel die nodige spasie moet skep vir Dylan Titus (binnesenter), Vusi Ndayi (linkervleuel) en Jaydewin Solomons (heelagter) om te baljaar.
Grey se hoofafrigter, Jannie Geldenhuys, sal vertrou dat sy agttal die Gimmies op die agtervoet kan hou om sodoende te verhoed dat die tuisspan sy stert in die lug kry. Voorlangs sal die flank Steven Muller, haker AJ Hendriks en vaskopstut, JG Badenhorst, belangrikke rolle vertolk.
Die span se staatmaker slot, AJ Meyer, is nog met ‘n besering op die krukkelys. Hy sal gewis ‘n reuse verskil maak wanneer hy weer sy terugkeer op die veld maak.
Welkom Gimnasium se Nathan Muller het Saterdag die onbegonne taak om vir Ethan Adams (buitesenter) in toom te probeer hou. Adams is sonder twyfel die gunsteling om vanjaar die Suid-Afrikaanse Skole se Nr. 13-trui oor sy kop te trek.
Grey se naasbestes, die Cherries, kom in die voorwedstryd teen Goudveld-Hoërskool se trots te staan. Dit sal die voormalige Vrystaatse veelsydige agterspeler, Eben von Gericke, se eerste wedstryd terug aan stuur van die die Gouties wees.
Die spanne is:
Welkom Gimnasium: 15 Jaydewin Solomons, 14 Ruan Theron, 13 Nathan Muller, 12 Dylan Titus, 11 Vusi Ndayi, 10 Leano Williams, 9 Rewaldo Farmer, 8 Emile Mahlelebe, 7 Reagan Krige, 6 Relebohile Sello, 5 Hlombe Mamane, 4 Diederik Beuken, 3 Julius Makhanda, 2 Kananelo Tutubala, 1 Ewald Booyens.
Grey-kollege: 15 Lamla Mgedezi, 14 Benjamin van den Berg, 13 Ethan Adams, 12 Toriq Schambreel, 11 Siyabonga Kenny, 10 Darius Erwee, 9 Sherwin Buys, 8 Adem Nieuwoudt, 7 Xander Smit, 6 Steven Muller, 5 Claude Steyn, 4 Alexi Tyropolis, 3 JG Badenhorst, 2 AJ Hendriks, 1 David Hayidakis.
Afskop: 11:45
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30