Affies benader eerste hekkie van die jaar in Kimberley

Daar heers groot afwagting om te sien wat die Afrikaanse Hoër Seunskool vanjaar kan vermag, en Saterdagmiddag in Kimberley behoort reeds ‘n vroeë aanduiding te bied.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die span van Pretoria kom op gebruiklike wyse teen Hoërskool Diamantveld van Kimberley te staan in sy eerste wedstryd van die seisoen.
In die vorige 11 kragmetings tussen dié twee spanne, waarvan die eerste in 1985, kon die Kimberliete nog nooit die oorhand oor die Wit Bulle kry nie.
Affies het in dié eerste kragmeting, 40 jaar gelede, met 29-0 koning gekraai. Sedertdien het die Pretorianers deurentyd die hef in die hand gehad.
Die tuisspan se selfvertroue het nietemin ‘n hupstoot ontvang met die dat hy reeds sy eerste twee wedstryde vanjaar gewen en die pak voorspelers wat belowend vertoon het.
Diamantveld se eerste slagoffer was Hoërskool Fichardtpark wat met 25-7 verslaan is in Bloemfontein tydens die jaarlikse Fichardtpark-sportdag, en die afgelope Woensdag het Hoërskool Upington ook in die stof gebyt met die Diamonds wat met 36-27 die botoon gevoer het op die Uppies se tuisveld.
Benewens die woelwater-flanke, Jayden de Klerk en Louis Fourie, beskik die Diamonds ook oor die dienste van binnesenter, Jonathan Harding, en die giftige heelagter, Clinton Brits, wat ‘n gaping ver oor die vlaktes van die Kalahari kan raaksien.
Op papier het die Wit Bulle ‘n uitstaande begin-vyftiental. Ruben Groenewald, wat verlede jaar op heelagter diens gedoen het, draf in sy gunstelingposisie as losskakel op en voer ook vanjaar die Wit Bulle aan. Dit het ‘n reunie teweeggebring met skrumskakel, Zirk Meyer, met wie hy in die junior ouderdomsgroepe die wêreld aan die brand gespeel het.
Dié skakelpaar neem stelling in agter ‘n gedugte agttal wat deur steenkantflank, Albert Smit, en agsteman, Stefan McDonald, se ondervinding gelei word. Vernaam Smit het verlede jaar reeds kookwaterspel vir die span van Pretoria opgedis en behoort oudergewoonte die vuur onder die Affie-pak aan te steek.
Die spanne:
Diamantveld t. Afrikaanse Hoër Seunskool om 16:15 in Kimberly:
Diamantveld: 15 Clinton Brits, 14 John-Leighton Fortuin, 13 Jaco Beukes, 12 Jonathan Harding, 11 Driaan Jacobs, 10 Duran Makoni, 9 Ruben van der Linde, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Louis Fourie, 5 Zuan Rautenbach, 4 MG van Greuning, 3 Dian Ellis, 2 Jaydrian Jacobs, 1 Bernard Daniels.
Affies: 15 Lamont Baaidjies, 14 Rikus Strydom, 13 Nicolaas Grobler, 12 Divan Fourie, 11 Hugo Snyman, 10 Ruben Groenewald, 9 Zirk Meyer, 8 Stefan McDonald, 7 Albert Smit, 6 Lohan Potgieter, 5 Christiaan de Wet, 4 Elwin Janse van Vuuren, 3 Deon Botes, 2 Bauke Swart, 1 Roal Kruger.