SuperSport Schools Plus

Heidelberg Volkies troef begeesterde Bergsig, Die Anker sink Wagpos

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-01 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Heidelberg Volkskool op Facebook.

Dit het bloedsweet gekos vir Heidelberg Volkskool om sy eerste sege van 2025, in die NWU Prestige-reeks, te behaal.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Volkies het met ‘n naelskraapse sege van 14-12 oor Bergsig Akademie in Rustenburg die pyp gerook.

Dit was beslis nie Volkskool se aanskoulikste vertoning nie, met hanteerfoute wat die besoekers se momentum geknou het. Daardeur het hulle bykans 20 punte verlore laat gaan, maar dit is iets wat ‘n mens te wagte kan wees in die openingswedstryd van ‘n seisoen.

Dit neem egter niks weg van Bergsig se veggees nie. Die tuisspan het soos tiere verdedig, wat aanleiding gegee het tot die besoekers se oorgretigheid op die aanval en ongedwonge foute naby die doellyn. Indien Bergsig op dié begeesterde vertoning kan voortbou, sal hy beslis talle teenstanders nog hoofbrekens besorg.

Die besoekers se vurige agsteman, Jaco Botha, het ‘n barshou gespeel en nie geskroom om by die fisieke stryd voorlangs betrokke te raak nie. Hy het oral op die veld opgeduik om bewegings verder te voer en dit het ook aan hom ‘n welverdiende drie besorg.

Buitesenter, Juandré Pretorius, was ewe effektief op die aanval en het oorgeduik vir die drie wat uiteindelik die oorwinning vir die Volkies beklink het.

Benewens die Arende se rotsvaste verdediging, was hul aanvallende spel ook prysenswaardig. Die tuisspan se vermoeë om die bal in kontak af te laai is uit die boonste rakke, met die Dos Santos-duo, Paulo Dos Santos (skrumskakel) en Alzandro Dos Santos (heelagter), wat dit uitstekend benut het om elk agter die Volkies se doellyn te gaan kuier.

Hoërskool Pietersburg se heelagter, Ryno Mienie, het in nat toestande met twee strafdoele en ‘n doelskop geslaag om vir sy span ‘n oorwinning van 13-6 oor Potchefstroom Volkskool, in Potch, te verseker. Steelkantflank, Juan Janse van Rensburg, en vasskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, het voorlangs hand opgesteek om die Potchefstromers te laat les opsê.

Die tuisspan se skrumskakel, Juan Geldenhuys, het ál ses sy span punte met ‘n paar strafdoele aangeteken.

Hoërskool Die Anker het sy stem dik gemaak met ‘n wegholsege van 69-7 oor Hoërskool Wagpos. Die span van Brakpan het nie minder nie as 11 drieë op sy tuisveld ingeryg om die besoekers van Brits stert tussen die bene huis toe te stuur.

Dit was ‘n familie-affêre met oopkantflank, Markus Herbst, wat twee keer gaan druk het, terwyl sy neef, binnesenter, Edrick Pienaar, ook een keer agter die doellyn gaan draai het. Pienaar het boonop die verantwoordelikhede vanaf die skopkegel behartig en sewe van sy span se drieë verdoel om sy persoonlike bydrae op 19 punte te staan te bring.

Puntemakers:

Heidelberg Volkskool 14 (14) – Drieë: Jaco Botha, Juandré Pretorius. Doelskoppe: Marco Botha (2). Bergsig Akademie 12 (12) – Drieë: Alzandro Dos Santos, Paulo Dos Santos. Doelskop: Bradley Stonehous.

Hoërskool Pietersburg 13 (0) – Drie: Andru de Beer. Doelskop: Ryno Mienie. Strafdoele: Mienie (2). Potchefstroom Volkskool 6 (3) – Strafdoele: Juan Geldenhuys.

Die Anker 69 (31) – Drieë: Markus Herbst (2), Xavier Momberg, Jaydon Steenkamp, Jean Blignaut, Jonathan Jordaan, Edrick Pienaar, Arno Krugel, Paul Schutte, Ethan van Heerden, Zandré Luus. Doelskoppe: Pienaar (7). Wagpos 7 (7) – Drie: Wian Botha. Doelskop: JG Olckers.

Ander spanne: 

o. 16: Heidelberg Volkskool 39, Bergsig Akademie 0; Hoërskool Pietersburg 27. Potchefstroom Volkskool 5; Die Anker 34, Wagpos 0.

o. 15: Heidelberg Volkskool 17, Bergsig Akademie 5; Hoërskool Pieterburg 31, Potchefstroom Volkskool 7; Die Anker 45, Wagpos 3.

o. 14: Heidelberg Volkskool 26, Bergsig Akademie 5; Hoërskool Pietersburg 27, Potchefstroom Volkskool 0; Die Anker 5, Wagpos 5.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.