SuperSport Schools Plus

Van der Walt slag Eldo’s af met die kolf

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-02-26 Tags: , , ,

Waterkloof se eerste krieketspan na sy sege Dinsdag teen Eldoraigne om die Finsbury titel suksesvol te verdedig. FOTO: Kloof Krieket op Facebook.

Rico van der Walt se kolf het die Klofies na nog ‘n Finsbury-titel gelei.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Hoërskool Waterkloof se paaltjiewagter en voorslagkolwer het Dinsdag, 25 Februarie, die skote laat klap op Hoërskool Eldoraigne se ovaal om sy span na ‘n reuse oorwinning met 187 lopies oor die Eldos te moker. Daarmee die Klofies hul Finsbury-titel suksesvol verdedig.

Die besoekers het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Matthew Sampson (1/45), die tuisspan se aanvangsbouler, het vroeg toegeslaan om die eerste paaltjie reeds in die derde beurt te laat kantel.

Dit het tot die 11de beurt geneem vir die Eldo’s om weer toe te slaan toe Cornell Cousins (2/53) vir Wian du Plessis terug kleedkamer toe gestuur het vir 28 lopies.

Daarna het Van der Walt behoorlik beheer van die kolfkampie geneem en die Eldo’s se kleiner veld tot sy voordeel gebruik om die bal so ver as moontlik luglangs te slaan.

Hy het ondernemend te werk gegaan en ook briljant tussen die paaltjies gehardloop. Hoewel hy 132 aflewerings trotseer het, het hy goed gekapitaliseer, vernaam op die kort bal, om agt sesse en twee viere te slaan. Hy het uiteindelik Cousins se tweede slagoffer, op die tweede laaste bal van die beurt geword, maar eers nadat hy ‘n meesterlike 125 lopies aangeteken het.

Kaptein, Riley Miller, en verál die veelsydige Jaydon Blom het hom netjies ondersteun. Miller het 28 in sy vennootskap van 72 met Van der Walt aangeteken, terwyl Blom ‘n onoorwonne 38, wat ‘n paar indrukwekkende houe ingesluit het, van sy kolf laat klap het. Blom en Van der Walt se vennootskap van 99 lopies het die besoekers verder in staat om ‘n reuse teiken van 289 in die toegelate 50 beurte te stel.

Reinhardt Haasbroek was teen die einde van die 50 beurte die tuisspan se uitblinker met die bal. Sy twee paaltjies vir 45 lopies het ook die een van die Klofies se kaptein ingesluit.

Eldo’s se kolwers het egter les opgesê. Die tuisspan kon eenvoudig nie die druk wat deur die besoekers toegepas is hanteer nie. Met die momentum reeds aan sy kant het Cristiaan Smit die skroewe nóg stywer vasgedraai, en ‘n knaende lyn en lengte gehandhaaf wat uiteindelik met 3/13 in ses beurte beloon is.

Hy is uitstekend bygestaan deur aanvangsbouler, Jaco van der Walt (3/20) en AJ de Villiers (2/12), wat hul kant gebring het om die Eldos vir net 101 uit te haal – ‘n bittersoet einde aan die span van Centurion se eerste jaar die A-afdeling.

Beknopte telkaart:

Waterkloof 288/6 (Rico van der Walt 125, Jaydon Blom 38*, Wian du Plessis 28, Riley Miller 27; Reinardt Haasbroek 2/45, Cornell Cousins 2/53); Eldoraigne 101 (Ruan Steyn 28; Christiaan Smit 3/13, Jaco van der Walt 3/20, AJ de Villiers 2/12). Waterkloof wen met 187 lopies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.