SuperSport Schools Plus

Grey-kollege skop seisoen op ‘n drafstap met sege oor Trio af

By Hannes Nienaber , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-02-23 Tags: , , , ,

FOTO: Kulu Ferreira

Grey-kollege se eersterugbyspan het sy seisoen met ‘n sege van 38-10 oor Hoërskool Trio van Kroonstad tydens President Steyn se jaarlikse sportdag in Bainsvlei afgeskop.

Soos te wagte sal wees só vroeg in die seisoen het meeste van die spanne gesukkel om uit derde rat tydens die Hester van der Walt Sportdag te kom. Grey sal egter tevrede wees met hul eerste vertoning van 2025.

Die span van Bloemfontein is soos meeste spanne só vroeg in die seisoen nog nie op volsterkte nie. Grey het teen die omdraaislag reeds ‘n voorsprong van 33-10 geniet. Sy enigste drie in die tweede helfte is deur sy buitesenter, Ethan Adams, gedruk. Adams het twee van sy span se ses drieë afgerond.

Vir die bygelowiges onder die Grey-ondersteuners is daar goeie nuus. Dit was die vierde keer wat Grey en Trio mekaar op die rugbyveld ontmoet het. Al vier kragmetings was tydens die Steyners se sportdag. Tydens die twee spanne se eerste kragmeting in 2022 was Grey met 40-3 baas, dit was ook die eindtelling toe die twee spanne mekaar in 2024 ontmoet het.

Saterdag se telling van 38-10 het weer ooreengestem met 2023 se telling. Grey was onoorwonne in 2023, terwyl die span in 2022 en 2024 ‘n keer of wat aan die verloorkant was.

Grey se flank Steven Muller het ‘n uitstekende eerste wedstryd vir sy skool se eerstespan beleef. Hy het die veld vol gespeel en ook behoorlik in die vastelos ingeklim.

Die voorry bestaande uit JG Badenhorst (vaskopstut), AJ Hendriks (haker) en David Hayidakis (loskopstut) het ook stewige vertonings gelewer. Hendriks is die seun van die gewese Cheetah-haker Braam Hendricks. Hendricks sr. het ook vanuit die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron die SA Skole-span in 1993 verteenwoordig.

Adams se sentermaat, Darius Erwee, het met sy skopskoen gewys dat hy vanjaar nog ‘n belangrike rol vir hul skoolspan kan vertolk.

Vir Trio het sy losskakel, Jayden Windvogel, ‘n hele paar goeie oomblikke beleef. Die linkervleuel, Jaylin Jones, is met ‘n drie beloon na hy ‘n hele paar keer gevaarlike lopies ingekry het.

Grey se tweedespan, die Cherries, het die Hoërskool Sentraal met 36-0 verslaan. Die Cherries het teen rustyd reeds ‘n gemaklike voorsprong van 24-0 geniet.

Die kragmeting was egter ‘n groot tree vorentoe vir Sentraal se rugbyprogram. Die Tralies het twee jaar gelede op die einste sportdag met 7-26 teen Grey se derdespan die knie gebuig.

Die verloorspan het deurgans hope durf ten toon gestel en nooit die stryd gewonne gegee nie. Sy poging op dié dag was gewis meer werd as wat die 0 op die telbord aangedui het. Sy flank Jandré Jardim verdien ‘n klop op die skouer, terwyl die losskakel, Hanco Nel, ook tevrede met sy vertoning kan voel.

Die Cherries was vinnig uit die blokke en Sentraal het gesukkel om aanvanklik aan die tempo gewoont te raak. Dit was veral die binnesenter, Ruan Roux, heelagter, Cowen Willemse, asook die regtervleuel, Johan Dormehl, wat deurgans met hul vaart daarin geslaag het om gate in Sentraal se verdediging te vind.

Puntemakers: 

Grey-kollege 38 (33) – Drieë: Ethan Adams (2), Steven Muller, Toriq Schambreel, JG Badenhorst, Benjamin van den Bergh. Doelskoppe: Darius Erwee (4). Hoërskool Trio 10 (10) – Drie: Jaylin Jones. Doelskop: Jayden Windvogel. Strafdoel: Windvogel.

Cherries 36 (24) – Drieë: Cowen Willemse, Johan Dormehl, Arno de Bruin, Bernard Wessels, Tayrian Matthys, Willem Bosch. Doelskoppe: Samson Lackay (3). Hoërskool Sentraal 0.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.