Kempies terug in A-afdeling vir eerste keer in 25 jaar

Dit het 25 jaar geneem, maar die Kempies is uiteindelik terug in die A-afdeling van die Finsbury-reeks.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Kempton Park moes Saterdag, 22 Februarie, na Nelspruit reis waar hy in vanjaar se promosie-relegasie-wedstryd teen Hoërskool Nelspruit te staan gekom het.
Dit was ‘n groot dag vir die besoekers aangesien dit ‘n kans bied om vir die eerste keer in ‘n kwarteeu weer in dié afdeling, saam met groot honde soos Hoërskool Waterkloof, Die Hoërskool Menlopark en Potchefstroom Volkskool, te blaf.
Sheldon Kruger en die res van die Kempie-kolwers het inderdaad dié mylpaal vir hul span behaal. Kruger, voorbok met die wilgerlat, het eenvoudig verseg om sy paaltjie af te staan, ál het die Nellies se boulers hoe hard probeer.
Die tuisspan het eerste gekolf en vir die besoekers ‘n teiken van 188 gestel.
Luan Siebrits was die Nellies se beste kolwer, met 36 lopies, en is ywerig bygestaan deur Waldemaar Graham (27) en John Duncan (25), maar nie een van die drietal het ‘n antwoord gehad op die vernietigende boulwerk van Kristian du Plessis (4/23) en Francois Maree (4/33) nie.
Kruger het op sy beurt dit na ‘n totaal ander kolfblad laat lyk. Die toporde-kolwer van Kempton het sy beurt tydsaam gestruktureer, teen net minder as ‘n lopie per bal gekolf en was sy span se anker met ‘n onoorwonne 77 lopies. Henré van Deventer (40) en kaptein, Marko Richter (21), het verder bygedra om die besoekers tot ‘n gemaklike oorwinning met ses paaltjies te lei.
“Dit was regtig nie maklik gewees nie, omdat die eerste span en o. 15’s se punte saam tel, maar ek is ongelooflik trots op albei groepe vanjaar,” het Kempies se hoofafrigter, Johan Fourie, gesê.
“Nou begin die harde werk om daar te bly en moontlik die A-afdeling te wen.”
Die Kempies behoort ‘n groot gros van hul spelers uit vanjaar se groep vir die 2026-seisoen te behou. Nie minder nie as ses, insluitende die blitsige Kristian du Plessis en indrukwekkende Wian Pieters, sal volgende jaar weer hul spykerskoene vir die span van Kempton Park aantrek.
Beknopte telkaart:
Hoërskool Nelspruit 187 (Luan Siebrits 36, Waldemar Graham 27, John Duncan 25; Kristian du Plessis 4/23, Francois Maree 4/33); Hoërskool Kempton Park 188/4 (Sheldon Kruger 77*, Henré van Deventer 40, Marko Richter 21, Safwaan Miller 2/46). Hoërskool Kempton Park wen met ses paaltjies.