Alles op die spel vir onoorwonne Zwarries teen Pieties
Hoërskool Zwartkop se resultate hierdie naweek, op sowel eerstespan- as o. 15-vlak, is van uiterste belang met die oog daarop om ‘n plek in die promosie-relegasie-wedstryd van vanjaar se Finsbury-reeks te verseker.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Aangesien die Finsbury-reeks se puntelyste volgens die eerste- en o. 15-spanne se uitslae bepaal word, moet Zwarries dus een of albei, dié kragmetings met Hoërskool Pietersburg wen. Die skool van Centurion lê tans eerste, met 32 ligapunte, wat aan hom ‘n buffer van twee punte bied oor Midstream College in die tweede plek.
Midstream College se o. 15-span is ‘n vlieg in die salf vir Zwartkop, aangesien hy, nes die Zwarries se eerste span, steeds onoorwonne is en ál vier sy wedstryde tot dusver met ‘n bonuspunt beklink het.
Zwarries het verlede week, in wat hul taaiste stryd sou wees, geswoeg om Hoërskool Monument met drie paaltjies te troef. Nicholas Conradie was die deurslaggewende faktor teen die Monumentare, met ‘n onoorwonne 89 lopies.
Die Pietersburgers beskik oor genoeg talent om ‘n wedstryd te swaai, met vernaam die veelsydige Cilliers van der Merwe en Stephan Swanepoel wat vir die tuisspan hoofbrekens kan besorg. Boonop behoort die jongeling, Willem Viljoen, oor te loop van selfvertroue nadat hy Hoërskool Dinamika verlede naweek met 5/20 gekarnuffel het.
Midstream College verwelkom vir Hoërskool Monument in Centurion en, nes die die Zwarries-Pieties-stryd, kan dit ‘n taamlike impak op die afdeling in vanjaar se kompetisie hê. Midstream se Ryan Strauss is netjies op dreef met bal én kolf, en spog na sy vorige twee wedstryde met vyf paaltjies en 43 lopies.
Monnas se aanvangskolwer, Antonie van Niekerk, sal beslis in Strauss se visier wees en is grootliks die gom wat Monnas se kolflys deurgaans aanmekaar hou.
Hoërskool Dinamika onderneem die tog na Lichtenburg om Hoërskool Lichtenburg aan te durf. Die Liggies moet waarskynlik die wenner van die D-afdeling, Hoërskool Middelburg, in die promosie-relegasie-stryd trotseer, maar sal graag hul seisoen met ‘n oorwinning oor die span van Alberton wil afsluit.
Bepalings
Week 5:
Zwartkop t. Hoërskool Pietersburg
Midstream College t. Monument
Hoërskool Lichtenburg t. Dinamika