Groot honde in Finsbury se B-afdeling pak mekaar

Dit beloof om ’n woeste geveg af te gee wanneer die twee groot honde in die B-afdeling van die Finsbury-reeks mekaar Saterdag in Kempton Park takel.
Volg al die aksie regstreeks op Supersport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Hans Moore, tans die gunsteling om deur te dring na die promosie-relegasie-wedstryd ten einde volgende jaar deel uit te maak van die A-afdeling, verwelkom Saterdag ‘n gevaarlike Hoërskool Kempton Park in sy agterplaas.
Die kolfstryd is verál een om na uit te sien. Die Kempies se toporde het deur die loop van die reeks skoonskip gemaak, terwyl die Moories reeds twee keer in die kompetisie met 10 paaltjies koning gekraai het.
Die tuisspan se twee gevaarmanne, aanvangskolwer, Sheldon Kruger, en die veelsydige Wian Pieters, se paaltjies sal hoog op prys gestel word. Die uitdaging vir die boulers Saterdag is dat albei spanne taamlik diep kolf.
Benewens die gevestigde openingsvennootskap van die besoekers se Zander Swart en Stefan Vermaak, wag Xavier Coetzee en die Shaw-broers, Kenan en Aiden Shaw, ook op die Kempies se aanval. Op hul beurt, beskik die Kempies oor die linkerhandse paaltjiewagter/kolwer, Stian de Villiers, en kaptein, Marko Richter, se vernuf in die middelorde.
Hoërskool Marais Viljoen reis na die noorde van Pretoria waar hy teen Hoërskool Montana te staan kom. Albei spanne lek steeds wonde na behoorlike loesings die week vantevore. Die span van Alberton het met agt paaltjies die onderspit gedelf teen die Kempies, terwyl die Monties nie hond haar-af kon maak teen Potchefstroom Gimnasium nie.
Albei spanne sal dus vasberade wees om die Finsbury-reeks op ‘n hoë noot af te sluit. Die besoekers se Abdullah Tadwala is mooi op dreef geoordeel aan sy spogvertoning teen die Kempies en sal dus vierkantig in die tuisspan se visier wees.
Potchefstroom Gimnasium heet die sukkelende Hoërskool Centurion welkom in Potch, en sy kolwers, vernaam Ulrich Botha, sal oorgehaal wees vir die laaste geleentheid om op tuisbodem te kolf en die somersportseisoen met mening af te sluit..
Bepalings:
Week 5:
Hoërskool Kempton Park t. Hans Moore
Montana t. Marais Viljoen
Potchefstroom Gimnasium t. Hoërskool Centurion