Klerksdorp-kolwers karnuffel Linden

Hoërskool Klerksdorp se twee aanvangskolwers het ‘n yslike vertoning opgedis vir hul span om Hoërskool Linden met nege paaltjies te looi.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was nadat Linden se nr. 4-kolwer, Thomas Muller, die skare vermaak het. Muller het, met sy span in die knyp, losgetrek om die Klerksdorp-boulers ore aan te sit. In die 98 aflewerings wat hy trotseer het, het Muller agt sesse en ses viere grens toe gejaag, voordat hy deur Tiaan Koen (1/59) terug pawiljoen toe gestuur is.
Dié blitzkrieg het Koen duidelik effens omgekrap. Koen, wat gewoonlik op vyf kolf, en sy aanvangsvennoot, TD Gruyvenstein, het van meet af uitstekend saamgekolf om ‘n vennootskap van 214 om die eerste paaltjie aanmekaar te slaan.
Van dié 214 lopies het Koen 136 gemoker. Sy pragbeurt was ewe aanvallend en het nege sesse en vyf viere bevat, voordat hy uitgehardloop is. Koen se paaltjie was die enigste deurbraak wat die Johannesburgers kon maak, met Gruyvenstein wat voortgekolf het om die beurt met ‘n onoorwonne 87 lopies, en ‘n indrukwekkende oorwinning, af te sluit.
Merensky Landbou Akademie, oftewel, Rinaldo Bornman, het sy stempel verder op die E-afdeling van die Finsbury-reeks afgedruk. Bornman was weer die sleutel tot sy span se sukses, hierdie keer met die kolf. Sy onoorwonne 78 lopies het die span van Tzaneen tot ‘n sewe-paaltjie sege oor Hoërskool Secunda aangevuur.
Merensy se kaptein, Luka Heinlein, was nie ver agter nie. Hy was nie alleen ‘n doring met sy swaaiboulwerk, wat syfers van 2/24 opgelewer het, nie, maar het vir Bornman, in hul onaanvegbare vennootskap van 110 lopies, puik ondersteun met ‘n aanskoulike 54.
Hoërskool Wesvalia het so hittete op ‘n piesangskil gegly teen Hoërskool Dr EG Jansen. Die Wessies het die hef in die hand gehad, nadat Ethan Walker (4/25), Henco Greyling (3/12) en Juanré Greyling (3/13) die Jansies vir net 84 uitgeboender het.
Jayden van Wyk het die span van Boksburg egter teruggeboul in die kragmeting met vier paaltjies vir slegs 29 lopies. Greyling, nog vol selfvertroue na sy boulskof, het tot die span van Klerksdorp se redding gekom. Alhoewel hy net 22 lopies aangeteken het, was dit presies wat sy span nodig gehad het om uiteindelik met vier paaltjies te wen.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Linden 258/8 (Thomas Muller 137, Ekstras 47, Liam Malan 24*, Xandre Caetano 22; Marnus van der Merwe 2/8, Gerrit Koen 2/40); Hoërskool Klerksdorp 261/1 (Tiaan Koen 136, TD Gruyvenstein 87*; Thomas Muller 0/11). Hoërskool Klerksdorp wen met nege paaltjies.
Hoërskool Secunda 167 (Luan Swart 42, Ceejay Web 29*; Timothy Baker 3/35, Wean Kruger 2/14, Luka Heinlen 2/24); Merensky 171/3 (Rinaldo Bornman 78*, Luka Heinlein 54; Luan Swart 1/32). Merensky wen met sewe paaltjies.
EG Jansen 84 (Jayden Barns 24; Ethan Walker 4/25, Henco Greyling 3/12, Juanre Greyling 3/13); Wesvalia 85/6 (Juanre Greyling 22; Jayden van Wyk 4/29). Wesvalia wen met vier paaltjies.