Dis ‘n drieperdewedren in die A-afdeling van die Finsbury-reeks

Daar is nog drie spanne in die wedloop om vanjaar in die eindstryd van die Finsbury-reeks se A-afdeling te speel.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die verdedigende kampioen, Hoërskool Waterkloof, lê tans bo aan die puntelys. ‘n Sege oor Potchefstroom Volkskool hierdie naweek kan sy posisie aansienlik versterk en basies ‘n plek in die eindstryd bespreek, met nog een week se aksie oor ná Saterdag se wedstryde. Die kragmeting tussen Klofies en Volkies is terloops ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd in dié afdeling.
Waterkloof het verlede naweek besoek afgelê in Bloemfontein, waar hy gemengde welslae behaal het. Die positiewe is egter dat die paaltjiewagter en voorslagkolwer, Rico van der Walt, twee agtereenvolgende honderdtalle opgedis het, teen onderskeidelik St Andrew’s School en Grey Kollege. Die feit dat hy met mening op dreef is maak die Klofies se kolflys uiters gevaarlik.
Volkies se kolwers is self nie te versmaai nie. Die aanvangskolwer en kaptein, Louis van Wyk, het reeds sy kolfvernuf van meet af in 2025 tentoongestel. Die geleentheid om weer op tuisbodem te kolf sal beslis as ekstra motivering dien vir die Volkie-kaptein.
Hoërskool Eldoraigne, huidiglik derde op die puntelys, het die groot honde in die afdeling vanjaar ietwat kom omkrap. Hy kom Saterdag teen Hoërskool Rustenburg op tuisbodem, in Centurion, te staan. Die Rusties dreig om aan die gang te kom, maar het tot dusver nog nie op alle silinders gevuur nie.
Die Eldos se voorste lopievraat, Ruan Steyn, sal graag hierdie slag die honderdtal wat hom die afgelope twee wedstryde ontwyk het wil behaal. Steyn was uitstaande met die wilgerlat in die span van Centurion se sewe-lopie oorwinning oor Potch Volkies verlede naweek. Benewens Steyn, sal die Rusties hard moet werk om ook die res van die tuisspan se kolwers te tem.
Hoërskool Menlopark, wat die Klofies verlede week met 56 lopies gelooi het, reis na die Laeveld om Hoërskool Nelspruit in sy agterplaas te pak. Die Nellies is steeds segeloos in vanjaar se reeks en sal beslis ‘n kat in die duiwehok wil gooi deur die Parkies die loef af te steek.
Indien hulle hoop om dit te vermag, sal hulle vroeg-vroeg die paaltjie van Menlo se kaptein, Dian van Zyl, moet probeer kry. Van Zyl se selfvertroue behoort hemelhoog wees na sy skitterbeurt van 183 nie uit nie teen die Klofies, op die verdedigende kampioen se tuisveld.
Bepalings:
Week 4:
Potchefstroom Volkskool t. Waterkloof
Eldoraigne t. Hoërskool Rustenburg
Hoërskool Nelspruit t. Menlopark