Kan Eldos Volkies se twee ‘Vans’ tem op tuisbodem?

Verlede week se aksie in Afdeling A van die Finsbury-reeks het ‘n paar kragtige vertonings opgelewer, vernaam dié van Eduan van der Merwe en Louis van Wyk in Potchefstroom Volkskool se oorwinning met 163 lopies oor Hoërskool Nelspruit.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die duo se uithalerspel met die kolf het reeds die waarskuwingskote afgevuur in die aanloop tot die Potchefstromers se kragmeting met Hoërskool Eldoraigne hierdie naweek.
Van der Merwe se spogbeurt van 107 was uit die boonste rakke. Benewens die aantreklike houe wat hy gespeel het, het hy boonop teen ‘n gesonde treftempo gekolf. Van Wyk was ewe indrukwekkend en behoort oorgehaal te wees om weer die wilgerlat te laat praat. Die feit dat hulle boonop tuisveldvoordeel geniet, sal verseker dat die motiveringsvlakke hemelhoog is.
Herman Hesse, die Volkies se aanvangsbouler het sedert die begin van die jaar egter taamlik opspraak gemaak met sy knaende lyn en lengte en sal deeglike beplanning verg van die Eldo’s.
Die besoekers kan inderdaad nie onderskat word nie. In die eerste jaar wat hulle deel uitmaak van die A-afdeling, het die Eldos reeds met Hoërskool Menlopark afgereken, en, die daaropvolgende week vir die verdedigende kampioen, Hoërskool Waterkloof, kwaai opdraande gegee. Abré Volgraaf en die res van sy afrigtingspan doen beslis iets reg in die kolfdepartement.
In die Eldos se laaste twee uitstappies was daar reeds vier vyftigtalle deur verskillende kolwers in die toporde, met die onlangste Ruan Steyn se 55 lopies teen die Klofies, wat hom behoort aan te vuur vir nóg meer van dieselfde op die pad vorentoe. Met altwee spanne se kolwers wat tans goeie spelpeil handhaaf, kan hierdie naweek beslis ‘n fees op Potchefstroom se kolfvriendelike blaaie oplewer.
Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Menlopark is reeds Dinsdag en Woensdag besig om sake op die André van der Walt-ovaal uit te spook. Dié skuif in die program kom weens die Klofies se tog na Bloemfontein, waar hulle Vrydagmiddag teen Grey College en Saterdag teen St Andrew’s School te staan kom.
Die grootste nuus vanaf die André van der Walt tot dusver is dat die Parkies ‘n reuse totaal van 366 in hul toegelate 50 beurte opgestapel het.
Hoërskool Rustenburg en Hoërskool Nelspruit geniet albei ‘n loslootjie. Die twee spanne het reeds verlede Vrydag hul rondomtalie-wedstryd afgehandel, met die Rusties wat met vier paaltjies koning gekraai het.
Week 3:
Bepalings:
Potchefstroom Volkskool t. Eldoraigne
Waterkloof t. Menlopark