SuperSport Schools Plus

Stellies slaan terug, Hashim en Montanus blink uit vir MV

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-09-26 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Verskaf deur Hoërskool Marais Viljoen

Nadat Hoërskool Stellenberg se kolwers effens gesukkel het oor die eerste twee dae van die Izintaba Gimmies-Krieketfees, het die manne van die Wes-Kaap uiteindelik die nodige ritme gevind om ‘n wenvertoning aanmekaar te slaan.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Kapenaars se algehele kolfvertoning het verseker dat hulle vir Hoërskool Monument met ‘n gerieflike 109 lopies kon troef.

Aanvangskolwer, Mortie Viljoen, het die kolfbeurt gelei en ‘n stewige grondslag vir die res van die kolwers daargestel met 59 lopies. Sy volwasse beurt het van 72 aflewerings gekom en 10 viere en ‘n ses ingesluit.

Jan Jak Alberts het daarop voortgebou om sy span se posisie verder te versterk met 46 lopies, terwyl Wilhelm Smet ook die 40-kerf kon verbysteek vir 41. Danksy ‘n paar ander waardevolle bydraes deur die res van die toporde kon Stellies ‘n uiters verdedigbare 304/9 in hul toegelate 50 beurte op die bord plaas.

Monument se Rieghardt Prinsloo het uitgeblink met die bal. Hy het koelkop gebly onder taamlike druk om drie Stellenberg-kolwers pawiljoen toe te stuur. Tshepo Mlambo (2/26) en Joshua McCoy, wat homself weer onder die paaltjies bevind het met syfers van 2/52, het goeie ondersteuning gebied.

Hul stewige kolfvertoning het nuwe wind in die Stellies se seile geblaas en dit was verál Lohann Pretorius wat uitgeblink het met die bal. Pretorius, wat die boulbeurt oopgemaak het, het na 10 beurte gespog met puik syfers van 4/62, terwyl Kyle van Stanten drie paaltjies vir 46 lopies in sy agt beurte laat kantel het.

Werner Durrheim, Monnas se uitstaande kolwer die afgelope paar dae, het weer die verantwoordelikheid op sy skouers geneem en nog ‘n vyftigtal bygedra, voordat hy vir ‘n waardevolle 58 teruggekeer het kleedkamer toe.

Ongelukkig kon slegs Rieghardt Prinsloo verder ‘n noemenswaardige bydrae lewer. Prinsloo het hard gewerk vir 24 lopies, maar die Stellies se boulwerk was eenvoudig té skerp en het die span van Krugersdorp tot 195 almal uit beperk.

Rieshaeel Hashim en Ryan Montanus was Hoërskool Marais Viljoen se helde in hul sege oor die gasheerskool, Potchefstroom Gimnasium. Hashim, wat eers op sewe vir die span van Alberton kom kolf het, het nie op hom laat wag nie en slegs 54 aflewerings benodig vir sy 74 lopies. Verdere bydraes deur kaptein, Jaden Govender (33), en Jordann Lategan (31) het verseker dat Marais Viljoen 244 kon bereik.

Caden Seleka se pragbeurt van 65 lopies en Juandre Barends se 44 het Marais Viljoen se harte vir ‘n oomblik in hul keel laat klop.

Dit was egter totdat Ryan Montanus sy ritme gevind het om vier paaltjies plat te trek. Dit het die vuur onder Abdullah Tadwala aangesteek, wat op sy beurt ‘n web om die Gimmie kolwers gedraai en uiteindelik met syfers van 3/45 kon spog vir sy span om met 13 lopies te seëvier.

Xavier Coetzee het sy skitterende spelpeil voortgesit om nóg 95 lopies op sy kerfstok vir die week te plaas en te verseker dat die Moories met 23 lopies oor Boland Landbou koning kraai. Aiden Shaw het goeie bystand gebied met 50 lopies. Die Bolanders se Rease Human het die meeste skade met die bal aangerig en met syfers van 4/32 gespog.

Matthew Geldenhuys het bestendig gekolf vir sy 60 lopies om die span van die Wes-Kaap byna oor die wenstreep te kry. Dit was egter nóg ‘n Shaw, Kenan Shaw, wat die krane toegedraai het. Shaw het die Moories se boulaanval gelei met vier paaltjies om te verseker dat Boland Landbou slegs 229 kon aanteken.

Beknopte telkaarte: 

Stellenberg 304/9 (Mortie Viljoen 59, Jan Jak Albert 46, Wilhelm Smet 41, Ethan Vermeulen 33, Liam Jacobs 28, JJ Rothman 20; Rieghardt Prinsloo 3/65, Tshepo Mlambo 2/26, Joshua McCoy 2/52); Monument 195 (Werner Durrheim 58, Rieghardt Prinsloo 24, Antonie van Niekerk 22; Lohann Pretorius 4/62, Kyle van Santen 3/46, Jan Jak Alberts 2/21). Stellenberg wen met 109 lopies.

Marais Viljoen 244 (Rieshaeel Hashim 74, Jaden Govender 33, Jordann Lategan 31, Jordan Baijnath 26; Henre Cronje 2/30, Margeo Joubert 2/36, Tommie Botha 2/39, Thlone Thabata 2/46); Potchefstroom Gimnasium 231 (Caden Seleka 65, Juandre Barends 44, Divan Val Eldik 22, Benjamin van Wyk 22; Ryan Montanus 4/39, Abdullah Tadwala 3/45). Marais Viljoen wen met 13 lopies.

Hans Moore 252 (Xavier Coetzee 95, Aiden Shaw 50, Kenan Shaw 29, Kearan Weyers 27; Rease Human 4/32, Markus Groenewald 2/43); Boland Landbou 229 (Matthew Geldenhuys 60, Lohann Louw 32, Marius du Plessis 29, Kobus Conradie 28; Kenan Shaw 4/46, Henre Everleigh 2/33, Brenton Francis 2/55). Hans Moore wen met 23 lopies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.