SuperSport Schools Plus

Moories moker 462, Monnas wen met ses lopies

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-09-25 Tags: , , , , , , , , ,

FOTO: Verskaf deur Hoërskool Hans Moore se Facebook-blad.

Hoërskool Hans Moore se kolwers het weer gewys wat in hulle steek met ‘n uitstaande en afgeronde vertoning om Hoërskool Durbanville met 199 lopies te laat les opsê.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Hans Moore se aanvangskolwer, Aiden Shaw, het opgemaak vir sy nulletjie die dag vantevore en sy kolfvernuf uitgestal met sy span se hoogste individuele telling van 98 lopies, twee kort van wat ‘n welverdiende honderdtal sou gewees het.

Staatmaker, Warren Minnaar, het sy tweede agtereenvolgende 50-tal aangeteken om teen die einde van sy beurt met 76 lopies te spog.

Zander Swart (65) en Adrian Watson (61) het ook beïndruk, terwyl ‘n verdere bydrae van51 deur Xavier Coetzee en 42 lopies deur Kenan Shaw die Moories se kolfdiepte beklemtoon en verseker het dat die span van Benoni ‘n reusetelling van 462/8 in die toegelate 50 beurte kon behaal.

Durbanville kon self met drie vyftigtalle in sy toporde spog. Tobie Roelofse het die jaagtog gelei met ‘n onoorwonne 73 lopies. Jan Kriel was kort op sy hakke met ‘n bydrae van 67, terwyl Henry Venter ook in die sestigs gaan draai het met 62 lopies.

In ‘n aanskoulike wedstryd waarin 725 lopies gesamentlik tussen die twee spanne aangeteken is, was Roelofse en Kie se pogings helaas nie genoeg om dié teiken te bereik nie.

Hoërskool Monument kon danksy ‘n puik boulvertoning deur Joshua McCoy verby Boland Landbou glip om naelskraaps met ses lopies te wen. McCoy was in ‘n verwoestende bui, iets wat die Monumentare broodnodig gehad het aangesien hulle slegs 186 lopies moes verdedig. Dit was egter genoeg aangesien McCoy vier paaltjies vir net 39 lopies platgetrek het.

Rieghardt Prinsloo en Antonie van Niekerk het hom bygestaan met twee paaltjies elk. Monnas se Waldo Greyling en die Bolanders se Lohann Louw was die uitblinkers met die kolf. Greyling het met ‘n beslissende 50 lopies gespog, terwyl Louw se 54, die hoogste individuele telling in die wedstryd, so hittete genoeg was om die Krugersdorpers te troef.

Helpmekaar Kollege het sy stempel verder afgedruk met ‘n uiters gemaklike sege van nege paaltjies oor Hoërskool Stellenberg. Heinrich Minnaar se syfers van 3/13 en Xander Jackson se bydrae van drie paaltjies vir 17 lopies het vir die Kapenaars tot slegs 106 almal uit beperk.

Zander Neethling se goeie 41* en Kyle Swanepoel se onoorwonne 37 was genoeg vir die Johannesburgers om die telling reeds in die 16de boulbeurt verby te steek.

Luan Vermeulen se onoorwonne honderdtal was die hoogtepunt van Hoërskool Wesvalia se agt-paaltjie-oorwinning oor Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se tweede span. Vermeulen se 103 nie uit nie het beteken dat die Wessies Affies se telling gemaklik in die 36ste beurt kon verbysteek.

Blake Curtain het die Affie-kolfbeurt met 32 lopies gelei. Hy sou egter ‘n raps langer wou kolf om sy span die kans te gun om ‘n verdedigbare telling op die bord te sit.

Beknopte telkaarte:

Hans Moore 462/8 (Aiden Shaw 98, Warren Minnaar 76, Zander Swart 65, Adrian Watson 61, Xavier Coetzee 51, Kenan Shaw 42, Stephan Vermaak 22; Albertyn du Bois 2/61, Calla du Toit 2/81); Durbanville 263/9 (Tobie Roelofse 73*, Jan Kriel 67, Henry Venter 62, Jeandré Janse van Rensburg 20; Stephan Vermaak 2/30, Henré Everleigh 2/34, Kenan Shaw 2/42). Hans Moore wen met 199 lopies.

Monument 187 (Waldo Greyling 50, Ibrahim Haffejee 37, Werner Durrheim 33, Antonie van Niekerk 23; Tiaan Ryke 3/47, Stefan Conradie 2/7, Kobus Conradie 2/18); Boland Landbou 181 (Lohann Louw 54, Rynhard van der Schyff 33; Joshua McCoy 4/39, Rieghardt Prinsloo 2/39, Antonie van Niekerk 2/44). Monument wen met ses lopies.

Stellenberg 106 (Ryan Jones 40*; Heinrich Minnaar 3/13, Xander Jackson 3/17, Henno Steyn 2/5); Helpmekaar Kollege 108/1 (Zander Neethling 41*, Kyle Swanepoel 37*; Kyle van Staten 1/30). Helpmekaar wen met nege paaltjies.

Affies 2de XI 194 (Blake Curtain 32, SF Vermeulen 28, Iwan van der Lith 26; Q Fourie 3/38, Eduard Dreyer 2/21, Ethan Walker 2/22); Wesvalia 196/2 (Luan Vermeulen 103*, J Prinsloo 38, Marneau Dreyer 29*; Janro de Bruin 1/15). Wesvalia wen met agt paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.