Liggies skitter na rustyd, Wessies terug met ‘n knal
LICHTENBERG – Die Liggies het vir die soveelste keer vanjaar hul staal op tuisbodem getoon.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Lichtenburg het met ‘n skitterende vertoning in die tweede helfte sy onoorwonne status behou in sy agterplaas.
Die tuisspan het 35 punte in die tweede skof aangeteken om die besoekende Hoërskool Secunda, wat teen rustyd met 17-10 voor was, uiteindelik met 45-27 kaf te draf.
Die besoekers het inderdaad belowend afgeskop en dit was nie lank voor hul venynige vennootskap in die middeveld vir die Liggies agter die pale laat hergroeppeer het nie. Buitesenter, Ryan Erasmus, het, na ‘n sterk individuele lopie, deurgebreek om die bal agter die doellyn te plant en sy sentermaat, Brink la Grange, het kort daarna dieselfde gedoen om die besoekers se voorsprong te vergroot.
Die span van Mpumanalanga het vir die meerderheid van die eerste helfte die oorhand geniet en verdien om met die omdraaislag met sewe punte voor te loop.
Die momentum het egter dramaties geswaai na rustyd, met die tuisspan se pak wat op al agt silinders begin vuur en die besoekers onder toenemende druk geplaas het. Die meedoënlose en fisiese aanslag het spoedig aan Lichtenburg die voortou besorg en daar het hulle gebly.
Hierdie slag was dit loskopstut, Donovan Rosato, se beurt om die leiding voorlangs te neem, met sy kragtige dryfspel wat die Liggies keer op keer oor die voordeellyn laat kom het. Oopkantflank, KG Legodi, het ook ‘n barshou gespeel om, nes Rosato, een van sy span se ses drieë te druk.
Hoërskool Wesvalia het in Klerksdorp ook sy gehalte tentoongestel deur, in sy eerste wedstryd na ‘n verlenge breek, die besoekers van Tzaneen, Hoërskool Ben Vorster, met ‘n telling van 48-8 ore aan te sit.
Die Wessies was vanuit die staanspoor in beheer van sake, met hul pak wat vroeg reeds voorlangs die oorhand verkry en die besoekers geboelie het. Dit was vernaam in die vaste fasette waar die Klerksdorpers beïndruk het.
“Die voorspelers het oorheers,” het Willem van der Sandt, die tuisspan se afrigter gesê.
“Ons vaste fasette was uitstekend en ons het die fisieke stryd gewen, wat ‘n stewige grondslag gelê het.”
Haker, Junior Kuhn, en steelkantflank, Francois Dumond, het verál uitgeblink met hul hoë werkverrigting in die vastelos en só die vuur onder die Wessies se agttal aangesteek. Agterlangs het die terugkeer van staatmaker, Rieckardt van Heerden, ook ‘n beduidende rol gespeel en het die heelagter 18 van sy span se 48 punte aangeteken met ‘n drie, vyf doelskoppe en ‘n strafdoel.
Hoërskool Hugenote van Springs is uiteindelik weer terug in die sirkel van wenners na ‘n swaarverdiende oorwinning van 24-21, danksy ‘n strafdoel deur Corné Pretorius, oor Hoërskool Pietersburg in Springs. Die losskakel het ook ál drie sy span se drieë verdoel.
Oopkantflank, Arne Pretorius, was stil-stil ‘n staatmaker vir die Hugies regdeur die seisoen en Saterdag weer op sy stukke.
In Brakpan was daar niks te kies tussen Hoërskool Die Anker en Hoërskool Jeugland wat met 33-33 gelykop gespeel het nie. Die tuisspan se agsteman en kaptein, Ruben Herbst, het vir die tweede agtereenvolgende naweek oorgebars vir ‘n indrukwekkende tweekuns.
Puntemakers:
Hoërskool Lichtenburg 45 (10) – Drieë: Donovan Rosato, GJ Malan, KG Legodi, Tiaan Booysen, Willem van Niekerk, Oratile Sekoto. Doelskoppe: Luan Snyman (5). Strafdoel: Albert Joubert. Hoërskool Secunda 27 (17) – Drieë: Ryan Erasmus, Bismark Jansen, Stefan Bezuidenhout, Brink la Grange. Doelskoppe: Damian de Beer (3). Strafdoel: De Beer.
Wesvalia 48 (29) – Drieë: Junior Kuhn, Francois Dumond, Joshua Pieters, Hanre Venter, Chad Hofmeyer, Justin Adams, Rieckardt van Heerden. Doelskoppe: Rieckardt van Heerden (5). Strafdoele: Van Heerden. Ben Vorster 8 (3) – Drie: Makondolele Musekene. Strafdoel: Tihandre Reyneke.
Hugenote (Springs) 24 (14) – Drieë: Arne Pretorius, JJ Lewis, Musa Mahlangu. Doelskoppe: Corné Pretorius (3). Strafdoel: Pretorius. Hoërskool Pietersburg 21 (7) – Drieë: Hardus Otto, Zuhan Labuschagne, Siya Mhlangu. Doelskoppe: Vincent Luckoff (2). Divan Brown.
Die Anker 33 – Drieë: Ruben Herbst (2), Ruan Smith, Paul Schutte, Xander Fraser. Doelskoppe: Ruan Smith (4). Jeugland 33.
Ander spanne:
o.16: Die Anker 31, Jeugland 28; Secunda 53, Lichtenburg 14; Wesvalia 29, Ben Vorster 20; Pietersburg 43, Hugenote 15.
o.15: Die Anker 24, Jeugland 5; Secunda 26, Lichtenburg 12; Ben Vorster 19, Wesvalia 14; Pietersburg 31, Hugenote 5.
o.14: Die Anker 12, Jeugland 0; Lichtenburg 14, Secunda 5; Wesvalia 25, Ben Vorster 14; Pietersburg 48, Hugenote 5.