SuperSport Schools Plus

Liggies skok Hugenote, Buffels baas in Secunda


Die senuwees is omtrent gaar na ál die aksie in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling die afgelope naweek.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

Dié afdeling het vir ‘n paar naelbytstryde gesorg, met slegs één van die vier eerstespankragmetings wat met meer as vyf punte gewen is.

Hoërskool Lichtenburg het een van die afdeling se voorlopers, Hoërskool Hugenote van Springs, op tuisbodem met 27-12 verras.

Dit is die Hugies se tweede agtereenvolgende nederlaag nadat hulle voor die vakansie met 7-36 ook teen Hoërskool Wesvalia vasgeval het.

Die Liggies se buitesenter, Dundre Dempers, het nóg lekker momentum opgebou wat sy persoonlike spelpeil betref en die Hugie-verdedigers ‘n aantal keer gefnuik met sy bedrieglike lopies, wat op twee drieë uitgeloop het.

Voorlangs het die tuisspan se vaskopstut, JJ Jonker, ook gedruk en was sy skrumwerk ook uit die boonste rakke.

Die Hugie-pak het hard gespook om die besoekers op die voorvoet te probeer kry, met verál die twee voorrymanne, Franco Neuhoff (loskopstut) en Luan Pretorius (haker), wat hand opgesteek het. Albei was uiters fisies op sowel die aanval as verdediging en is elk met ‘n drie beloon.

In Secunda het die Buffels van Hoërskool Ben Vorster ook vir ‘n opskudding gesorg deur teen meeste verwagtinge in met ‘n sege van 25-20 oor Hoërskool Secunda huiswaardts te keer.

Die Vossies se voorspelers het vroeg reeds hul stempel afgedruk. Onder leiding van die veelsydige, Ewald Kirstein, het die Tzaneeners ‘n meedoënloos fisiese vertoning gelewer. Dit het die span van Secunda onkant betrap en hulle kon eenvoudig nie weer terugkom in die wedstryd nie.

Potsho Selowa, die Vossies se veelsydige Cravenweek-verteenwoordiger, het gefloreer danksy die momentum wat voorlangs bewerkstellig en die tuisspan deurgaans aan die raai gehou met sy flink voetwerk.

Vir die span van Secunda het linkervleuel, Brink la Grange, vroeg toegeslaan en uiteindelik ‘n welverdiende tweekuns behaal.

In Heidelberg moes die besoekers van Brakpan, Hoërskool Die Anker, alles in die stryd werp om Heidelberg Volkskool met 32-29 te troef. Dit was grootliks danksy linkervleuel, Jonathan Jordaan, en voskopstut, Damian Boshoff, wat elk twee keer gaan druk het.

Die tuisspan se Cravenweek-losskakel, Kayle Venter, het oudergewoonte die toutjies agterlangs meesterlik getrek , terwyl agsteman, Joshua Munro, die vuur voorlangs aangesteek het met sy fisieke spel.

Hoërskool Jeugland het in ‘n wiplankstryd in Polokwane naelskraaps met 27-24 teen Hoërskool Pietersburg geseëvier. Die besoekers se heelagter, Thando Ngomane, wat regdeur die seisoen hand opsteek het, was weer uitstaande en het ‘n briljante driekuns behaal.

Puntemakers: 

Hoërskool Lichtenburg 27 (12) – Drieë: Dundre Dempers (2), Willem van Niekerk, JJ Jonker. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoel: Snyman. Hugenote (Springs) – Drieë: Franco Neuhoff, Luan Pretorius. Doelskoppe: Corne Pretorius (2).

Ben Vorster 25 (7) – Drieë: Makondelele Musekene, Potsho Selowa, Stiaan du Randt. Doelskop: Tihandre Reynecke. Strafdoele: Reynecke (3). Hoërskool Secunda 20 (17) – Drieë: Brink la Grange (2), Bakkies Bezuidenhout. Doelskop: Damian de Beer. Strafdoel: De Beer.

Die Anker 32 (10) – Drieë: Jonathan Jordaan (2), Damian Boshoff (2), Siya Shongwe, Ruan Smith. Doelskop: Ruan Smith. Heidelberg Volkskool 29 (8) – Drieë: Kayle Venter, Joshua Munro, Tiaan Holloway, Marco Botha. Doelskoppe: Kayle Venter (3). Strafdoel: Venter.

Jeugland 27 (14) – Drieë: Thando Ngomane (3). Doelskop: Sinennhlanhla Ndlovu. Strafdoele: Ndlovu (2). Pietersburg 24 (12).

Ander spanne: 

o.16: Hugenote (Springs) 21, Hoërskool Lichtenburg 3; Hoërskool Secunda 24, Ben Vorster 22; Heidelberg Volkskool 67, Die Anker 0; Hoërskool Pietersburg 61, Jeugland 26.

o.15: Hoërskool Lichtenburg 15, Hugenote (Springs) 0; Hoërskool Secunda 21, Ben Vorster 17; Heidelberg Volkskool 29 Die Anker 12; Hoërskool Pietersburg 40, Jeugland 5.

o.14: Hoërskool Lichtenburg 42, Hugenote (Springs) 7; Ben Vorster 31, Hoërskool Secunda 7; Heidelberg Volkskool 18, Die Anker 12; Hoërskool Pietersburg 34, Jeugland 5.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.