SuperSport Schools Plus

Duineveld is vanjaar se Griekwa-kampioen

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-05-19 Tags: ,

FOTO: Erica van Niekerk

Hoërskool Duineveld is gekroon as vanjaar se Griekwa-ligakampioen, nadat hulle die afgelope naweek vir Hoërskool Noord-Kaap met 49-21 in Kimberley kafgedraf het.

Die “Wittes” se ster-losskakel, PJ Smit, en breker op agsteman, Wihan Liebenberg, het elk twee drieë aangeteken in Duineveld se oortuigende sege.

Jaqcuin Jasson, hul staatmaker op heelagter, en die veteraan-flank, Alek Andrianatos, het ook agter die Northerns se doellyn gaan kuier in dié spogsege.

Verlede jaar moes die span van Upington sweet om vir Noord-Kaap met 18-15 te troef, maar vanjaar het Duineveld se eerste span duidelik hul spel na die volgende vlak geneem.

Verlede naweek het hulle ook die spogregte op die dorp verdien met ‘n dramatiese sege van 17-15 in die “Interjol” teen Hoërskool Upington.

Vroeër in die seisoen het hulle vir Hoërskool Kalahari met 38-9 afgeransel, voordat hulle in ‘n rillerstryd teen ‘n sterk Diamantveld-span in Upington met 14-12 geseëvier het.

Die Velties se skrumskakel, Franco Erasmus, het die afgelope naweek weer uitgetroon en het, saam met sy vurige senterpaar, van Gregon Jansen en Xavier Swarts, die span deurentyd op die voorvoet hou.

Kaptein, Arno Luttig, en sy makkers sal op hierdie massiewe momentum wil voortbou wanneer hulle volgende in die Kovsie-uitspeelrondes teen van die sterkste spanne van die Vrystaat- en Griffons-streke te staan kom.

Puntemakers

Duineveld 49 – Drieë: PJ Smit (2), Wihan Liebenberg (2), Alek Andrianatos, Jacquin Jasson. Doelskoppe: Smith (4), AJ Burger. Strafdoele: Smith (3). Hoërskool Noord-Kaap 21 –  Drieë: Lwandle Maseko, Jayden Potgieter, Cayleb Stevens. Doelskoppe: Abdul Fischer (3).

Ander uitslae:

o.19 – Duineveld II 36, Noord-Kaap II 28.

o.16 – Noord-Kaap A 26, Duineveld A 21.

o.15 – Noord-Kaap A 10, Duineveld A 7.

o.14 – Duineveld A 38, Noord-Kaap A 10.

FOTO: Erica van Niekerk
Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.