Arende vlieg hoog in Rustenburg

RUSTENBURG – Bergsig Akademie klop wéér vir Rob Ferreira.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Die Bergsig Arende het vir die tweede agtereenvolgende jaar as oorwinnaars uit die stryd getree teen hul tradisionele aartsvyande, Hoërskool Rob Ferreira. Die Arende het dié drieëfees net-net met 49-43 gewen.
Dit was vanuit die staanspoor duidelik dat albei spanne honger was om aanskoulike, hardlooprugby in die Rolyn Bergsig-sportfees se hoofwedstryd op te dis.
Die tuisspan was blitsig uit die blokke om na skaars ‘n paar minute reeds agter die span van Witrivier se doellyn te gaan kuier. Dit het egter nie vir Rob Ferreira teruggesit nie en die twee spanne het hou vir hou sake uitgespook tot die bittereinde toe.
Die wendrie is uiteindelik deur die Arende se heelagter, Siya Butelezi, aangeteken, toe hy met skaars ‘n minuut oor deurgebreek het om oorwinning vir die tuisspan te verseker. Dit was ook Butelezi se tweede drie.
Steelkantflank, Dewald Potgieter, het self ‘n barshou gespeel en is ook met tweekuns beloon. Potgieter en die res van die pak het ‘n stewige grondslag daargestel vir hul uitblinker in die nr. 10-trui, Luan Duvenhage, om spel uitstekend te dikteer.
Vir die besoekers het hul gereelde agsteman, Tlotlo Ratshwene, uithalerspel gelewer, ál moes hy weens ‘n besering in die middeveld na binnesenter skuif. Daar het hy die Arende se agterlyn deurentyd op hul tone gehou, en het hy onkeerbaar deurgebars vir ‘n welverdiende vyfpunter.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool se Rooiharte het weereens beïndruk met hul sege van 24-10 oor Hoërskool Overkruin in die voorwedstryd. Hul pak het voorlangs die oorhand geniet, met haker, Bauke Swart, wat oudergewoonte in ‘n verwoestende bui was en een van sy span se vier drieë gedruk het.
Agterlangs was dit weer heelagter, Lamond Baaitjies, wat die veld aan die brand gespeel het met sy venynige teenaanvalle, wat ook op ‘n drie vir hom uitgeloop het.
Puntemakers:
Bergsig 49 (27) – Drieë: Dewald Potgieter (2), Siya Butelezi (2), Henno du Preez, Paulo dos Santos, Luan Duvenhage, Alzandro dos Santos, Lundro Scheepers. Doelskoppe: Scheepers, Duvenhage. Rob Ferreira 43 (24) – Drieë: Zander Visser, Jayden Bekker, Lungelo Mokwena, Ofentse Maunye, Tlotlo Ratshwene, Shapard Khoza. Doelskoppe: Maunye (2). Strafdoele: Maunye (3).
Affies (Rooiharte) 24 (17) – Drieë: Bauke Swart, Hein Booysen, Alwyn Maas, Lamond Baaitjies. Doelskoppe: Baaitjies (2). Overkruin 10 (5) – Drieë: Divan Mare, Marnus Rademeyer.