Affies-Rooiharte gaffel Buffels

Afrikaanse Hoër Seunskool se Ronan Cilliers en sy Rooiharte het oor té veel skietgoed beskik vir Hoërskool Ben Vorster op die eerste dag van die Rolyn Bergsig-sportfees.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Cilliers het die manne van Tzaneen deurgaans onder enorme druk geplaas met sy goeie voorgevoel en visie.
Dit was verál in die tweede helfte dat die losskakel, wat self twee drieë gedruk het, voet in die hoek gesit het vir die Pretorianers om ‘n agterstand van vyf punte uit te wis en uiteindelik oortuigend met 45-29 te seëvier.
Heelagter, Lamon Baaitjies, het, nes Cilliers, deurentyd ‘n bedreiging ingehou vir die Buffel-verdedigers, vernaam wat sy giftige teenaanvalle betref het. Een so ‘n venynige lopie het vir hom ook ‘n drie besorg.
Die Affie-voorry het ook hul stempel afgedruk om die grondslag te lê vir die snellers in die agterlyn. Haker, Bauke Swart, en vaskop, Ruan van der Berg, het uitgeblink in sowel die vaste fasette as vaste los.
Die Buffels se puik poging in die eerste skof het nietemin gewys waartoe hulle in staat is. Skrumskakel, Pontsho Selowa, was uitmuntend met sy breekslae om die skrums en losskrums. Hy is goed bygestaan deur die twee vleuels, Nikelo Moyo en Damian Bye, wat elk met ‘n vyfpunter beloon is.
In die voorwedstryd van Dag 1 was Hoërskool Rob Ferreira ook net-net té goed vir Hoërskool Centurion. Die span van Witrivier, wat met 47-33 gewen het, se pak het behoorlik gewoeker voorlangs en dit was waar die stryd gewen is.
Oopkantflank, Lungelo Mokwena, en agsteman, Tlotlo Ratshwene, was die groot uitblinkers. Eersgenoemde het twee keer deurgebars vir drieë, terwyl Ratshwene as Speler van die Wedstryd aangewys is.
Die Woeries se heelagter, Waldo Koeleman, het ‘n waardige terugvegpoging gelei, en met sy groot vaart en krag van agter die verdediging skitterend uitoorlê vir ‘n driekuns. Binnesenter, Jayden Potgieter, het twee doelskoppe en drie strafdoele deur die pale gejaag.
Puntemakers:
Affies (Rooiharte) 45 (12) – Drieë: Ronan Cilliers (2), Lamond Baaitjies, Bauke Swart, Ruan van der Berg, Reynard Bezuidenhout, Elwin Janse van Vuuren. Doelskoppe: Baaitjies (5). Ben Vorster 29 (17) – Drieë: Tumi Ramohale, 14 Nikelo Moyo, Damian Bye. Doelskoppe: Shelton Primo. Strafdoel: Primo.
Rob Ferreira 47 (28) – Drieë: Lungelo Mokwena (2), Mayare Mbatsane (2), Bandile Zwane (2), Will Mavimselo. Doelskoppe: Ofentse Maunye (5), Bundas Masunda. Centurion 33 (13) – Drieë: Waldo Koeleman (3), Charl Prinsloo. Doelskoppe: Jayden Potgieter (2). Strafdoele: Potgieter (3).