SuperSport Schools Plus

Welkom Gimmies wen wipplankstryd

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-29 Tags: , , ,

FOTO: Ilsé Photography

Welkom Gimnasium en Voortrekker was in ‘n verbete wipplankstryd gewikkel verlede Saterdag in Bethlehem, met die besoekers wat uiteindelik die wa met 26-24 kon deurtrek.

Verlede jaar in Welkom was daar slegs drie punte verskil tussen die twee spanne in die eindstryd van die Griffons-liga, met die Gimmies wat met 29-26 op hul tuisveld gewen het. Toe hulle mekaar vroeër in 2023 ontmoet het, het die Gimmies heelwat makliker met 43-8 geseëvier.

Die afgelope Saterdag het slegs twee punte die twee opwindende spanne geskei en die tafel gedek vir ‘n nóg ‘n titaniese stryd indien die twee mekaar weer in die uitkloprondes ontmoet.

Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Die Trekkers het Saterdag alles op die veld gelos en met slegs drie minute oor het hulle nog met ‘n 24-19 voorgeloop. Dit was toe die Gimmie-flank, Rylen Kirsten, soos ‘n wafferse vleuel langs die kantlyn af genael en vir Terence Tsolo uitgegee het om oor te duik vir die gelykmakende drie.

Ronaldo Kiewiet het doodkalm verdoel om die oorwinning te beklink. Kiewiet het ‘n beduidende rol in die spogsege gespeel met ‘n drie van sy eie en drie doelskoppe.

Christiaan van der Sandt, die lewendige klein skrumskakel van Bethlehem, het die eerste punte aangeteken met ‘n strafdoel na 10 minute, waarna haker, Kananelo Tutubala, vir die Gimmies laat voorloop het met die eerste drie van die wedstryd.

Kamohelo Moses het egter geantwoord met die Trekkers se eerste drie, en daarna moes die span van Welkom vir grootste gedeelte van die kragmeting inhaalrugby speel. Moses het verlede jaar in altwee hul wedstryde in Welkom ook daarin geslaag om die Gimmie verdediging oop te sluit.

Nog ‘n drie deur buitesenter, Frederik Fourie, het aan die tuisspan ‘n taamlike buffer verskaf, maar die besoekers het nietemin goed gevaar om binne trefafstand te bly. Met 20 minute se speeltyd oor het Welkom vir ‘n oomblik weer die voortou geneem, maar Kaneng Komane, nog ‘n speler wat verlede jaar reeds teen Welkom Gim bresse in die verdediging kon slaan, het weer gedruk om sy span voor te plaas met slegs sewe minute oor.

Die tuisspan se pak het voorlangs uiters hard gewerk, met haker, Arnold Ras, en die groot stut, Cecil Parsons, wat meer as hul deel bygedra het. Hulle het egter ‘n paar gulde geleenthede deur die vingers laat glip, terwyl die Welkom-seuns hul kanse aangegryp het vir ‘n waardevolle wen voor die Absa Wildeklawer-toernooi in Kimberley.

Gimmies kom Donderdag teen HTS Drostdy te staan, en Saterdag toets hulle hulself teen Framesby.

Intussen het Hoërskool Trio vir Goudveld met 21-5 verslaan na ‘n klipharde stryd in Welkom. Losskakel, Byron Bienas, het weer puik vertoon en 11 van sy span se punte aangeteken.

Puntemakers:

Welkom Gimnasium 26 (7)  – Drieë: Terence Tsolo, Ronaldo Kiewiet, Dyllan Kemp, Kananelo Tutubala. Doelskoppe: Kiewiet (3). Voortrekker 24 (10) – Drieë: Kamohelo Moses, Frederik Fourie, Kaneng Komane. Doelskoppe: Christiaan van der Sandt (3). Strafdoel: Van der Sandt.

Hoërskool Trio 21 (14) – Drieë: Franco de Wet, Juandre Voster, Byron Bienas. Doelskoppe: Bienas (3). Goudveld 5 (5) – Drie: Keagan Frankenfeld.

Witteberg 30 – Drieë: Jacques van der Merwe (2), Tshepo Motloung (2), Sydwell Sethi. Doelskop: Llewellyn Beukes. Strafdoel: Beukes. Hentie Cilliers 24 – Drieë: Mosa Sesedi, Ashwon Mellon, Xander Whiltshire, Megael Dawids. Doelskoppe: Rorisang Marumo, Dawids.

Jim Fouché 47 – Drieë: Bendré Vermaak, Christian Strydom, Kay Dinn Langley, Brenden de Wee, Franco Oberholzer, Qian Moller, Heinrich Hatting. Doelskoppe: Strydom (4). HTS Louis Botha 10 – Drieë: Phiwe Mkunjana, Refilwe Moletung.

 

Ander tellings:

o. 19 – Hoërskool Burgersdorp 1ste XV 18, Sentraal 1ste XV 7; Paul Erasmus 1ste XV 15, Ficksburg 1ste XV 13; Welkom Gimnasium II 14, Voortrekker II 10; Welkom Gimnasium III 17, Voortrekker III 13; Trio II 12, Goudveld II 8; Trio III 14, Goudveld III 14.

o. 16 – Voortrekker A 27, Welkom Gimnasium A 25; Welkom Gimnasium B 20, Voortrekker B 5; Trio A 24, Goudveld A 10; Trio B 7, Goudveld B 5;

o. 15 – Voortrekker A 28, Welkom Gimnasium A 5; Welkom Gimnasium B 10, Voortrekker B 7; Trio A 52, Goudveld A 0; Trio B 62, Goudveld B 0;

o. 14 – Voortrekker A 35, Welkom Gimnasium A 7; Voortrekker B 22, Welkom Gimnasium B 12; Trio A 34, Goudveld A 0;

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.