Wie is die woesste in Worcester?

Daar wag ‘n titaniese stryd op Trappespark, Woensdagaand, wanneer HTS Drostdy en Worcester Gimnasium sake uitspook vir die spogregte nadat die buurskole mekaar in 2017 laas gepak het
Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Voor die onderbreking van sewe jaar het die interskole jaarliks groot opwinding in die dorp gebied, met die Drostdy “Donkies” wat vir ‘n geruime tydperk die bepaling kon domineer.
Die “Bosvarke” het laas in 2015 met die louere weggestap, toe Jeshua Paul in die doodsnikke gedruk en Adriaan van der Bank verdoel het om ‘n geskiedkundige sege van 20-18 aan die Gimmies te besorg.
In 2016 en 2017 was Drostdy weer baas en hulle lyk oorgehaal om hul stempel onmiddelik af te druk wanneer die twee spanne vanaand weer hul wedywering hervat.
Vroeër vanjaar het die twee spanne die geleentheid gehad om mekaar onder oë te kry by die Drostdy-sportdag, waar hulle albei spiere gebult het teen Melkbosstrand en Schoonspruit. Die Donkies het egter meer indrukwekkend vertoon in hul wedstryde, met wegholseges van 65-0 en en 35-5 oor onderskeidelik die Melkies en Schoonspruit.
Die Bosvarke se onderskeie seges van 17-12 teen Schoonspruit en 15-5 teen Melkbosstrand het harder werk geverg, maar hulle het sedertdien gewys dat hulle juis ‘n span is wat onder druk floreer.
By die Kearsney Paas-toernooi het die Gimmies sprankelrugby tentoongestel met spogseges oor Hoërskool Rustenburg (26-25) en Marlow Landbou (38-37), voordat hulle net-net teen Framesby vasgeval het met 34-36.
Verlede naweek het Hugenote vasgeklou om met 31-28 te wen, nadat die Gimmies stadig begin het maar teen die einde van die kragmeting sterk teruggekom het.
Drostdy het egter vroeër vandeesmaand vir Hugenote met 46-10 afgeransel, en na nóg ‘n indrukwekkende vertoning teen Framesby (22-5), asook ‘n afnaweek, behoort die Donkies slaggereed te wees vir die stryd wat wag.
Kaptein, MJ van der Westhuizen, en sy makkers sal die Gimmies van die eerste afskop af wil probeer oordonder voorlangs, om te verhoed dat hulle hul spelpatrone agterlangs kan uitvoer. Bernedict George en Ajay Skippers is twee van die gevaarmanne in die agterlyn om dop te hou.
Nege spelers het verlede jaar reeds Drostdy se eerstespan verteenwoordig en hulle sal op die ervare kerngroep staatmaak om ‘n herhaling van 2015 te verhoed.
Met opwindende spelers soos Lorenzo Harmse, Luke Cupido en Amaan Adendorff in hul midde, asook die ekstra motivering wat ‘n plaaslike derby soos hierdie bied, ly dit egter geen twyfel dat die Gimmies ook vasberade is vir die stryd nie.
HTS Drostdy t. Worcester Gimnasium om 17:10:
HTS Drostdy: 15 Hareld Mbuqa, 14 Adrian Vergotine, 13 Aljay Skippers, 12 Josh Fourie, 11 Bernedict George, 10 Stefan van der Merwe, 9 Caleb Cornett, 8 MJ van der Westhuizen, 7 Darius Venter, 6 Gerhard le Roux, 5 Marcus Lee, 4 Pietie Erasmus, 3 Tertius Wantenaar, 2 Daniel Mellet, 1 WJ Visagie.
Worcester Gimnasium: 15 Lorenzo Harmse, 14 Vuyolwethu Bavuma, 13 Breyton Cupido, 12 Lukewin van Heerden, 11 Elrenzo Swarts, 10 Aiden Abrahams, 9 Luke Cupido, 8 Jayd-Will de Klerk, 7 Waylan Pienaar, 6 Valentino Nomadluka, 5 Joshua Coetzee, 4 Chris O’Neill, 3 Wilfred Slingers, 2 Armand Croeser, 1 Amaan Adendorff.
Die bepalings:
Trappespark: 14:15 – HTS Drostdy o. 15 A t. Worcester Gimnasium o. 15 A; 15:55 – HTS Drostdy o. 16 A t. Worcester Gimnasium o. 16 A; 17:10 – HTS Drostdy 1ste XV t. Worcester Gimnasium 1ste XV.
Steelkant: 14:45 – HTS Drostdy o. 14 A t. Worcester Gimnasium o. 14 A.