SuperSport Schools Plus

Onafgehandelde sake tussen Oakdale en Stellies

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-12 Tags: , , , , , ,

Stellenberg en Oakdale Landbou het ‘n appeltjie met mekaar te skil, en hierdie naweek kry hulle die kans om die sakie op Riversdal af te handel.

Nadat die twee spanne verlede jaar gelykop gespeel het in die Kaap, sal albei oorgehaal wees om hierdie naweek die spogreg vir hul skool te verseker tot volgende jaar.

Beleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

In 2023 het Stellenberg in die doodsnikke gedruk om die telling gelyk te laat trek op 13-13, en toe die doelskop misluk het was dit duidelik dat vanjaar se kragmeting ‘n bepalende hoogtepunt op albei spanne se roosters sou wees.

Oakdale was blink uit die blokke hierdie seisoen, met ‘n paar indrukwekkende vroeë seges oor Rondebosch Boys’ High (17-13), Garsfontein (23-17) en Helpmekaar (41-24).

Verlede naweek het die boere egter met 10-19 vasgeval teen die Hoër Jongenskool Paarl , so hulle sal uitsien na die geleentheid om weer terug te keer na die wenpad toe.

Die Jade Brigade het ‘n reeks uiters strawwe bepalings agter die rug en hierdie naweek in Riversdal gaan geensins makliker wees nie.

Verlede Saterdag het hulle naelskraaps met 22-24 teen SACS verloor, maar ‘n goeie vertoning hierdie naweek sal help om daardie nederlaag agter hulle te sit.

Hulle toer egter sonder ster-heelagter, Dehan Neethling, wat in die vorige wedstryd ‘n besering opgedoen het. Marco Staples neem sy plek in die laaste vesting in, terwyl skrumskakel Carl van Eden ook geleentheid kry om in die no. 9-trui te begin.

Die tuisspan sal verlig wees om heelagter, Waylon Kortjie, terug te hê, nadat hy verlede naweek op die reserwebank moes begin.

Dit is die enigste verandering in die span wat teen Boishaai uitgedraf het en die Oakdale-bulle sal uitsien na die kans om te vergoed vir daardie terugslag.

Intussen vind daar ook ‘n derby plaas tussen Langenhoven Gimnasium van Oudtshoorn en Hoërskool Langenhoven in Riversdal, terwyl Montagu en Worcester Gimnasium vir Hoërskool Oudtshoorn en Hoërskool Punt pak.

Oakdale Landbou t. Stellenberg om 13:10:

Oakdale Landbou: 15 Waylon Kortjie, 14 Reinhardt Viljoen, 13 Lee-Winn Pretorius, 12 Kurt Coetzee, 11 Duraan Janse van Rensburg, 10 CT Vosloo, 9 Jandrian Goosen, 8 Erick Steyn, 7 Jannes Snyman, 6 Zack Wessels, 5 Roy Viljoen, 4 Ruan Swart, 3 Tiaan Turck, 2 Gustav van der Merwe, 1 Kai Pratt.

Stellenberg: 15 Marco Staples, 14 Keagan Moses, 13 Luka Tonitz, 12 Ruben Pretorius, 11 Luc Cilliers, 10 Eben Rademan, 9 Carl van Eden, 8 Stefan Visser, 7 Remi September, 6 Alex Schoeman, 5 Dale du Toit, 4 Zian Erasmus, 3 Ryk Groenewald, 2 Almero Keizer, 1 Dean Janse van Rensburg.

Ander bepalings

o. 19: 13:40 –Hoërskool Punt t. Worcester Gimnasium; 12:15 – Montagu t. Oudtshoorn; 12:10 – Langenhoven Gimnasium t. Hoërskool Langenhoven.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.