Brakkies meer as bloot blaf

Hoërskool Brackenfell het hul indrukwekkende spelpeil die afgelope naweek voortgesit toe hulle die partytjie met 25-17 bederf het vir Hoërskool Bellville in die hoofwedstryd van die Margaret Pansegrouw Sportdag.
Die Brakkies se pak het hard gewerk om voorlangs die oorhand teen die gasheerspan te verkry, met vaskopstut, Graigan Matroos, wat oorgebars het vir twee drieë.
Die groot agsteman, Wade Fortuin, het ook ‘n drie agter sy naam geplaas, terwyl hul spelbreker op losskakel, Junior Louw, weer die opposisie gestraf het met sy geoefende skopskoen.
Louw het vroeër vanjaar, by Brackenfell se sportdag, al sy span se punte aangeteken met vyf strafdoele in hul naelbytsege van 15-14 oor Hoërskool Hopefield.
Dominic Adams kon twee pragdrieë vir die tuisspan aanteken, maar dit was nie genoeg om die Brakkies te stuit nie.
In die voorlaaste wedstryd van die dag het Hoërskool Porterville ‘n massiewe stelling gemaak teen Hoërskool Melkbosstrand.
Die plattelanders het agter die Melkies se doellyn geboer om met 55-0 as oorwinaars uit die stryd te tree. Howard Ocks, Marvin Lee Benjemin en Keanu Plaatjies het elkeen twee drieë gedruk, terwyl Ocks nog 10 punte bygedra het met doelskoppe.
Porterville het ‘n strawwe voorseisoen agter die rug. By hul jaarlikse Bulfees het hulle teen Hoër Jongenskool Paarl se derdes verloor, en by die Paul Roos-rugbyfees moes hulle die knie buig teen HTS Daniel Pienaar en Hoërskool Tygerberg. Hulle het egter ‘n indrukwekkende sege teen Hoërskool Durbanville se tweedes behaal by die Wynberg Rugbyfees, en nou pluk hulle die vrugte van hul harde arbeid in die voorseisoen.
Puntemakers:
Hoërskool Brackenfell 25 – Drieë: Graigan Matroos (2), Wade Fortuin. Doelskoppe: Junior Louw (2). Strafdoelle: Louw (2). Hoërskool Bellville 17 – Drieë: Dominic Adams (2), Willick de Klerk. Doelskop: Ashwin Cox.
Hoërskool Porterville 55 – Drieë: Howard Ocks (2), Marvin Lee Benjemin (2), Keanu Plaatjies (2), Llewellyn Fransman, Gideon Kroon, Dandre Killian. Doelskoppe: Ocks (5). Hoërskool Melkbosstrand 0.
Uitslae:
o. 19 – Tygerberg 17, Hermanus 15; Bellville II 34, Brackenfell 7; Jan van Riebeeck 24, Tygerberg II 3; Dirkie Uys 10, Swellendam 0; Westcliff 29, Curro Hermanus 7; Bellville III 12, Brackenfell III 7; Bonnievale 34, Weskusskool 0;
o. 16 – Bellville 34, Brackenfell 19; Bellville B 51, Brackenfell B 7; Hermanus 82, Swellendam 0; Tygerberg 23, Porterville 7; Melkbosstrand 25, Dirkie Uys 5; Tygerberg 31, Egdemead 12.
o. 15 – Bellville 41, Brackenfell 3; Bellville B 14, Brackenfell B 7; Jan van Riebeeck 21, Bellville B 17; Tygerberg B 19, Dirkie Uys 8; Tygerberg 12, Porterville 7; Swellendam 31, Edgemead 0; Bellville C 23, Westcliff 17; Melkbosstrand 22, Hermanus 0; Bonnievale 15, Tygerberg C 5.
o. 14 – Brackenfell 19, Bellville 5; Bellville 5, Brackenfell 5; Eddgemead 24, Curro Hermanus 15; Jan van Riebeeck 21, Melkbosstrand 21 Tygerberg 47, Hermanus 0.