Punt maak skoonskip by Arthur Johnson-week

Hoërskool Punt het einde Maart hulself deeglik laat geld by die jaarlikse Arthur Johnson-sportweek in Mosselbaai.
Dit was die 43ste keer dat die spogbyeenkoms in die Suid-Kaap aangebied is.
Skole van regoor die land het rugby-, hokkie- en netbalspanne gestuur om aan die byeenkoms deel te neem, maar daar was vanjaar niemand wat by die tuisskool kon kers vashou nie. Punt het skoonskip gemaak in die senior afdelings om in al vier sportsoorte as kampioene gekroon te word.
Die o. 19 A-rugbyspan het nie ‘n enkele teenstander oor hul doellyn gelaat gedurende hul drie wedstryde nie, terwyl hulle self die tuisondersteuners vergas het op 13 pragdrieë.
In hul eerste uitstappie het Punt vir Hoërskool Vredendal op ‘n drafstap met 24-3 verslaan. Daarna was daar eenvoudig geen keer aan die span van Mosselbaai nie en het hulle ook wegholseges oor Hoërskole Aliwal-Noord en Paul Erasmus behaal.
Vredendal het nietemin goed herstel om vir Hoërskool Adamantia, van Kimberley, met 32-0 af te stof, voordat hulle die toernooi afgesluit het met ‘n rillerstryd teen Aliwal-Noord, waar hulle net-net met 10-5 kon seëvier.
Aliwal-Noord moes met 6-33 die aftog blaas teen Punt, maar die Aliwal-Noord “Buffels” het goed gevaar om die tuisspan in die eerste helfte taamlik opdraande te gee. Teen lemoentyd was die kragmeting nog wawyd oop.
Punt het egter in die tweede helfte totale beheer oorgeneem en drieë deur Wikus Smit (haker), Gabriel Hinkman (vleuel), Henro Kuhn (flank), Dean Vorster (flank) en Keanu Oktober (losskakel) het die tuisspan se uiteindelike oorheersing onderstreep.
Oktober was een van Punt se top-puntemakers en het in al drie hul wedstryde uitgeblink om ‘n vername bydrae te lewer tot die span se sukses.
Hoërskool Hopetown se eerstespan het hard geswoeg om ook die byeenkoms met ‘n wenrekord van 100% te voltooi, en kon uiteindelik welverdiend met Curro Mosselbaai (12-0), Hoërskool Middelburg (17-15) en Hoërskool Wolmaransstad (17-13) afreken.
Na afloop van die byeenkoms is daar ‘n groep van 70 seuns aangewys wat teen die einde van die jaar na die eiland van Malta sal toer.
Puntemakers:
Hoërskool Punt 31 – Drieë: Keanu Oktober, Jeandre Pieterse, Gabriel Hinkman, Dailen Daniels, Henro Kuhn. Doelskoppe: MC Barnard, October. Hoërskool Paul Erasmus 0.
Hoërskool Punt 33 – Drieë: Wikus Smit, Gabriel Hinkman, Henro Kuhn, Dean Vorster, Keanu Oktober. Doelskoppe: Oktober (4). Hoërskool Aliwal-Noord 6.
Hoërskool Punt 24 – Drieë: Wikus Smit, Keanu Oktober, Anton Lombaard. Strafdoele: Oktober (3). Hoërskool Vredendal 3.
Al die uitslae
Dag 1
o. 19 – Punt 24, Vredendal 3; Hopetown 12, Curro Mosselbaai 0; Aliwal-Noord 26, Adamantia 5; Grens 47, Douglas 10; Stella 5, Hillcrest Sekondêr 0; Curro Langebaan 7, Wolmaransstad 7; Paul Erasmus 7, Hartbeespoort 0; Pro-Ed Akademie 25, Kirkwood 5; Hartswater 19, Hoërskool Middelburg 10.
o. 16 – Punt 19, Duineveld 14; Strand 14, Swartland 0.
Dag 2
o. 19 – Punt 33, Aliwal-Noord 6; Pro-Ed Akademie 29, Grens 5; Paul Erasmus 48, Stella 10; Curro Langebaan 21, Punt II 5; Hopetown 17, Hoërskool Middelburg 15; Wolmaransstad 10, Hartswater 5; Hartbeespoort 17, Curro Mosselbaai 6; Vredendal 32, Adamantia 0; Kirkwood 26, Douglas 19.
o. 16 – Strand 24, Punt 12; Swartland 20, Duineveld 7.
Dag 3
o. 19 – Punt 31, Paul Erasmus 0; Douglas 3, Hoërskool Middelburg 0; Hopetown 17, Wolmaransstad 13; Grens 19, Kirkwood 10; Adamantia 31, Stella 5; Vredendal 10, Aliwal-Noord 5; Hartbeespoort 7, Hartswater 5; Curro Langebaan 21, Curro Mosselbaai 6.
o. 16 – Punt 0, Swartland 0; Strand 14, Duineveld 7.