SuperSport Schools Plus

Die groot honde ontwaak vir die 2024-seisoen

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-03-10 Tags: , , , , , , , , , ,

MATTHEW BERGMAN, losskakel van EG Jansen, duik hier sierlik oor die doellyn vir een van sy span se drieë in hul oortuigende sege van 85-3 oor Kempton Park in die NWU Sport-reeks. FOTO: Tap Light Edits

KEMPTON PARK. – Meeste van die groot honde het ontwaak en die skolerugbyseisoen van 2024 beloof om weer vir hope opwinding te sorg.

Die Hoër Jongenskool Paarl het behoorlik wraak tydens die jaarlikse Porterville Bulfees oor die Hoërskool Durbanville geneem. Boishaai het sy nederlaag verlede jaar op die einste sportdag met 73-7 gewreek.

Die Durbies het verlede jaar geskiedenis gemaak deur Boishaai met 26-25 te troef.

Noordheuwel het ook die bordjies teen Outeniqua op laasgenoemde sportdag met 28-19 verhang. Die Nories se buitesenter, Cheswill Jooste, was soos gewoonlik giftig.

Die Kwaggas was verlede jaar tydens hul Eeufees-vieringe met 18-14 oor die besoekers van Krugersdorp baas.

Framesby het ook ‘n welcome terugkeer in George gemaak en Brackenfell met 31-12 verslaan. Die span van die Baai se losskakel, Logan Muller, sal vanjaar weer spanne met sy skopvoet op die agtervoet plaas.

Oakdale Landbou het sy seisoen met ‘n klinkende sege van 40-0 oor Ligbron Akademie afgeskop. Die span se buitesenter, Kurt Coetzee, het 15 punte tot sy span se totaal via ‘n drie en vyf doelskoppe bygedra.

In die eerste ronde van die NWU Sport-reeks was daar heelwat drama.

Die Hoërskool Nelspruit se agtsteman, Vaughn van Zyl, het met ongeveer drie minute oor in sy span se kragmeting teen Hoërskool Middelburg oorgeduik om aan sy span die voorsprong te gee.

Nelspruit se Rhinos het die kragmeting met 32-26 gewen.

In Vanderbijlpark was dit danksy ‘n strafdoel in die doodsnikke deur HTS Middelburg se heelagter, Jacque Stassen, wat aan sy span ‘n sege van 20-19 oor Transvalia besorg het.

EG Jansen het met ‘n sege van 85-3 oor Kempton Park sy spiere behoorlik gebult. Dit was veral die buitesenter, Juandré Jacobs, asook die linkervleuel, Keanu van Loggerenberg, wat Kempies se verdediging probleme besorg het.

Menlopark moes so ietwat sweet om Eldoraigne met 25-19 die loef af te steek.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het sy seisoen met ‘n sege van 33-10 oor Diamantveld aan die gang gekry.

Dit was veral die stryd tussen Affies se SA Skole-binnesenter, Janco Purchase, en sy direkte teenstander, Simon Liversage, wat vir heelwat opwinding gesorg het.

Affies se losskakel, Ruben Pienaar, het egter meeste van die aandag gegryp danksy sy skitterende skopwerk. Hy het Diamonds danksy sy skopwerk en ‘n hele paar 50/22-skoppe in hul gebied vasgepen gehou.

Helpmekaar het ‘n strawwe eerste kragmeting weg. Die span van Johannesburg het vir Michaelhouse met 10-7 geklop.

‘n Sege oor die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort se Foxies op hul jaarlikse Pieter Swanepoel-sportdag is so skaars soos hoendertande.

Wessel Maree van Odendaalsrus het dit egter met ‘n naelskraapse sege van 13-12 vermag.

In Springs het Hugenote op sy tuisveld die verdedigende kampioen, Noordheuwel, se kanse op vanjaar se NWU Prestige-reeks titel ‘n reuse slag toegedien.

Hugenote het met 28-10 in die kragmeting koning gekraai. Die Nories moes Saterdag ‘n besluit neem of hulle met hul eerstekeuse spelers teen Outeniqua in George sou uitdraf of teen Hugenote in Springs.

Die kragmeting in George het voorkeur geniet, hoewel die NWU Prestige-reeks kragmeting ook ‘n eerstespan-wedstryd was.

Al die uitslae:

KWAGGA SPORTDAG

Noordheuwel 28, Outeniqua 19; Framesby 31, Brackenfell 12; Oakdale Landbou 40, Ligbron Akademie 0; Worcester Gimnasium 19, Langenhoven Gimnasium 0; Hermanus 13, Hoërskool Punt 0; Pearson 71, Bredasdorp 7; Parel Vallei 25, Oudtshoorn 7.

KWAZULU-NATAL

Kearsney College 16, Maritzburg College 14; Helpmekaar 10, Michaelhouse 7; Welkom Gimnasium 26, Glenwood 21.

NWU SPORT-REEKS

Hoërskool Nelspruit 32, Hoërskool Middelburg 26; Menlopark 25, Eldoraigne 19; EG Jansen 85, Kempton Park 3; HTS Middelburg 20, Transvalia 19.

NWU PRESTIGE-REEKS

Hugenote (Springs) 28, Noordheuwel 10; Hoërskool Klerskdorp 19, Heidelberg Volkskool 19; Wesvalia 31, Montana 21; Hoërskool Rustenburg 48, Oosterlig 8; Jeugland 38, Zwartkop 14; Marais Viljoen 28, Potchefstroom Volkskool 17.

NWU 16-REEKS

Wolmaransstad 28, Vryburg 24; Stoffberg 20, Delmas 20; Fochville 51, Schoonspruit 17; Hans Strijdom 20, Leeuwenhof 8; Riebeeckrand 38, Ben Viljoen 31; Sarel Cilliers (Glencoe) 62, Volksrust 3; Pretoria-Noord 36, Oosterland 7.

NOORDVAAL

Affies 33, Diamantveld 10; Hoërskool Pietersburg 23, Die Anker 17; Lichtenburg 39, Potchefstroom Gimnasium 19; Merensky 49, Frans du Toit 14; Bergsig Akademie 47, Hoogenhout 0; Ben Vorster 41, Lydenburg 21; Monument II 52, Ermelo 0; Overkruin 67, Centurion 14; Dr. Malan 24, Dinamika 22; Wonderboom 23, Hoërskool Alberton 19; Zayo Academy 48, Menlopark XV 5; Brandwag (Benoni) 65, Birchleigh 0; St Alban’s College 36, Sutherland 6; Hartebeespoort 26, Bekker 5; Frikkie Meyer 31, Die Wilgers 13; Piet Retief 41, Standerton 7; Northern Academy 41, Nylstroom 7; HTS John Vorster 16, HTS Tom Naudé 12; Midstream College 18, Cornwall Hill College 18.

OOS-KAAP

St Andrew’s College 24, Nico Malan 21; Marlow Landbou 16, Duineveld 5; Queen’s College 29, Stirling 3; Brandwag (Uitenhage) 36, HTS Port Rex 12; Lilyfontein 42, Aliwal-Noord 3; Cathcart 24, Stutterheim 10; Brandwag (Uitenhage) 33, Hangklip 7; Despatch 19, Union 0.

PIETER SWANEPOEL SPORTDAG

Wessel Maree 13, Brandfort 12; Bothaville 34, Hendrik Potgieter 22; Parys 24, St Andrews 19; Vaalpark 10, Sandveld 5; Ficksburg 12, Grey-kollege VI 15; Ladybrand 31, President Steyn 7; Sand du Plessis 0, Grey College V 76; Hoërskool Bloemfontein 26, Winburg 0; Louis Botha 0, Grey College IV 26.

VRYSTAAT/GRIEKWAS

Noord-Kaap 29, Landboudal 20; Hentie Cilliers 53, HTS Sasolburg 3; Hoopstad 52, Kalahari 14; Douglas 14, Postmasburg 12; Hennenman 19, Paul Erasmus (Senekal) 14; Hopetown 52, Kalahari II 14; Curro Kathu 21, Bultfontein 0; Affies II 38, Hoërskool Upington 10; Hartswater 20, Kathu 13.

WES-KAAP

Hoër Jongenskool Paarl 73, Hoërskool Durbanville 7; Overberg 21, Piketberg 12; Boishaai II 40, Porterville 8; Boland Landbou 29, Milnerton 18; HTS Bellville 38, Monumentpark 17; DF Malan 12, Melkbosstrand 5.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.