SuperSport Schools Plus

Northerns vra die regte “Vraagom” om Lanties te laat struikel

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-03-10 Tags: , , ,

FOTO: Marnus Prinsloo (2023)

Hoërskool Noord-Kaap het Saterdag, danksy ‘n speler-van-die-wedstryd vertoning deur hul vurige flank, Ambijorn Vraagom, vir Landboudal met 29-20 gekasty by die jaarlikse Lantiefees.

Die spelers het na die wedstryd ook die voorreg gehad om te kan kyk hoe die Suzuki Griekwas en Toyota Cheetahs mekaar pak op dieselfde veld waar hulle oomblikke vantevore self in aksie was.

Die spanne het ‘n skouspel gelewer vir die rugbyliefhebbers van Jacobsdal, met die Griekwas wat met 25-22 as oorwinnaars uit daardie wedstryd getree het.

In die eerstepan-kragmeting het Landboudal teen halftyd die oorhand geniet met twee drieë teenoor die een van die besoekers, maar Vraagom se vermoeë om oor die voordeellyn te kom het sy span op die voorvoet gesit na die breuk.

Sy flank-spanmaat aan die ander kant van die skrum, Tyron China, het ook ‘n drie tot sy naam gevoeg, en Jonaden Links (heelagter) en Bjorn Olifinger (vleuel) was beloon vir hul harde werk met ‘n drie elk.

Die Lanties se punte het grotendeels uit die voorspelers gekom. Brink Bruwer (flank), Ruan van Bosch (stut) en Juhan van der Wethuizen (agsteman) het die drieë vir die span van Jacobsdal gedruk en die heelagter, Marius Etzebeth het die res van hul punte met sy stewel bygedra.

Volgende naweek speel die Northerns teen HTS Louis Botha in Bloemfontein. Noord-Kaap behoort die gunstelinge te wees in daardie ontmoeting, maar dit lyk soos ‘n splinternuwe Louis Botha span hierdie jaar en hulle moet glad nie onderskat word nie.

Intussen het Hentie Cilliers van Virginia ook ‘n indrukwekkende sege in Sasolburg oor HTS Sasolburg behaal. Die vleuel, Xander Wiltshire, kon twee keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier in hul sege van 53-3.

Puntemakers:

Hoërskool Noord-Kaap 29 (5) – Drieë: Ambijorn Vraagom (2), Jonaden Links, Tyron China, Bjorn Olifinger. Doelskoppe: Abdul Fischer (2). Landboudal 20 (12) – Drieë: Brink Bruwer, Ruan van Bosch, Juhan van der Westhuizen. Doelskop: Marius Etzebeth. Strafdoel: Etzebeth.

Hentie Cilliers 53 – Drieë: Xander Wiltshire (2), Joze Draaghoender, Awethu Khilani, Khamo Pumo, Mosa Sesedi, Lebo Lesito, Meguel Davids, Jinx Mantile. Doelskoppe: Rorisang Marumo (2), Draaghoender, Pumo. HTS Sasolburg 3 – Strafdoel: Thato Morake.

Ander spanne: 

o.16: Landboudal 24, Noord-Kaap 7; Hentie Cilliers 59, HTS Sasolburg 0.

o.15: Noord-Kaap 15, Landboudal 3; Hentie Cilliers 21, HTS Sasolburg 5.

o.14: Landboudal 29, Noord-Kaap 7; Hentie Cilliers 46, HTS Sasolburg 0.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.