SuperSport Schools Plus

Wessel Maree steel kollig by Pieter Swanepoel-sportdag


Die jaarlikse Pieter Swanepoel-sportdag by Hoërskool SPS Brandfort het die afgelope naweek oudergewoonte gesorg vir heerlike plattelandse rugby uit die boonste rakke.

Die hoofwedstryd het ‘n klipharde stryd afgegee tussen die manne van Brandfort se groot krag voorlangs en Wessel Maree Hoërskool se opwindende, aanvallende benadering agterlangs. Die besoekers het in die doodsnikke daarin geslaag om die wendrie te druk, en sodoende hul gashere met 16-12 te troef.

Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd.

SPS Brandfort het die enigste drie in die eerste helfte aangeteken, deur haker, Xander van Heerden.

Met albei skole wat rotsvas was op die verdediging, het Wessel Maree wyslik besluit om punte te vat waar hulle dit ookal kon kry, soos ‘n waardevolle strafdoel deur agsteman, Ntute Tsotsotso.

Dit was duidelik dat die tweede helfte op ‘n uiters spannende klimaks afgestuur het.

Spel het van een hoek van die veld na die ander gesnel, maar deurkomkans op die doellyn was min en dit het 10 minute geneem voordat Wessel Maree ‘n deurbraak kon bewerkstellig.

Buitesenter, Junior Moroke, het langs die kantlyn af genael en ‘n skopaangee dwars oor die veld gestuur vir Mpumelelelo Dumako (flank) om op te raap en oor die doellyn te val.

Tsotsotso het ‘n verdere strafdoel oorgeklits om hul voorsprong te verstewig, maar dit was nie lank nie voordat Brandfort se groot pak met ‘n skrum na aan die besoekers se doellyn vir agsteman, Greyven Dempsey, die geleentheid gebied het om bo-oor ‘n paar verdedigers te dryf vir sy span om die voortou te neem.

Met slegs drie minute se speeltyd oor, het Wessel Maree se plaasvervanger, Kamohelo Ntaje, egter oorgeduik vir die wendrie om SPS Brandfort se trotse rekord by hul fees ‘n knou toe te dien.

Hoërskool Bloemfontein het vroeë waarskuwingskote afgevuur met hul oorwinning van 26-0 oor Winburg Hoërskool. Van al die spanne wat aan die Vrystaat Hoërskole B-Liga deelneem vanjaar, was dit slegs die seuns uit die noorde van Bloemfontein wat as oorwinnaars kon wegstap na Saterdag se sportdag.

SPS Brandfort, St Andrew’s School, Hoërskole Sand du Plessis en Hendrik Potgieter (Reddersburg) het almal tweede gekom in hul onderskeie wedstryde, dus geniet die Bloemfonteiners ‘n ekstra mate van momentum wanneer die ligabepalings eersdaags afskop.

Bloemfontein-losskakel Jano Jackson en sy senters, Keanu van Heerden en Kenslin Collins, het heelwat ondernemingsgees agterlangs tentoongestel, terwyl hul lostrio ook vir Winburg kopsere besorg het by die afbreekpunte.

Vasberade verdediging het voorts beteken dat die puntevloei slegs in een rigting beweeg het, met Bloemfontein wat vier keer Winburg se doellyn kon oorsteek sonder om ‘n enkele punt af te staan.

Bokang Maichu, Wessel van der Merwe, Brandon Erasmus en Ferlin Rulf het hul name op die telkaart gekry, terwyl Jackson met drie doelskoppe geslaag het.

St Andrew’s en Reddersburg het altwee moedig teruggeveg in hul onderskeie kragmetings, maar Hoërskool Parys en Hoërskool Bothaville kon uithou vir naelskraapse seges van onderskeidelik 24-19 en 34-26.

Saints se agsteman, Eduan van den Heever, het kort voor én na rustyd drieë gedruk om die telling met 12-12 gelyk te laat trek. Senter, Naudé Botha, het die tweede drie van teenaan die kantlyn verdoel om die Bloemfonteiners tydelik te laat voorloop.

Parys het weer die voortou geneem met ‘n drie deur hul breker op binnesenter, Qenan Bekker, maar St Andrew’s se haker, Lucien Hugo, het teruggeslaan om die telling weer gelyk te maak.

Met skaars ‘n paar sekondes oor, het Parys die uitklophou gelewer met hul groot haker, Romé Pretorius, wat met brute krag deur die verdedigingslinie gebars het vir die wendrie.

Grey-kollege se verteenwordigers het ook skoonskip gemaak in hul onderskeie krangmetings met Hoërskool Ficksburg, HTS Louis Botha en Sand du Plessis.

Dit was slegs die Ficksburg-manne wat enige punte kon aanteken teen die Bloemfonteinse reuse.

Boitumelo Hlalele (senter), en Brian Samuels (losvoorspeler) kon daarin slaag om bresse te slaan in die Grey-verdediging vir ‘n drie elk, maar Ficksburg moes steeds met 12-17 die knie buig teen Grey se sesdes.

Puntemakers:

Wessel Maree Hoërskool 16 (3) – Drieë: Kamohelo Ntaje, Mpumelelelo Dumako. Strafskoppe: Ntute Tsotsotso (2) Hoërskool SPS Brandfort 12 (7) – Drieë: Greyven Dempsey, Xander van Heerden. Doelskop: Amolang Maloisane.

Hoërskool Parys 24 (12) – Drieë: Sibusiso Mmlutsi, Qenan Bekker (2), Romé Pretorius. Doelskoppe: Marnus Roets (2) St Andrew’s School 19 (7) – Drieë: Eduan van den Heever (2), Lucien Hugo. Doelskoppe: Naudé Botha (2).

Hoërskool Bothaville 34 (29) – Drieë: Paul Verwey (2), Josh Pietersen de Andrade, Hanco van der Walt, Francois Rossouw, Richter Scholtz. Doelskoppe: Pietersen de Andrade (2). Hoërskool Hendrik Potgieter (Reddersburg) 26 (7) – Drieë: Denver Jacobs, Waylon Strydom, Sterling Batties, Unathi Ngeyakhe. Doelskoppe: Boitshepo Nthipe (2), Ensley van Wyk.

Grey-kollege VI 17 – Hoërskool Ficksburg 12 – Drieë: Boitumelo Hlalele, Brian Samuels. Doelskop: Oratilwe Shata.

Grey-kollege IV 26 (12) – Drieë: JG Badenhorst (2), Marx van Wyk, Stephan Jacobs. Doelskoppe: Van Wyk. HTS Louis Botha 0.

Hoërskool Ladybrand 31 (12) – Drieë: Ithuteng Diphoko (2), Katleho Ramakone, Lucky Ratutubala, Isaaq Maqelepo. Doelskoppe: Calvin Molete (2), Katleho Ramakone. Hoërskool President Steyn 7 (0) – 

Grey-kollege V 76 (50) – Drieë: Stephan Meintjies (2), Arno du Plessis (2), Jatin Marais, CM Opperman, Luke Wolhuter, Juan Erasmus, Ruben Kruger, Burger Horn. Doelskoppe: Juan Erasmus (8). Hoërskool Sand du Plessis 0.

Hoërskool Bloemfontein 26 – Drieë: Bokang Maichu, Wessel van der Merwe, Brandon Erasmus, Ferlin Rulf. Doelskoppe: Jano Jackson (3). Winburg Hoërskool 0. 

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.