Diamonds skitter in sege oor Trekkers

Hoërskool Diamantveld het hul veldtog in vanjaar se Wesgrow-reeks op ‘n manjifieke wyse afgeskop deur Voortrekker van Bethlehem voor hul tuisskare in Kimberley met 18-6 te klop.
Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die Trekkers het die vorige ontmoeting tussen hierdie twee spanne met 46-17 gewen, en het Saterdag weer die eerste punte aangeteken met ‘n strafdoel deur Christian van der Sandt.
Kort daarna het Diamantveld se bul van ‘n agsteman, Enrique Boshoff, egter oor die besoekers se doellyn gebars, nadat sy voorspelers die Trekkers se verdediging ingetrek het.
Dit was die enigste punte wat in die eerste helfte aangeteken is, maar, al was daar nie veel drieë nie, was daar geen tekort aan aksie in die tweestryd nie.
Marno Greeff was orals op die veld betrokke. Hy was aan die voorpunt van die Diamonds se aanslag en het boonop ‘n paar groot duikslae uitgevoer om op verdediging verdere druk op die besoekers te plaas.
Die Trekkers se losskakel, Kaneng Komane, was ewe indrukwekkend. Hy het gevaarlik gelyk op die teenaanval en het ‘n paar van die groot manne van Kimberley in twee gevou op die verdediging.
Die tuisspan se voorspelers het stelselmatig egter hul stempel op die wedstryd begin afdruk, en die groot stut, FJ de Vries, het laat in die tweede die nodige energie bymekaargeskraap om bo-oor ‘n paar Voortrekker-verdedigers te storm om sy span behoorlik op die voorvoet te plaas.
Carel Viljoen (vleuel) het kort daarna in die hoekie oorgeduik om die tuisspan se voorsprong te vergroot.
Simon Liversage het die doelskop uitstekend waargeneem van teenaan die kantlyn, maar het homself ongelukkig beseer in die proses. Hy het gewys dat hy ‘n groot bate vir Diamantveld is, en hulle sal hoop dat hy spoedig herstel. Greeff het die stelskopwerk in Liversage se afwesigheid waargeneem en met strafdoel in die doodsnikke die sege vir sy span beklink.
Dit was ‘n aksiebelaaide dag van skolerugby in Kimberley, met die o. 16 en o. 15 A-wedstryde wat ook naelbytstryde afgegee het.
Diamantveld se eerstespan, wat onder nuwe bestuur is, behoort heelwat vertroue uit hierdie oorwinning te put. Voortrekker is gedugte teenstanders en dit verg heelwat om hulle te verhoed om ‘n enkele drie aan te teken.
Volgende naweek toets Diamantveld hul staal teen die besoekende Afrikaanse Hoër Seunsskool uit Pretoria, voordat hulle hul Wesgrow-veldtog voortsit teen Hoërskool Trio in Kroonstad.
Puntemakers:
Hoërskool Diamantveld 18 (5) – Drieë: Enrique Boshoff, Carel Viljoen. Doelskop: Simon Liversage. Strafdoel: Liversage, Marno Greeff. Voortrekker 6 (3) – Strafdoele: Christian van der Sandt (2).
Ander spanne:
o. 16 A: Voortrekker 14, Diamantveld 10
o. 15 A: Diamantveld 13, Voortrekker 12
o. 14 A: Voortrekker 33, Diamantveld 22