Diamantveld bespreek plek in Motheo-eindstryd teen Grey II

‘n Drietal vyftigtalle deur van Hoërskool Diamantveld se staatmakerkolwers het die span van Kimberley se plek in die Motheo o. 19 T20 Superliga-eindstryd verseker.
Diamonds het Dinsdag vir St. Andrew’s School van Bloemfontein se tweedespan in die halfeindronde uitskakel.
Beleef die wedstryd weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Diamantveld se drie openingskolwers, Benjamin Potgieter, Danie van der Merwe en Simon Liversage, het elk meer as vyftig lopies bygedra om hul span tot 184/4 in die 20 beskikbare boulbeurte te dryf.
Liversage het die Bloemfonteiners verál gestraf en sewe sesse gemoker vir sy blitsige 51 lopies vanaf 24 balle, nadat Potgieter en Van der Merwe se aanvangsvennootskap van 115 uiteindelik beëindig is deur Pluto Chen.
Johan Liebenberg het ‘n teenaanval vir Saints probeer loods met ‘n onoorwonne beurt van 44 lopies, maar Francois Holtzhausen en Arno Mostert het die Bloemfontein-kolwers spoedig getem om oorwinning aan die besoekers te besorg.
Albei Diamond-boulers het drie paaltjies platgetrek, met die gevolg dat Liebenberg sy span net tot 136/9 kon aanspoor in die beskikbare beurte, 50 lopies skraal van die teiken.
Diamantveld speel op 26 Februarie teen Grey-kollege se tweedespan vir die trofee.
Toe die twee spanne mekaar verlede maand ontmoet het was dit die Diamonds wat die oorhand geniet het en met 43 lopies as oorwinnaars uit die stryd getree het.
Simon Liversage het uitgeblink in daardie wedstryd om 48 lopies aan te teken en van vier Grey-kolwers ontslae te raak.
Die Bloemfonteiners het egter hierdie week gewys dat hulle oorgehaal is vir die uitspeelrondes deur vir ‘n sterk Hoërskool Jim Fouché ore aan te sit.
Muso Mokomela was aan die spits van Grey se aanval met 31 lopies en vier paaltjies. Lohan Nortje het ook 4/8 geneem om Jim Fouché te beperk tot slegs 29 lopies, nadat Mokomela en kie 109 vir Grey aangeteken het.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Diamantveld: 184/4 (Danie van der Merwe 52, Simon Liversage 51, Benjamin Potgieter 50, Ekstras 20; Johan Liebenberg 2/22). St. Andrew’s School II: 136/9 (Johan Liebenberg 44*, Andrew Beelders 25, Heindre Serfontein 20; Francois Holtzhausen 3/20, Arno Mostert 3/21). Diamantveld wen met 48 lopies.
Grey-kollege II: 109/7 (Muso Mokomela 31, Dale Williams 24; Henko Venter 2/17, Cobus Wilken 2/18). Hoërskool Jim Fouché: 29 (Lohan Nortje 4/8, Muso Mokomela 4/15). Grey II wen met 78 lopies.