SuperSport Schools Plus

Nog ‘n Pretorius 100-tal dryf Sasolburg voort

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-18 Tags: , , , , ,

Meyer Pretorius, Sasolburg | FOTO: Nikite Pretorius

Die Hoërskool Sasolburg kon Saterdag vir Welkom Gimnasium met 88 lopies klop danksy ‘n skitterende beurt deur Meyer Pretorius, wat 125 aangeteken het op ‘n blad wat vir al die ander kolwers kopsere besorg het.

Donald Schoembie het die eerste paaltjie geneem in die agste beurt en Donovan Mouton kon in die volgende beurt nog ‘n Sasol-paaltjie plattrek om die besoekers te beperk to 21/2.

Pretorius en Liam Singleton het egter taai weerstand gebied vir die besoekers met ‘n vennootskap van 114 lopies om die vierde paaltjie. Singleton het die ankerrol gespeel en 61 balle geabsorbeer, terwyl Pretorius die lopies ingeryg het.

Pretorius het die grens 17 keer gevind, vanaf 111 balle, om Sasoburg se telling tot 202 op te stoot, voordat Dean Katzin uiteindelik die sterkolwer se paaltjies kon eis. Die opwindende jong plattelandse kolwer het al twee keer hierdie seisoen ‘n dubbele honderdtal behaal en lei dikwels sy span se aanslag met die kolf.

Dit was Katzin se derde paaltjie en Schoembie kon daarna ook nog twee optel om die besoekers se beurt op 216 tot ‘n einde te bring in die voorlaaste beurt.

Kayden Barrows het goed gevaar om die eerste 58 balle vir die tuisspan deur te sien en 37 lopies aan te teken, maar toe Nathan Swanepoel sy tyd in die middel tot ‘n einde bring, was daar reeds vier paaltjies plat, danksy Singleton en Pretorius.

Mouton het ook stewig bly staan om 39 lopies aan te teken, voordat Pretorius sy paaltjies gevind het. Die res van die Gimmie-kolwers het gevou, met Swanepoel wat die wedstryd blitsig beëindig het deur vyf paaltjies vir slegs 13 lopies te neem in sy nege boulbeurte.

Sasolburg pak volgende naweek nog ‘n span van Welkom, wanneer Goudveld-Hoërskool by hulle besoek aflê.

Gouties het die afgelope naweek vir Hoërskool Jim Fouché met twee paaltjies geklop, dit ondanks skitterende boulwerk deur Lian Theron wat vyf van die Goudveld-kolwers teruggestuur het kleedkamer toe.

JF kon slegs 81 lopies aanteken, met GJ Wessels, Janco Maass en Bongi Kumalo wat elk drie van die Bloemfonteiners se paaltjies kon plattrek.

Vyf-en-twintig lopies deur Teagan Saayman was genoeg om die manne van Welkom tot by hul doelwit te bring, voordat Kumalo sy span oor die lyn kon dryf in die 24ste beurt.

Johan van den Heever van Hoërskool Sentraal het vyf Hoërskool Trio-kolwers laat uitvang met sy vernuftige boulwerk, maar sy kolwers kon nie die uitdagende telling van 234 lopies wat Miguel Menino en kie bymekaar kon slaan, inhaal nie.

Myburg Jacobs was aan die voorpunt van die Trio-verdediging, met vier paaltjies vir net sewe lopies.

Joel Coetzee het ook vyf paaltjies geneem vir Voortrekker Hoërskool teen Hoërskool Witteberg, maar die Trekkers het hul doelwit met die kolf net-net met ses lopies gemis.

Handré Fourie het gevaarlik gelyk op 44 nie uit nie, maar moes hulpeloos toekyk hoe Stefan Geldenhuis (4/31) en Zander Fourie (3/43) die span van Bethlehem met die bal kasty.

Beknopte telkaarte:

Hoërskool Sasolburg: 216 (Meyer Pretorius 125, Liam Singleton 28, Ekstras 28; Dean Katzin 3/43, Donald Schoembie 3/43). Welkom Gimnasium: 128 (Donovan Mouton 39, Kayden Barrows 37, Ekstras 22; Nathan Swanepoel 5/13, Liam Singleton 3/21, Meyer Pretorius 2/32). Sasolburg wen met 88 lopies.

Hoërskool Trio: 234 (Miguel Menino 90, Bokang Mohasa 27, Myburg Jacobs  23; Johan van den Heever 5/41, Reshe Wales 2/62). Hoërskool Sentraal: 115 (AJ Joubert 26*, Ekstras 22, Pieter van Biljon 21; Myburg Jacobs 4/7, Gabriel Mochabela 2/6, Bokang Mohasa 2/15). Trio wen met 119 lopies. 

Hoërskool Jim Fouché: 81 (Arnaud Marais 31; GJ Wessels 3/12, Janco Maass 3/18, Bongi Kumalo 3/24). Goudveld-Hoërskool: 83/8 (Ekstras 27, Teagan Saayman 25, Lian Theron 5/20, Cobus Wilken 2/16). Goudveld wen met twee paaltjies.

St Dominic’s College: 100 (Alessio Salvado 20; Eben Botha 3/17, Stian Kruger 3/26, Devanté Claasens 2/22); Hoërskool Fichardtpark: 101/2 (Eben Botha 58, Davyd Oosthuysen 26*; Lerotha 1/22). Fichardtpark wen met agt paaltjies.

Hoërskool Witteberg: 218 (Lesego Mosikidi 47, Ekstras 39, Zander Bakker 32*, Zander Fourie 29, Stefan Geldenhuis 27, Marco Grobler 20; Joel Coetzee 5/26, André Heunis 2/35). Voortrekker Hoërskool: 212 (Ekstras 50, Handré Fourie 44*, JD van Wyk 40, Wian Fourie 28, Craig Mann 20; Stefan Geldenhuis 4/31, Zander Fourie 3/43). Witteberg wen met ses lopies.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.