SuperSport Schools Plus

Van Santen knip DF Malan-aanval kort in Bellville-riller

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-16 Tags: , , ,

Stellenberg 2024 First XI (Foto verskaf)

Fairmont High School en Hoërskool Stellenberg gaan volgende week sake uitspook in die halfeindrondte van die Sammy Bloch T25-uitkloptoernooi, nadat albei hierdie week met ‘n oorwinning van hul onderskeie wedstryde kon wegstap.

Stellenberg het Woensdag in ‘n naelbytstryd teen Hoërskool DF Malan met sewe lopies koning gekraai.

In die laaste beurt van die wedstryd het DF Malan nog 15 lopies benodig, met twee paaltjies staande. Benjamin Grobler (12*) en Collin Burger (10) kon sewe lopies van die eerste twee balle slaan, voordat Kyle van Santen, met sy derde en vierde aflewerings, die twee npaaltjies laat kantel het om aan Stellenberg die sege te besorg.

Die besoekers het die loot gewen en besluit om vir Stellenberg eerste te laat kolf.

Roux Wasserman (41) en Van Santen (31) het die aanval vir Stellenberg gelei, nadat Johan Jansen van Rensburg vroeg reeds eerste bloed getrek het vir die besoekers.

Ryan Jones het ook netjies gekolf om ‘n blitsige 29 lopies van 20 balle by te dra, en sy span se totaal tot 154/8 op te stoot.

Die besoekers het kwaai gewankel op 2/2, na Lohann Pretorius se aanvanklike boulaanslag.

Charl Botha kon egter 51 lopies aanteken om sy span weer terug in die wedloop te kry, maar nadat Gerrad Kamalie van hom onslae kon raak het die DF-kolwers gevou met Jan-Jak Alberts wat drie paaltjies opgetel het voordat Van Santen ‘n streep onder die Bellville-derby getrek het.

Die Stellenberg-span se aksiebelaaide bepalings duur Saterdag voort, waneer hulle teen HTS Bellville te staan kom. Daarna sê hulle vir Fairmont die stryd aan, voordat hulle vir Hoërskool Durbanville op 24 Februarie verwelkom vir die groot interskole-kragmeting.

Donderdag was dit Kyle Maclean se onoorwonne 75 lopies wat vir Fairmont oor die lyn gedryf het teen Hoërskool Tygerberg.

Hy het slegs 51 balle nodig gehad om meer as die helfte van nodige lopies aan te teken vir Fairmont om op ‘n drafstap met ses paaltjies te seëvier.

Nadat die eerste paar paaltjies geval het, kon die Tygerberg-kolwers geen weerstand bied teen Joshua Martin (3/12) en Daniel Breeder (3/30) nie.

Met die oorwinnings die afgelope week is die tafel gedek vir ‘n titaniese stryd wanneer dié twee trotse spanne van die noordelike voorstede in die semi-finaal ontmoet.

Beknopte telkaarte:

15 Februarie

Hoërskool Tygerberg: 133 (Mondre Julies 34, Matthew Florence 27, Ekstras 27; Joshua Martin 3/12, Daniel Breeder 3/30; Justin Passman 2/5). Fairmont High School: 137/4 (Kyle Maclean 75*, Joshua Martin 27; Lee-Charn Koopman 2/11). Fairmont wen met ses paaltjies.

14 Februarie

Hoërskool Stellenberg: 154/8 (Roux Wasserman 41, Kyle van Santen 31, Ryan Jones 29; Keanu Swanepoel 3/24, Johan Jansen van Rensburg 2/17, D’Neill du Toit 2/35). Hoërskool DF Malan: 147 (Charl Botha 51, Reuben Braxton 31; Jan-Jak Alberts 3/36, Gerrad Kamalie 2/19, Kyle van Santen 2/20, Lohann Pretorius 2/31). Stellenberg wen met sewe lopies.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.