Klofies kraai koning

Hoërskool Waterkloof het hulle posisie as die topspan in die A Afdeling van die Finsbury-reeks verstewig, na twee uiters suksesvolle dae op tuisbodem.
Die span van Pretoria het Vrydag gemaklik met die Hoërskool Nelspruit afgereken. ‘n Uitstekende vertoning met die kolf deur Wian Ruthven (68) en Divan Behrens (66) was meerendeels verantwoordelik vir die Klofies se sukses.
Ruthven het met die bal ook uitgeblink. Die veelsydige speler het ‘n web om die Nellies-kolwers gedraai met puik boulsyfers van vier paaltjies vir 29 lopies.
Jacques van Niekerk het hom goed bygstaan deur nog drie paaltjies op sy kerfstok te plaas.
John Duncan (35) en Jayden Meyer (33) het hard gespook vir Nelspruit. Dié twee se bydraes was helaas nie genoeg om die sterk Klofie-span onder te kry nie, en Nellies moes met agt paaltjies die knie buig.
Klofies het Saterdag voor hul grootste toets te staan gekom toe hulle met die enigste ander onoorwonne span, Hoër Volkskool Potchefstroom, slaags geraak het. Nog ‘n uitmuntende boulvertoning, gelei deur Ruan Ferreira (3/22), het Volkies laat wankel, terwyl verdere bydraes met die bal, deur Wian Ruthven (2/6) en staatmaker, Jacques van Niekerk, vir die Potchefstromers beperk het tot slegs 129 lopies.
Berno de Klerk het uitgeblink met die kolf. Die voorslagkolwer het ‘n kranige teenaanval geloods om 46 lopies tot sy span se totaal by te dra. Hy was met die bal in die hand ook in ‘n omgekrapte bui. De Klerk (2/33) en Diaan van der Merwe (2/43) het die Klofie-kolwers onder heelwat druk geplaas.
Die Pretorianers se kaptein, Beukes van den Berg, het egter kopgehou en ‘n ware kapteinsbeurt gelewer. Van den Berg is met een lopie kort van ‘n welverdiende vyftigtal deur van der Merwe terug kleedkamer toe gestuur. Dit het egter nie die Klofies se momentum gehalt nie, en Marcus Bakker (26) en Riley Miller se onoorwonne 24 lopies het die span van Pretoria in staat gestel om die teiken met nog vier paaltjies staande verby te steek.
Hoërskool Rustenburg se Logan Rossouw het ‘n goed afgeronde spanvertoning met die kolf gelei. Die Rusties het in ‘n naelbytstryd teen Hoërskool Centurion met vyf lopies geseëvier. Rossouw se telling van 59 lopies was sy span se beste vir die dag, terwyl Callie Fryer (37) en Hendre Robbenson (33) verder verseker het dat die Rusties ‘n beduidende telling van 224 op die bord kon plaas.
Zandre Diedericks (4/44) en Wessel Oosthuizen (2/44) het dit met goeie boulvertonings opgevolg. Hulle het die meeste skade berokken en kon, in ‘n senutergende laaste paar beurte, die momentum sterk in die guns van die tuisspan swaai.
Morné Prinsloo was die Woeries se keurbouler. Prinsloo het drie paaltjies vir 22 lopies laat kantel. Aan die ander kant was Morné Venter ewe indrukwekkend met boulsyfers van drie paaltjies vir 30 lopies. Charl Prinsloo het weer van voor gelei. Die Woeries se kaptein het fluks gekolf aan sy 65 lopies.
Dit was ongelukkig nie genoeg nie, met energieke veldwerk en konstante druk deur die Rusties se boulers wat verseker het dat die span van Noordwes hul tweede oorwinning van die reeks kon behaal.
Na die Nellies se nederlaag teen Waterkloof het hulle Saterdag ‘n paar kilometer verder teen Hoërskool Menlopark te staan gekom. Dit was weer ‘n tawwe dag op kantoor vir die span van Mpumalanga.
Menlopark se Pierrie de Villiers het die bal laat praat om die Nellies met drie vinnige paaltjies onder druk te plaas. Rico Nel was die Nellies se beste kolwer en het ‘n waardevolle 39 lopies bygedra. Vaughn van Zyl het ook belowend vertoon om 34 lopies tot sy span se totaal van 152 lopies by te dra.
Dian van Zyl, het die Nellies vinnig laat besef dat hul 152 nie genoeg sou wees nie. Sy onoorwonne 80 lopies, tesame met Ewald Meyer se 48, het verseker dat Menlopark die telling met slegs twee paaltjies plat kon verbysteek.
Beknopte telkaarte:
Hoër Volkskool Potchefstroom: 126 (Berno de Klerk 46, Eduan van der Merwe 25; Ruan Ferreira 3/22, Wian Ruthven 2/6, Jacques van Niekerk 2/30). Hoërskool Waterkloof: 135/6 (Beukes van den Berg 49, Marcus Bakker 26, Riley Miller 24*; Berno de Klerk 2/33, Diaan van der Merwe 2/43). Waterkloof wen met vier paaltjies.
Hoërskool Nelspruit: 161 (John Duncan 35, Jayden Meyer 33, Theuns Meyer 25; Wian Ruthven 4/29, Jacques van Niekerk 3/23). Hoërskool Waterkloof: 165/2 (Wian Ruthven 68, Divan Behrens 66; Sarfaan Miller 1/24). Waterkloof wen met agt paaltjies.
Hoërskool Rustenburg: 224 (Logan Rossouw 59, Callie Fryer 37, Hendre Robbenson 33; Morné Prinsloo 3/22, Morné Venter 3/30). Hoërskool Centurion: 219 (Charl Prinsloo 65, Judah Phillips 27, Stefan de Villiers 23; Zandre Diedericks 4/44, Wessel Oosthuizen 2/44). Rustenburg wen met vyf lopies.
Hoërskool Nelspruit: 152 (Rico Nel 39, Vaughn van Zyl 34, Janco Breyl 28; Pierre de Villiers 3/41, Matt van der Westhuizen 3/9, Gerhard Engelbrecht 2/23). Hoërskool Menlopark: 156/2 (Dian van Zyl 80*, Ewald Meyer 48; Duan Smal 2/38). Menlopark wen met agt paaltjies.