Briljante Waterkloof-duo sink Centurion
Twee briljante beurte deur Waterkloof se kaptein, Beukes van den Berg, en die aanvangskolwer, Divan Behrens, was genoeg om die Pretorianers se tweede oorwinning, teen Hoërskool Centurion, in die A-afdeling van die Finsbury-reeks te verseker.
Van den Berg het die toon aangegee met ‘n bydrae van 126 lopies van 87 aflewerings. Sy beurt het 10 viere en ses sesse ingesluit, en was ook die Klofies se hoogste telling vir die dag.
Behrens het sy goeie spelpeil van die eerste ronde voortgesit. Hierdie keer kon hy egter die 100-merk verbysteek vir die Klofies se tweede honderdtal. Die aanvangskolwer se 101 lopies het van slegs 112 balle gekom.
Hy en van den Berg het verdere sout in die Woeries se wonde gesmeer na Behrens se openingsvennootskap met AJ de Villiers (65) van 122 lopies.
Die twee het uitstekend gekombineer om ‘n verdere vennootskap van 146 lopies tot die span se reuse-totaal van 349/6 by te dra in die toegelate 50 boulbeurte.
Met ‘n enorme taak op hande, het die Woeries se kaptein, Charl Prinsloo, die druk goed absorbeer vir sy 63 lopies. Louniel Prins (38, 27b), Rehan Lues (31, 29b) en Judah Phillips (25, 44b), het op hul beurt ook ‘n verbete terugvegpoging geloods.
Die Klofie-boulaanval het nietemin aanhou druk toepas en die aanslag, gelei deur Jaydon Blom (3/26), was eenvoudig té veel vir die Woeries. Dit het beteken dat die span van Centurion slegs 230 bymekaar kon maak voordat die laaste paaltjie gekantel het.
Hoërskool Nelspruit het ‘n droewige naweek ervaar nadat hy twee nederlae in soveel dae gely het. Hoërskool Rustenburg was Vrydag té sterk vir die span van Mpumalanga, en die Rusties het ‘n goed-afgeronde spanpoging afgesluit met met ‘n oorwinning van 59 lopies.
Wessel Oosthuizen het met die kolf vir die Rusties uitgeblink. Hy het ‘n indrukwekkende 66 lopies bygedra, terwyl Zander Diedricks ook ‘n nuttige bydra van 41 lopies kon maak.
Nathan Rossouw was die gevaarman met die bal. Hy kon met syfers van vier paaltjies vir slegs 19 lopies spog.
Vir die Nellies was dit weereens Vaughn van Zyl wat die kollig gesteel het. Van Zyl was die Nellies se voorste lopiemaker met 45, terwyl hy met die bal ook twee slagoffers kon eis.
In Nellies se wegwedstryd teen Hoër Volkskool Potchefstroom het sake vir die besoekers skeefgeloop. Volkies se boulers het geen genade betoon nie.
Dian Liebenberg het die meeste skade berokken met drie paaltjies, terwyl Schalk Pienaar (2/12) en die draaier, Olefa Padi (2/19), vier paaltjies tussen die twee van hulle kon plattrek.
Die Volkies het daarna nie op hul laat wag nie en die 127 lopies wat benodig was in slegs 22 beurte behaal. Louis van Wyk het baljaar met ‘n totaal van 35. Sy bydrae, tesame met dié van Diaan van der Merwe (26*) en Attie Liebenberg (22*), was genoeg om ‘n oorwinning van sewe paaltjies vir Volkies te verseker.
Menlopark het op sy beurt ligte werk van Hoërskool Rustenburg gemaak. Wian van Deventer het die leiding geneem met ‘n beurt van 67 lopies. Dian van Zyl (45) en Marcus De Aguar (34*) se latere aanslag het die span van die Jakarandastad tot ‘n telling van 223/8 aangevoer.
Logan Russouw was die Rusties se uitblinker. Hy het vyf Menlo-kolwers terug pawiljoen toe gejaag in ‘n boulskof wat net 30 lopies gekos het.
Sy kolwers kon egter nie dieselfde tempo as die Menlo-kolwers handhaaf nie. Wessel Oosthuizen was die voorste lopiemaker met 24 lopies. Hendre Robinson (22, 47b) en Logan Rossouw (21, 20b) het hul bes probeer maar was dit was helaas nie goed genoeg nie, met die laaste Rustie-paaltjie wat met die telling op 134 geval het.
Beknopte telkaarte:
Waterkloof: 349/6 (Beukes van den Berg 126, Divan Behrens 101, AJ de Villiers 65, Riley Miller 25; Rehan Lues 3/76). Centurion: 230 (Charl Prinsloo 63, Louniel Prins 38, Rehan Lues 31, Judah Phillips 25; Jaydon Blom 3/26, Jaco van der Walt 2/42). Waterkloof wen met 119 lopies.
Rustenburg: 211 (Wessel Oosthuizen 66, Zander Diedricks 41, Wesley Bruwer 30; Nathan Duncan 2/7, Duan Smal 2/30, Vaugh van Zyl 2/33, Jayden Meyer 2/47). Nelspruit: 152 (Vaughn van Zyl 45, Jaco Breyl 31; Nathan Rossouw 4/19). Rustenburg wen met 59 lopies.
Nelspruit: 126 (Nathan Duncan 26, Jayden Blom 23; Dian Liebenberg 3/25, Schalk Pienaar 2/12, Olefa Padi 2/19). Hoër Volkskool Potchefstoom: 129/3 (R Smith 41*, Louis van Wyk 35, Diaan van der Merwe 26, Attie Liebenberg 22; Liam Pringle 2/26). Hoër Volkskool Potchefstroom wen met sewe paaltjies.
Menlopark: 223/8 (Wian van Tonder 67*, Dian van Zyl 45, Marcus De Aguar 34*, James Bronkhorst 20; Logan Rossouw 5/30, Marnus de Witt 2/48). Rustenburg: 134 (Wessel Oosthuizen 24, Hendre Robinson 22, Logan Rossouw 21; Matt van der Westhuizen 3/22, Gert-Nico van Zyl 3/34, Gerhard Engelbrecht 2/35). Menlopark wen met 89 lopies.