Potch Volkies versigtig vir omgekrapte Van Zyl en Hoërskool Nelspruit
Hoër Volkskool Potchefstroom sou sy soet sege oor Menlopark in die eerste ronde van die Finsbury-reeks behoorlik gevier het. Hulle sal egter op hul hoede moet wees vir wat blyk na ‘n omgekrapte Hoërskool Nelspruit.
Die span van Potchefstroom het verlede naweek gemaklik met 124 lopies teen Menlopark geseëvier.
Die Nelies het daarenteen ‘n punt bewys deur ‘n ander Pretoriaanse span, Hoërskool Centurion, met vyf paaltjies te klop.
Vaughn van Zyl, die Nelies se aanvangsbouler, sal uitsien om weer op die Hoëveld se blaaie te boul. Hy het verlede naweek vyf paaltjies laat spat en die Menlo-kolwers behoort alte bewus te wees van die gevaar wat hy inhou.
Hulle voorslagkolwer, Nathan Duncan, het ook die jaar goed afgeskop en sal poog om die Volkie-boulers onder konstante druk te plaas.
Die Nellies sal egter op die uitkyk wees vir Volkies se, Louis van Wyk en Diaan van der Merwe. Albei is reeds goed op dreef met die kolf . Van der Merwe was ook Volkies se voorste paaltjievraat in hul kragmeting teen die Pretorianers.
Berno de Klerk behoort die Potchefstromers se gevaarman met die bal te wees, terwyl die draaier, Olefa Padi, die skroewe in die middelste beurte styf kan vasdraai.
Die Nellies sal, weens die lang reis en besorgdheid oor die veiligheid van die seuns op die pad, Vrydag eers in Rustenburg draai, waar hulle teen die Hoërskool Rustenburg te staan sal kom.
Hoërskool Centurion het ‘n reuse taak op hande wanneer hulle Saterdag teen die Hoërskool Waterkloof in Pretoria te staan kom.
Die Klofies lewer kookwater spel en het hul veldtog met ‘n reuse oorwinning van 207 lopies teen Hoërskool Rustenburg afgeskop. Wian Rutven blyk oudergewoonte weer gemaklik in die kolfkampie; die Klofie-aanvangskolwer het die eerste honderdtal in vanjaar se reeks aangeteken.
Hy het ‘n merkwaardige 128 teen die Rusties gemoker. Aan die ander kant het sy kollega, Divan Behrens, ook op ‘n goeie noot begin.
Die Woeries sal vir hul nederlaag wil opmaak. Hulle voorslagkolwer, Rehan Luus, sal poog om sy goeie spelpatroon voort te sit. Charl Prinsloo, die Woeries se kaptein, sal uitsien na nog ‘n kans om met die kolf te beïndruk, terwyl Morné Venter en Wouter Kielblok weer gevaar inhou met die bal.
Hoërskool Menlopark verwelkom die Hoërskool Rustenburg, met albei spanne wat nog wonde lek na vroeë nederlae in vanjaar se kompitisie.
Vir die Pretorianers sal hul voorslagkolwer en paaltjeiwagter, Willem Sevenster, ‘n belangrike rol speel. Sevenster sal wil opmaak na sy teleurstellende vertoning met die kolf teen Volkies.
Die naatbouler, Jean le Roux, blyk ook of hy, met die bal in hand, goed op dreef is. Le Roux was in die eerste ronde een van Menlopark se uitblinkers en het reeds drie paaltjies op sy Finsbury-kerfstok.
Aan die kant van Rustenburg sal die twee Rossouws, Nathan en Logan , weer op alle silinders wil vuur. Wesley Bruwer sal ook weer ‘n prominente rol in die Rusties se kolflys speel.