Hartswater soek wraak teen Saints in die Irawa-liga se halfeindronde
Hartswater en St Andrews ontmoet mekaar hierdie jaar weer in die Kovsiereeks Irawa-liga halfeindstryd nadat St Andrews verlede jaar die manne van Hartswater se harte gebreek het deur om van 31-14 agter teen halftyd terug te veg in die tweede helfte om 38-31 te wen.
Hartswater het die Griekwa mediumskole-liga titel verower verlede naweek met ‘n sterk vertoning om met Curro Kathu met 27-19 weg te sien in die eindstryd.
Hulle kwalifiseer saam met die Griffons en Vrystaat kampioene, Wilgerivier en Brandfort, en ‘n tweede span van die Vrystaat, St Andrews, vir die jaar se Irawa halfeindronde.
Wilgerivier en Brandfort spook in Welkom sake uit vir die ander plek in die eindstryd.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou
Hartswater beleef ‘n baie sterk seisoen, en sal die gunsteling wees voor Saterdag se wedstryd teen die Bloemfonteiners.
Hul groot agtsteman, Ji-Andre Visser, is bykans elke naweek minstens een keer agter die opponente se doellyn, en sy losskakel, Jerome Davids, is ook nog heel seisoen ‘n uitblinker.
St Andrews het ‘n moeilike seisoen agter die rug, maar hulle het by die Independant Schools Rugby Festival wat hulle gedurende die skoolvakansie aangebied het gewys dat hulle groot planne met hul rugbyprogram het deur om vir Kearsney College tot in die laaste oomblikke te laat sweet in hul 10-5 nederlaag teen reuse uit Kwazulu-Natal.
Connor Nel, St Andrews se kaptein en heelagter, is ‘n dryfkrag agter sy span, en sal hierdie naweek weer ‘n groot rol speel indien hulle vir Hartswater weer kan ontstel.
Sy groot stut, Matthew Simon, kan ook ‘n hele paar verdedigers besig hou waneer hy die bal dra, en die Hartswater pak sal wil seker maak dat hulle hom plat trek voordat hy spoed optel.
Die stryd tussen Wilgerivier en Brandfort gaan ook vonke lewer.
Brandfort het verlede naweek in ‘n riller teen Zastron met 29-27 die Vrystaat B-liga titel verower, en Wilgerivier kon met Bothaville reken om die Griffons titel te verower met 29-14.
Wilgerivier se skakelpaar neefs, HG Muller (losskakel) en Wian Muller (skrumskakel), speel hierdie jaar nog ‘n barshou vir die span van Frankfort en sy haastige regtervleuel, Thlompo Motsapi, kon al menigde verdedigers in sy stof laat.
Brandfort se groot agtsteman, Wehan Strydom, is egter net so lief vir drieë druk. Hy het verlede naweek in die eindstryd ‘n driekuns agter sy naam gekry.
Sy binnesenter, Fanie van Rooyen, is ook ‘n opwindende speler om dop te hou met meer as genoeg spoed om vir die Wilgerivier verdediging probleme te veroorsaak.
Die spanne is:
Hartswater t. St Andrews om 14:15 in Kimberley:
Hartswater: 15 Lyle Thompson, 14 Takunda Chindenga, 13 Mi-Chaelle Moeng, 12 Tshiamo Tsiane, 11 MJ Blaauw, 10 Jerome Davids, 9 Kesley Kock, 8 Ji-Andre Visser, 7 Henre Kruger, 6 Kamogelo Tshaka, 5 Nico van der Westhuizen, 4 Layton van Niekerk, 3 Tiaan Pretorius, 2 Nico van den Heever, 1 Eduardt Erasmus.
St Andrews: 15 Connor Nel, 14 Retshedisitswe Mokoena, 13 Mlungi Lepesa, 12 Elia Mokuoane, 11 Koena Ntsamai, 10 CM Geel, 9 Schalk Liebenberg, 8 Yavantle Peni, 7 Mandela Sipoyo, 6 Matthew Fletcher, 5 Marco de Sousa, 4 Lesedi Sipoyo, 3 Matthew Simon, 2 Ioanni Giannakopoulos, 1 Brett Barnes.
Wilgerivier t. Brandfort om 11:20 in Welkom:
Wilgerivier: 15 Jonty Graaff, 14 Thlompo Motsapi, 13 Marnus Swart, 12 Tiaan Hattingh, 11 Ernst Richter, 10 HG Muller, 9 Wian Muller, 8 HG Muller, 7 Ruan Mayer, 6 JD van den Berg, 5 Tom van der Watt, 4 Juan de Klerk, 3 NW de Beer, 2 Louis de Villiers, 1 Gerhart Venter.
Brandfort: 15 Gustav Maree, 14 Janco Snyman, 13 Franco de Klerk, 12 Fanie van Heerden, 11 Amolang Maloisane, 10 Henré Smith, 9 Altus Coetzee, 8 Wehan Strydom, 7 Barend de Klerk, 6 Nathan Goch, 5 JC Venter, 4 Cecil Lee, 3 Lian Naude, 2 Heinrich de Kock, 1 Frikkie Smith.