Player Profile – JJ Theron (Grey College)

Grey-kollege beleef weereens hierdie jaar ‘n seisoen wat vir lank onthou sal word, ‘n groot deel van hul suskes is die leiding van hul agststeman en kaptein, JJ Theron.
Theron kon sy span tot dusver tot ‘n vlekkelose rekord vanjaar aanvoer. Paul Roos Gimnasium staan egter die naweek tussen Grey en ‘n onoorwonne seisoen.
Die span van die Rosestad sal boonop sonder hul inspirerende kaptein asook nog vyf staatmakers die wedstryd in Bloemfontein moet aanpak.
Theron sal saam met Jean Erasmus (vaskopstut), Ranon Fouché (loskopstut), Marno Stopforth (slot/flank), Christiaan van der Westhuizen (skrumskakel) en Ian van der Merwe (losskakel) Saterdag vir die SA o.18-span teen Engeland in aksie wees.
“Elke speler moet net die ou wat voor hom daar was se tokse vol staan. Een en elkeen van hulle verdien om daar te wees, op daardie oomblik, omdat hulle net so hard gewerk het deur die seisoen.” sê Theron oor die spelers wat hul plekke sal inneem om hul trotse rekord vir die seisoen te beskerm teen hul aartsvyande van Stellenbosch.
Die kaptein se boodskap aan sy span is eenvoudig, “Die hele Grey familie staan agter julle en ons ‘back’ julle al die pad.”
Theron is ook, na sy vertoning vir die Vrystaatse Cravenweek-span in George gedurende die skoolvakansie, gekies vir die Suid-Afrikaanse Skole-span, waar hy ook die span aangevoer het. Die SA Skole-span het sy wedstryd teen die SA Skole A-span met 36-26 gewen.
Theron se wedstryd is egter weens ‘n besering kortgeknip.
“Die SA Skole-groep is baie hardwerkend en doelgerig. Elke speler in die groep is gedrewe en ek dink ons kan baie suksesvol wees waneer ons weer saam op die veld uitdraf. Ek het ‘n skouer-besering opgedoen, maar ek’s reeds besig om te herstel. Ek voel baie positief en sien uit om so vinnig as moontlik weer op die veld te kom,” het Theron gesê.
Van volgende jaar af sal hy sy vaardighede verfyn by die Blou Bulle in Pretoria.
“Ek sien ongelooflik baie uit. Ek dink dit is die regte plek om myself te verbeter, as ‘n mens, en as ‘n rugbyspeler,” sê hy oor die komende skuif.
Theron het al in 2022 die verantwoordelikhede as kaptein oorgeneem by sy skool, toe Grey ‘n span sonder matriekstudente gestuur het om by die World Schools Festival in Thailand mee te ding.
“Ek dink die Word Schools Festival was gewis baie goed vir ons span. Dit het ons goed voorberei vir dié seisoen. Dit het my ook gehelp voorberei vir die kapteinskap. Dit was moeilik gewees, maar na daardie toernooi het ek baie tyd gehad om te dink aan hoe ons as ‘n span kan verbeter en te werk aan my leierskap,”
Grey het tot in die eindstryd van daardie toernooi deurgedring, waar hulle teen die room van Niee-Seelandse skole, Hamilton Boys’ High, die knie moes buig met 22-10.
Theron sien die toernooi as ‘n positiewe ervaring, wat hulle voorberei het vir die 2023 seisoen.
“Dit was goed vir die span om saam te reis en nuwe plekke te verken en die band wat ons met mekaar het net te versterk. Om dit tot in die eindstryd te maak was ‘n hoogtepunt, ek dink dit was ‘n goeie prestasie om met so ‘n jong span teen top-skole te kan presteer.”
Dit was ook die laaste keer wat die Bloemfonteinse rugbyfabriek se eerstespan nie aan die wenkant kon eindig nie.
JJ en sy span is onoorwonne hierdie jaar met 15 agtereenvolgende oorwinnings teen die top-skole in die land.
“Eerstens is dit vir my ‘n baie groot eer en ‘n voorreg om kaptein te kan wees van ‘n span soos Grey. Sonder Grey sou ek nie wees waar ek is vandag nie. Grey het my verander in die speler wat ek vandag is, en al van graad agt af geleer om onder hoë druk te kan presteer,”
Alhoewel daar nie ‘n geskiedenis van sport-presteerders in sy familie is nie, sê JJ dat hy eenvoudig van die begin af ‘n liefde en aanvoeling vir rugby gehad het.
“Ek het vir die eerste keer in graad een aan ‘n rugbybal gevat, en van daardie dag nog nooit weer terug gekyk nie. Oor die jare het ek al ‘n groot verskeidenheid posisies gespeel, van voorry tot senter, maar vandat ek by Grey is het ek in die agttal gespeel totdat ek myself uiteindelik op agtsteman bevind het. Dit is tans die posisie waarvan ek die meeste hou en waar ek voel ek al die meeste ontwikkel het,”
JJ kom van die Askham omgewing uit die Kalahari, maar was op Laer Volkskool Graaff-Reinet, waar hy sy liefde vir die spel ontdek het.
“Ek was van kleintyd af nog altyd ‘n WP-ondersteuner en as ek een spesifieke ‘n speler moet kies na wie ek opkyk sal dit definitief Duane Vermeulen wees, as ‘n speler asook ‘n leier. Ek probeer van sy leierseienskappe in my spel ontwikkel,”
Hy maak staat op sy geloof en ondersteuningsnetwerk om die druk te hanteer wat deesdae op jong spelers geplaas word.
“Druk is definitief vandag ‘n groot aspek van die spel. Ek en die span hanteer die druk te danke aan ons afrigters, ons ondersteuners en ons skool se ondersteuning en deur om in die Here te vertrou,”
Druk is egter volgens hom nie noodwendig ‘n negatiewe element van die moderne spel nie.
“Ek dink nie ons sou die gehalte rugby kon speel wat ons doen as dit nie vir daardie druk was nie, as ‘n span dink ek ons presteer op ons beste waneer ons onder druk is,”
“As jy daardie navy Grey-trui oor jou kop trek dan kry jy superkragte. Die motivering van die hele skool wat agter jou staan, en die trots wat gekweek is deur die ouens wat voor jou gekom het, dis wat ons in staat stel om onder soveel druk te kan speel.”
Waneer dit nodig is om te ontspan geniet JJ dit om weg te breek na waar hy die gemaklikste voel, saam met familie en in die natuur.
“Aftyd is maar min met skool en rugby, maar waneer ek die geleentheid kry geniet ek dit om tyd saam met familie te spandeer op ‘n plaas. Ek geniet die rustigheid en dit is vir my belangrik om weg te breek en net bietjie te vergeet van hoe besig dit kan raak,” het Theron gesê.