SuperSport Schools Plus

Wit Bulle buit tiende Noordvaal-titel in 100ste eindstryd


KRUGERSDORP. – Schampagne rugby!

Dit is hoe die eindstryd van die Noordvaaltrofee se Beker-kompetisie in twee woorde beskryf kan word.

Monument het hier op sy tuisveld, die Ras van Rooyen-veld, in die doodsnikke ‘n sege van 30-28 oor die Hoërskool Garsfontein behaal om vir die tiende keer as kampioen van die gesogte kompetisie gekroon te word.

Die Wit Bulle se heelagter, Jody Schambreel, was die grootste doring in Garsies se vlees. Hy het met sy lopies vanuit die laaste vesting heelwat geleenthede vir sy span geskep.

Twee daarvan kort na rustyd het op drieë vir die buitesenter, Zain Henery, en die skrumskakel, Ceano Everson, uitgeloop. Dit het die tuisspan se voorsprong van 10-8 met die omdraaislag na 22-8 vergroot.

Garsies het nooit gaan lê nie en sy buitesenter, Demitre Erasmus, het twee uitmuntende lopies in die hoek gaan afrond om aan sy span van voorsprong van 28-25 laat in die wedstryd te gee.

Die Wit Bulle het daarna met speeltyd reeds verstreke vanaf ‘n rolmaalbeweging gaan druk met die plaasvervanger-haker, Stephan Uys, in besit om die titel te buit.

Hierdie is ‘n spesiale titel omdat dit die 100ste eindstryd sedert die ontstaan van die kompetisie in 1920 was. Daar was geen eindstryde in 1948 (polio-epidemie) asook die vorige twee jaar in 2020 en 2021 weens die Coronavirus-pandemie nie.

Monnas se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, spog nou reeds met vyf titels as afrigter in die reeks. Hy het in 2015 en 2016 Garsies tot kampioene gebrei en was ook aan stuur van sake vir die Wit Bulle se titels in 2017 en 2018.

In die eindstryd van die Plaat-afdeling in Mbombela het die Hoërskool Nelspruit in ‘n klipharde eindstryd in 32 grade Celsius vir die Hoërskool Middelburg met 23-17 verslaan.

Die span van Mbombela het die Plaat-kompetisie met die sege onoorwonne afgesluit en gesorg dat hy volgende jaar tussen die groot honde in die Beker-kompetisie sal blaf.

Die Rhinos het vroeg ‘n voorsprong van 15-0 opgebou, maar ‘n drie deur Middies se uitstaande buitesenter, Grant de Jager, het gesorg dat sy span darem teen rustyd vyf punte op die telbord kon plaas.

Middies se agtsteman, Ben Jansen van Rensburg, was ook uitstaande. Vir die kampioen was sy loskopstut, Duard Diechmann, flank Francois Odendaal en die slot Leonard Bornman uitblinkers.

Oos-Moot het in die Skild-eindstryd die bordjies teen die Hoërskool Klerksdorp met 25-20 op laasgenoemde se tuisveld verhang.

Klerksdorp se losskakel, MJ Mostert, was weer uitstaande. Hy het sy 20 punte met die skopskoen in die halfeindronde met nog 15 punte in die eindstryd opgevolg.

Mostert het een van sy span se drie drieë gedruk, twee daarvan verdoel asook met ‘n strafdoel en ‘n skepdoel geslaag om op al vier manière punte aan te teken. Op die ou einde was dit egter nie genoeg nie.

Secunda het op sy tuisveld in die Bowl-eindstryd ‘n naelskraapse sege van 19-18 oor Die Anker van Brakpan deurgetrek. Die besoekers het rustyd ‘n voorsprong van 10-8 geniet en dit self na 18-8 in die tweede helfte gerek.

Secunda se vleuel Luan Lottering het met enkele minute oor in die kragmeting gaan druk en daarna ook sy eie drie verdoel om aan sy span die titel te besorg.

Die kampioen se flank Hanré Hattingh asook die slot Jayden Veldman het ook ‘n reuse aandeel tot hul span se sege gehad.

Oakdale Landbou het in die Agter-Paarl vir die eerste keer sedert 2010 daarin geslaag om Boland Landbou hier uit te oorlê. Die span van Riversdal was met 26-17 baas.

Sy binnesenter, Kobus Janse van Rensburg, asook die flank en kaptein, Francois du Toit, was aan die voorpunt van die sege. Die slot André Goedhals, het ook ‘n reuse vertoning gelewer.

In 2010 was Oakdale naelskraaps met 3-0 baas danksy ‘n strafdoel deur Christiaan Rust. Dit was ook Oakdale se eerste sege in die interskole sedert 2017.

Die Hoërskool Trio se sprokiesverhaal in sy eerste seisoen duur net voort. Die span van Kroonstad het Saterdag op Shimlapark in Bloemfontein die titel as kampioen van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga verower.

Trio het vir Jim Fouché van Bloemfontein in ‘n klipharde eindstryd met 21-19 verslaan. Die span se binnesenter, Michiel Heyns, was ongelooflik op die dag, terwyl die slot Henco Kriek ook ‘n reuse vertoning opgedis het.

In die Irawa-liga se eindstryd het Bothaville vir St. Andrews van die Rosestad met 31-8 afgestof, terwyl Vrede met 68-22 in die Colts-eindstryd oor heeltemal te veel skietgoed vir Curro Kathu beskik het.

In die suidelike voorstede van Kaapstad het Rondebosch Boys’ High vir Bishops met 43-26 verslaan, terwyl Wynberg Boys’ High vir SACS met 16-5 slae gegee het.

In die Oos-Kaap moes Framesby sweet om Nico Malan van Humansdorp met 16-13 te troef. Framesby was met 94-7 in die laaste kragmeting tussen die twee skole baas so die manne van Humansdorp het sonder twyfel die gaping heelwat sedertdien ingekort.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.