14 Boishaaiers tem vir Paul Roos, terwyl Grey en Affies vir ‘n skouspel sorg
Daar was hoogdrama in die Markotter-stadion waar die Hoër Jongenskool Paarl ‘n roemryke sege oor Paul Roos Gimnasium behaal het waaroor daar nog lank oor gepraat sal word.
Boishaai het sonder twyfel nie as die gunsteling na Stellenbosch gereis. Die besoekers se ondersteuners sou dus na slegs 18 minute se spel toe sy staatmaker kantman Divan Fuller met ‘n rooikaart van die veld gejaag is, sonder twyfel gedink het dat dit ‘n lang dag in die Eikestad sou wees.
Boishaai het egter hierna diep gedelf en danksy die leiding van sy kaptein en haker, Juan Smal, daarin geslaag om ‘n voorsprong van 21-0 op te bou.
Smal het die jong span van Boishaai van voor gelei tot ‘n oorwinning van 35-15. Dit was veral voorlangs waar die besoekers van die Paarl hul man moes staan teen ‘n swaerder agttal.
Die wenspan se ander flank, Matthew Fick, het weer die veld vol gespeel. Hy sal sonder twyfel ‘n sterk aanspraakmaker wees vir ‘n plek in die Westelike Provinsie se Cravenweek-span danksy sy sterk vertonings die afgelope paar weke.
Boishaai se losskakel, Thurlon Williams, het dalk verlede week teen Grey-kollege sy skopskoene in die Paarl vergeet, maar hulle was ingepak vir die besoek aan Stellenbosch. Hy het met al sy stelskoppe geslaag.
Hy, die skrumskakel, Juan Loots, en die buitesenter, Shah-Jehaan de Jongh, het agterlangs skitterende vertonings gelewer. Voorlangs was die slotpaar, Ben Heydenrych en Van Heerden Pretorius, was saam met hul kaptein en Fick ysters voorlangs.
In Pretoria het Grey-kollege en die Afrikaanse Hoër Seunskool vir ‘n skouspel van skolerugby vir die 15 000 toeskouers by die veld asook die naastenby 30 000 kykers wat die wedstryd regstreeks op YouTube gekyk het, gesorg.
Grey se skrumskakel, Caleb Abrahams, was uitmuntend. Hy was aan die spits van sy span se aanslag in die eerste wat gehelp het dat hulle met die omdraaislag ‘n gerieflike voorsprong van 29-5 geniet het.
Die Wit Bulle het goed teruggeveg in die tweede helfte en op ‘n stadium die agterstand tot slegs 24-29 ingekort. Sy haker, Hanro Venter, het twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Buiten Abrahams was die slot JF van Heerden ook uitstekend vir Grey. Die span van die Rosestad se agttal speel met heelwat meer ywer met hom in hul midde.
Die wedstryd was teen ‘n ongelooglike pas gespeel en die toeskouers sal gewis met die volgende Curriebeker-wedstryd aan die slaap val na hul die skouspel gesien het.
In Kaapstad het Bishops vir die eerste keer vanjaar sy rieme styfgeloop. Dit was ook sy eerste wedstryd op sy tuisveld, Piley Rees, vir die seisoen. Wynberg Boys’ High het die kragmeting met 20-14 gewen en daar is nou geen onoorwonne span onder die voorste 20 skole in die land oor nie.
In die Beker-afdeling van die Noordvaal-trofee was daar ook heelwat drama. Dr. EG Jansen van Boksburg het ‘n naelskraapse sege van 19-18 oor Noordheuwel in Krugersdorp behaal, terwyl Waterkloof ook bloed gesweet het om Marais Viljoen met 17-11 te verslaan.
Garsfontein het op sy tuisveld, Berepark, die bordjies behoorlik teen die verdedigende kampioen van die reeks, Menlopark, in hul plaaslike derby verhang. Garsies was gemaklik met 34-8 baas.
Menlopark het in die twee spanne se laaste kragmeting in 2019 met 72-40 in die halfeindronde van die reeks koning gekraai. Die nederlaag sou lekker met die Bere gesit het nie, veral omdat hy destyds die wedstryd sonder SA Skole-spelers moes aanpak.
Garsies se woelige haker, De Wet Lottering, het ‘n driekuns aan drieë in gister se sege behaal. Hy behoort ‘n sterk aanspraakmaker vir ‘n plek in die Blou Bulle se Cravenweek-span te wees.
Garsies se skrumskakel, Steven Nel, was ook weer op sy stukke. Hy is ‘n skrumskakel wat die basiese vaardighede van ‘n skrumskakel uitstekend verrig. Sy besluitneming is egter een van sy grootste bates.
In Bethlehem sal Voortrekker vir die volgende jaar so ietwat meer breebors as Witteberg kan rondloop. Die Trekkers het die jaarlikse Classic Clash tussen die twee spanne met 20-16 gewen.
In nog ‘n Classic Clash in die sentrale streek het Sentraal in die doodsnikke gaan druk om vir Jim Fouché met 29-26 te troef. Fichardtpark het waarskynlik vir die eerste keer in dekades daarin geslaag om vir Louis Botha te klop toe hy met 34-18 as oorwinnaars van die veld gestap het.
AL DIE UITSLAE:
NOORDVAAL-TROFEE
Afdeling 1
Beker-kompetisie: EG Jansen 19, Noordheuwel 18; Garsfontein 34, Menlopark 8; Waterkloof 17, Marais Viljoen 11.
Plaat-kompetisie: Montana 20, Transvalia 19; Eldoraigne 18, Zwartkop 12.
Skild-kompetisie: Heidelberg Volkskool 45, Jeugland 14; Lichtenburg 24, Hugenote (Springs) 17.
Bowl-kompetisie: Die Anker 45, Hoërskool Alberton 16; Potchefstroom Volkskool 23, Secunda 22; Wesvalia 27, Centurion 17; Hoërskool Pietersburg 37, Dr. Malan 15.
Afdeling 2
Blou Bulle: Midstream College 45. Wonderboom 3;
Goue Leeus: Potchefstroom Gimnasium 38, Dinamika 33; Randburg 25, Linden 10.
Limpopo: Merensky 33, HTS Tom Naudé 14;
Pumas: Rob Ferreira 15, Pionier 6;
Valke: Oosterlig 27, Hans Moore 13;
Afdeling 3
Goue Leeus: Fochville 20, Bastion 10
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Sentraal 29, Jim Fouché 26; Voortrekker 20, Witteberg 16; Noord-Kaap 24, Duineveld 14; Fichardtpark 34, Louis Botha 18; President Steyn 28, Brandfort 22; Wilgerivier 22, Bothaville 13; Hennenman 42, Theunissen 12.
NOORDVAAL
Grey-kollege 43, Affies 24; King Edward VII 33, St. John’s College 7; St. Stithians College 36, Northcliff 26; Herronbridge College 27, Fourways 0.
OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL
Marlow Landbou 22, Framesby 3; Hilton College 40, Westville Boys’ High 0; Selborne College 17, Dale College 0; Grey High School 30, Graeme College 3; Muir College 34, Pearson 22; Brandwag (Uitenhage) 53, Humansdorp Sekonder 15; Glenwood 26, Clifton 10; Queen’s College 26, Hudson Park 15; Itembelihle 27, Cillie 10.
WES-KAAP
Hoër Jongenskool Paarl 35, Paul Roos 15; Paarl Gimnasium 26, Boland Landbou 21; Wynberg Boys’ High 20, Bishops 14; Stellenberg 81, Tygerberg 7; Durbanville 50, Parel Vallei 10; SACS 35, Brackenfell 5; Hoërskool Bellville 20, Hugenote (Wellington) 17; Excelsior 24, Scottsdene 12; Swartland 21, Vredenburg 12; Edgemead 15, JG Meiring 8; HTS Bellville 32, Primrose-klub 14; Worcester Gimnasium 34, Strand 19; Westerford 27, Masiphumelele 14; Charlie Hofmeyr 37, Oakdale Landbou II 33; Robertson 43, Hermanus 7; Overberg 60, Hoërskool Langenhoven Gimnasium 7.




