WP-speelstyl het Grey se EW na Kaap gelok
DIE speelstyl van die Westelike Provinsie was die groot trekpleister vir Grey-kollege se heelagter, EW Viljoen en daarom het hy besluit om sy loopbaan volgende jaar in Kaapstad voort te sit.
“Ek hou van die soort rugby wat hulle speel en die Westelike Provinsie was altyd nog my tweede span wat ek ondersteun het. Ek is nog altyd ‘n Cheetah-ondersteuner gewees,” het Viljoen oor sy skuif gesê.
Viljoen sal ook heel moontlik kans kry om sy vaardighede in sewesrugby aan te vul. Viljoen sou reeds deel van die nasionale o.18-sewesspan gewees het, wat vroër vanjaar die goue medalje op die Australiese Jeug Olimpiese-fees verower het. Hy moes hom egter kort voor die span se vertrek weens siekte aan die span onttrek.
Viljoen kan indien hy op sy goeie vertonings voortbou ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n plek in die Suid-Afrikaanse Skole-span wees. Die span word na afloop van die 50ste Cravenweek-toernooi vir hoërskole gekies wat van 7 tot 13 Julie in Polokwane aangebied word.
Hoewel die Vrystaat-span nog nie gekies is nie, behoort Viljoen die laaste vesting vir dié span te beman. Vrystaat kom op die tweede dag van dié toernooi teen Oostelike Provinsie in sy eerste wedstryd te staan.
Viljoen was met 43 punte die voorste puntemaker op die Grant Khomo-week vir o.16-spanne in 2011. Dié Vrystaat het dié toernooi onoorwonne afgesluit.
“Ek hou baie van die manier hoe die Waratahs se heelagter Israel Folau en die Reds se losskakel Quade Cooper speel,” het Viljoen oor sy rolmodelle vertel.
Viljoen is boonop ‘n begaafde krieketspeler. Hy was in 2011 die vinnigste snelbouler op die nasionale o.17-krieketweek in Bloemfontein. Hy was op dié week die Vrystaat se voorste bouler sowel as kolwer.
Hy sou verlede jaar op die Khaya Majola-week in Potchefstroom gespeel het, maar oor sy verpligtinge met die nasionale skole-sewesspan het hy weer aan die o.17-krieketweek deelgeneem.
“Ek glo ek gaan nog krieket speel omdat ek dit geniet, maar net vir die lekkerte,” het Viljoen gesê.
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22
- Gekweste Wit Bulle sal teen Grey wil wys dat hulle steeds kan storm - 2025-03-20