SuperSport Schools Plus

Wit Bulle weer eerste aanslag van die seisoen teen die Donkies af

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2021-04-25 Tags: ,

NewsGMonnasDie Wit Bulle van die Hoërskool Monument het sy skool se 100ste bestaansjaar met ‘n naelskraapse sege van 28-26 oor HTS Drostdy van Worcester in die hoofwedstryd van sy Monnas Eeufees-toernooi in Krugersdorp afgeskop. Die gasheer het teen rustyd ‘n voorsprong van 21-11 geniet.

Monnas beskik oor ‘n makro-agttal, maar daar lê nog werk voor vir die pak voorspelers om as ‘n eenheid saam te speel. Indien dit die dag gebeur, voorspel ons dat daar min spanne die Wit Bulle vanjaar sal kan stuit.

Die Donkies was Worcester het egter nie ‘n tree vir die fisieke aanslag van Monnas se agttal terug gestaan nie. Die besoekers se losskakel, JP Britz, het na die spanne vir 20 minute behoorlik onder mekaar ingeklim het met ‘n strafdoel die eerste punte aangeteken.

Vanaf die daaropvolgende afskop van Monnas trek nie tien tree nie en boonop wip die bal nog terug tot verby die halflyn waar Drostdy se spelers besluit om wel aan te speel.

Minder as ‘n minuut na die afskop sny die Donkies se buitesenter, Percy Basson, soos ‘n warm mes deur botter regdeur Monnas se agterlyn om agter die doellyn te gaan kuier. Basson het in die tweede helfte weer hakskene vir Monnas se verdedigers gewys om sy span se kanse in die kragmeting lewendig te hou. 

Monnas se kaptein en loskopstut, Jan-Hendrik Bessinger, het sy span se eerste drie gedruk na die binnesenter, Conrad Seventer, self ‘n bres in Drostdy se verdediging geslaan het. Bessinger was soos ‘n losvoorspeler byderhand om die laaste aangee te ontvang toe Sevenster voor die doellyn platgetrek is.

Monnas se groot agtsteman, Tiaan Wessels, het met ‘n duikslag die aanvoorwerk vir Evan Retief se tweede drie gedoen. Wessels het in 2019 vir HTS Middelburg se Rooi Bulle uitgedraf, maar het intussen die rooi stof afgeskud om ‘n Wit Bul te raak. 

Monument se volgende kragmeting is Dinsdag op die eerste dag van die Barloword Toyota Noord/Suid-toernooi teen die Hoërskool Stellenberg. HTS Drostdy kom Maandag teen die Hoërskool Ben Vorster in die hoofwedstryd van Monnas se Eeufees-toernooi te staan. 

FOTO: Marius Nortjé

Puntemakers: 

Monument 28 (21) – Drieë: Evan Retief (2), Jan-Hendrik Bessinger, Deon Groenewald. Doelskoppe: Alec Vermaak (4). HTS Drostdy 26 (11) – Drieë: Percy Basson (2), Nayren Solomons. Doelskop: JP Britz. Strafdoele: Britz (3).

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.