Wilgerivier sorg vir opskudding in Griffon-liga
Johannesburg. – Die Hoërskool Wilgerivier van Frankfort se eerste rugbyspan het vir ’n opskudding in die Griffon-liga gesorg deur Hentie Cilliers van Virginia met 22-19 te troef.
Wilgerivier is vanjaar ’n nuweling in die Griffon-liga en het reeds twee seges na drie rondes op sy kerfstok. Die sege in Virginia is meer indrukwekkend as sy vorige sege teen die Hoërskool Kroonstad (43-8).
Wilgies het met die oorwinning oor Henties gewys dat die ander spanne in die liga hom nie durf onderskat nie. Hulle het teen lemoentyd ’n voorsprong van 19-12 geniet. Vir Henties het sy senterpaar, William Hendricks en Ruben Pretorius, goeie vertonings gelewer.
Voortrekker van Bethlehem is vinnig besig om momentum op te bou. Die Trekkers het Goudveld-Hoërskool in Bethlehem met 43-22 die loef afgesteek.
Die wenspan se woelige haker, Tiaan van Zyl, is vir sy goeie spel in die vastelos met twee drieë beloon. Hy is goed voorlangs deur die loskopstut, Francois Klopper, ondersteun. Agterlangs was die binnesenter, Bertus Kleynhans, soos gewoontlik op sy stukke.
Welkom Gimnasium het sy segetog in die Griffon-liga met ’n oortuigende oorwinning van 70-5 oor Hoërskool Kroonstad voortgesit. Veral die haker en kaptein, Duke Jantjes, en die losvoorspeler, JJ Scheepers, was dorings in Bloues se vlees.
Die stut, Knox Stevens, het ook met sy kraglopies meters ver veld op ’n slag gewen. Agterlangs het Jason Wagman sy veelsydigheid ten toon gestel en op losskakel ook ’n goeie wedstryd beleef.
Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het ook begin ratte verwissel. Rooiskool het HTS Sasolburg met 74-0 verniel na hy teen rustyd reeds met die telling op 40-0 stewig in die saal was. Die agtsteman, Dian de Beer, flank DJ Hattingh en die buitesenter, Zak van Niekerk, het almal skitterende wedstryde beleef. Al drie het ook daarin geslaag om die Spanners se doellyn twee keer oor te steek. Die binnesenter, Martin Steyn, verdien ook ’n klop op die skouer vir sy vertoning.
Witteberg moes op sy tuisveld in Bethlehem hard werk om HTS Welkom met 28-26 uit te oorlê. Wittes se slot Dirko Grobler het in die lynstane ’n hele paar keer daarin geslaag om die Tekkies van besit te ontneem. Hy het ook in die los gewoel.
Die span se kaptein en senter, Rudolph van Biljon, het op die verdediging asook op die aanval vir Tekkies probleme besorg. Hy is veral op die aanval goed deur die skrumskakel, Jason Roux, bygestaan. Voorlangs kan die stut JW Meads ook tevrede voel met sy vertoning.
Vir die Tekkies was niemand beter as sy flank Aobakwa Matshidisho nie.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




