SuperSport Schools Plus

Wesvalia vuur eerste waarskuwingskote

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-07 Tags: , , , , , , , , ,

Foto: Absolute Photos – Dirkie Groenewald

Die verdedigende kampioen van die Kovsie Smash-toernooi, Hoërskool Wesvalia, het uiteindelik die geleentheid gekry om sy staal te wys nadat Dag 1 geen speelkans vir die span van Klerksdorp gebied het nie.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Wessies se eerste kragmeting was met Bethlehem Voortrekker, maar hulle het gemaklik, met ses paaltjies, oor dié eerste hekkie geseil.

Verlede jaar se speler van die toernooi, die veelsydige Eduard Dreyer, was oudergewoonte voor in die koor en het vir die soveelste keer amok gesaai met sowel die bal as kolf gesaai. Dreyer het gespog met boulsyfers van 2/16 en ook die hoogste telling van 22 met die kolf aangeteken om sy span tot oorwinning te lei.

Dundre Hales het die kollig met Dreyer gedeel. Hales, wat vir sy vaardighede met die bal gekies is, het sy reputasie gestand gedoen om drie paaltjies vir 23 lopies te laat kantel en dit het aan hom die toekenning as speler van die wedstryd besorg.

Tot die teleurstelling van die ondersteuners uit Bethlehem was dit slegs Paul Naudé wat iets gehad het om oor huistoe te skryf. Naudé het sy kolfvernuf tentoongestel om ‘n stewige beurt van 34* aanmekaar te slaan, en het bykans die helfte van sy span se totaal bygedra.

Hoërskool Rustenburg het sy greep op Groep B verstewig met nog ‘n uitmuntende vertoning in moeilike kolftoestande. Dié keer was dit Tristan van der Linde se beurt om die Driehoek-boulers te kasty.

Hy het slegs 48 aflewerings benodig om 75 lopies te moker. Die aanvangskolwer se beurt het 11 grenshoue ingesluit, waarvan 10 viere was en een anderkant van die tou grondgevat het.

Driehoek se Lucius Goosen het kopgehou onder die druk en drie paaltjies laat kantel om met syfers van 3/32 aan die einde van sy toegelate vier beurte te spog. Aanvangsbouler Baba Metsileng het ‘n blaadjie uit Goosen se boek geneem en sy skof van 3/25 in die drie beurte wat hy afgestuur het, tesame met ‘n bydrae van 2/3 deur Lamarck Henry, het die span van Vanderbijlpark tot 85 beperk om ‘n oorwinning met 67 lopies te verseker.

Overvaal se boulers het Merensky Landbou Akademie se kolwers behoorlik laat les opsê. Roche le Roux (3/14) was aan die spits en het in ‘n oogwink drie slagoffers geëis. MJ van Wyngaard (2/12) en Janco de Lange (2/16) het hand bygesit om die Plasies vir net 75 uit te boender.

Christiaan Schoeman se 26 lopies het ligte werk gemaak van die jaagtog om sy span met vyf paaltjies oor die wenstreep te kry.

Die gasheer, Hoërskool Fichardtpark, het aan die einde van sy tweede vertoning by die toernooi met nóg ‘n oorwinning gespog, dié slag oor die gevaarlike Duineveld.

Davyd Oosthuizen het die bal na alle uithoeke van die veld gejaag in sy beurt van 44* om te verseker dat die Fichies die teiken van 108 in die 17de beurt verbysteek. Kaptein, Stian Kruger, het van voor gelei met die bal en drie paaltjies vir net 16 lopies opgeraap, met Dylan Gerener (3/18) kort op sy hakke.

Beknopte telkaarte:

Bethlehem Voortrekker 88/9 (Paul Naudé 34*; Dundre Hales 3/23, Johanco Nel 2/15, Eduard Dreyer 2/16); Wesvalia 89/4 (Eduard Dreyer 22, Ekstras 21; Jordan Buitendag 2/17). Wesvalia wen met ses paaltjies.

Hoërskool Rustenburg 152/7 (Tristan van der Linde 75, Dehan Jacobs 26; Lucius Goosen 3/32, Durandt Lubbe 2/29); Driehoek 85 (Drikus Meiring 16; Baba Metsileng 3/25, Lamarck Henry 2/3, Keanu Janse van Vuuren 2/4). Hoërskool Rustenburg wen met 67 lopies.

Merensky 75 (Rinaldo Bornman 26; Roche le Roux 3/14, MJ van Wyngaard 2/12, Janco de Lange 2/16); Overvaal 76/5 (Christiaan Schoeman 26; Waldo Mouton 2/8). Overvaal wen met vyf paaltjies.

Duineveld 107/8 (Hanno Barnard 32; Stian Kruger 3/16, Dylan Gerener 3/18); Fichardtpark 108/5 (Davyd Oosthuizen 44*, Marno Smith 24, Aaron Isaacs 23*; Wilmar Myburgh 3/15). Fichardtpark wen met vyf paaltjies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.