Wessel Maree verhang die bordjies teen Steyners, Welkom Gim te giftig vir JF
Die seuns van Wessel Maree in Odendaalsrus het Saterdag soete wraak geneem op verlede jaar se 17-0 nederlaag teen President Steyn deur om die Bloemfonteiners op hul tuisveld met 13-0 af te stof.
Al die wedstryde op die A-veld van vanjaar se Hester van der Walt sportdag is beskikbaar op SuperSport Schools – Registreer nou
Die besoekers het van die begin af gewys dat hulle met ‘n duidelike doelwit hierdie jaar opgedaag het. Hul agtsteman, Ntute Tsotsotso, het vroeg in die wedstryd ‘n strafdoel oorgeklits om aan sy span die voorsprong te gee.
Met die gang van die wedstryd asook die wind van agter het Wessel Maree die Steyners onder druk gedurende meeste van die eerste helfte gehad. Die groot loskopstut, Thabang Lenyane, en sy makkers het die tuisspan sag gemaak om vir Thato Lebitso (vleuel) toe te laat om die eerste drie van die hoofwedstryd te druk.
Sy spanmaat op die ander vleuel, Kabelo Oliphant, was ook deurlopend betrokke en saam met heelagter Kamohelo Ntaje kon die trio die gasheerspan se skoptaktieke tot niet lê.
Die Steyners het hul voete in die tweede helfte gevind en kon Wessel Maree onder baie druk sit, maar hulle kon net nie oor die lyn kom nie.
Hierdie byeenkoms se doel is egter juis om vir die spelers ‘n geleentheid te gee om die roes van die vakansie af te skud terwyl die afrigters nog ‘n laaste paar toetslopies op die proef kan stel.
Welkom Gimnasium het vroeg in hul wedstryd teen Jim Fouché ook nog tekens gewys van ‘n lang vakansie, maar nadat hulle teen rustyd nog net ‘n twee-punt voorsprong geniet het kon die Gimmies weer hul kenmerkende ritme vind.
JF het die eerste punte aangeteken deur hul binnesenter, Heinrich Hattingh. Hy het daarna gedurig op Welkom Gimnasium se doellyn geboer.
Die Gimmies het van tyd tot tyd oplewing getoon van die tipe rugby waartoe hulle in staat is, soos toe Renaldo Kiewiet (losskakel) en Ethan Jones (agsteman) kragte saam gespan het, om vir hulle die voorsprong voor rustyd te gee.
Daar was egter ‘n hele paar kanse wat net nie uitgewerk het nie, en toe Jones in die tweede helfte sy tweede geelkaart ontvang het dit gelyk asof daar ‘n gulde geleentheid is vir die Bloemfonteiners om terug te veg.
Jim Fouché het vir ‘n oomblik die voorsprong geniet na ‘n strafdoel deur sy losskakel, Alldrick Johnson, maar die momentum het kort daarna geswaai toe Kiewiet terugslaan met een van sy kenmerklike skepskoppe.
Toe die span van Welkom eers hul ritme begin vind het die damwal gebars met nog drieë deur die slot, Jayden Auld, en blitsige Revaldo Farmer wat van die plaasvervangersbank sy verskyning gemaak het.
Asook danksy skitterende skopwerk deur Kiewiet, kon verlede jaar se Kovsie-kampioen hul seisoen met ‘n indrukwekkende 31-13 sege begin.
Wolmaransstad se losskakel, Christopher Dennis, het ook sy span tot ‘n klinkende sege gelei teen Bultfontein.
Dennis kon 13 punte aanteken met twee drieë en ‘n strafdoel in hul 20-7 oorwinning.
Postmasburg en Brandfort het sussies gesoen op 24-elk. Greyven Demspey (agsteman) kon twee keer agter Postmasburg se doellyn gaan kuier terwyl sy teenorgestelde nommer, Gordon Diergaardt, ‘n driekuns kon aanteken om sy span in die wedstryd te hou.
Postmasburg se klein skrumskakel, Maseru Koaho, het ook ‘n barshou vir sy span gespeel en kon in die doodsnikke druk en sy eie drie van ‘n uitdagende posisie af verdoel om die tellings gelyk te trek.
Puntemakers:
Wessel Maree 13 (8) – Drieë: Thato Lebitso, Mpumelelo Dumako. Strafdoel: Ntute Tsotstotso. President Steyn 0.
Welkom Gimnasium 31 (7) – Drieë: Ethan Jones, Renaldo Kiewiet, Jayden Auld, Revaldo Farmer. Doelskoppe: Kiewiet (4). Skepskop: Kiewiet. Jim Fouché 13 (5) – Drieë: Heinrich Hattingh, Alldrick Johnson. Strafdoel: Johnson.
Brandfort 24 – Drieë: Greyven Dempsey (2), Prince Mbulangwe, Altus Coetzee. Doelskoppe: Franco de Klerk, Amolang Maloisane. Postmasburg 24 – Drieë: Gordon Diergaardt (3), Maseru Koaho. Doelskoppe: Koaho (2).
Wolmaransstad 20 – Drieë: Christopher Dennis (2), Obakeng Lerole. Doelskop: Johan Erasmus. Strafdoel: Dennis. Bultfontein 7.
Hentie Cilliers 21 – Drieë: Meguel Davids, Mosa Sesedi, José Draaghoender. Strafdoele: Rorisang Marumo (2). Sentraal 5 – Drie: AJ le Roux.
Sand du Plessis 5 – Drie: Keanu Raferty. Hennenman 41.