SuperSport Schools Plus

Werk le nog voor vir Jong Bokkies

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-05-14

Daar is genoeg rede vir Dawie Theron om te glimlag, maar daar lê nog baie werk voor vir die Jong Bokkies indien hulle aanspraakmakers in vanjaar se o.20-Wêreldkampioenskap wil wees.

Die Jong Bokkies het Vrydag tien drieë in hul oefenwedstryd by die Universiteit van die Witwatersrand teen ’n gemengde span van die Goue Leeus se o.19- en o.20-span ingeryg.

Die span wat deur Theron afgerig word, het minstens nog vyf kanse om drieë aan te teken deur hul vingers laat glip.

Die Jong Bokkies het uiteindelik gemaklik met 60-19 as oorwinnaars van die veld gestap.

Die Wêreldkampioenskap vind volgende maand in Manchester, Engeland, plaas.

Die Bokkies se haastige vleuel en vanjaar se Varsitybeker-Speler van die Jaar, Mosolwa Mafuma, het gewys dat hy nie te veel spasie gegun kan word nie. Mafuma het vier keer in die wedstryd die doellyn oorgesteek.

Mafuma en sy vleuelmaat, S’busiso Nkosi, kan indien hulle genoeg gehaltebalbesit ontvang teen enige span skade aanrig.

Die skrumskakel van die Hoërskool Garsfontein, Embrose Papier, het in sy helfte gewys dat daar nie ’n skrumskakel in Suid-Afrika op o.20-vlak is wat oor dieselfde aanvallende vermoë as hy beskik nie. Hy sal wel nog aandag aan sy taktiese skopwerk moet gee. Hy is rustyd deur Marko Janse van Vuren vervang wat self ’n goeie diens van agter die oond gegee het.

“Ons kan nie te opgewonde oor die sege raak nie, daar is heelwat foute, maar ons kan die foute regstel en daar lê gewis nog werk vir ons as span voor. Ons moet beter na ons balbesit kyk, maar ek dink dit is dalk ’n bietjie oorgretigheid. Ek is wel baie tevrede oor ons skrumwerk, asook die dryfwerk van die lynstane af,” het Theron gesê.

Die Jong Bokkies se lynstane het ook goed gelyk in die eerste helfte, maar die Leeus het in die tweede helfte ’n hele paar keer daarin geslaag om besit hier te steel, terwyl daar ook ’n paar ingooie nie op ’n tiekie was nie.

“Elke jaar is daar ’n nuwe groep met nuwe karakter waarmee ons werk. Ek sou sê vanjaar se groep het nogal baie energie. Ons wil nie dié energie en ondernemingsgees, wat natuurlik vir die span kom, onderdruk nie, maar op die wêreldkampioenskap gaan ons toetsrugby speel. Die span het die vermoë om spasie vir die vleuels te skep en ons sal dit ook tot ons voordeel gebruik,” het Theron gesê.

Die Jong Bokkies se loskopstut in die eerste helfte, Kwenzo Blose, het slegs vyf maande gelede eers na die voorry geskuif. Hy het verlede jaar nog op die Akademie-week vir KwaZulu-Natal op slot gesak. Die werk wat Stephan Jacobs by die Kovsies se Young Guns in Blose se skuif ingesit het, verdien vermelding.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.