Welkom Gimnasium sal nie vir Hoërskool Upington onderskat nie

Welkom Gimnasium beoog om Saterdag die Kovsiestreekkompetisie se Shimlaliga-titel weer terug in Welkom te kry, nadat dit verlede jaar in Kroonstad by Hoërskool Trio staanplek gekry het.
Eers sal hulle egter verby Hoërskool Upington moet kom.
Die twee pak mekaar om 14:50 in Bloemfontein by Shimla-Park om te bepaal wie vanjaar se kampioene sal wees.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou
Welkom Gimnasium betree die wedstryd definitief as die gunsteling span.
Die Gimmies beleef ‘n droomseisoen, en sit gereeld meer as 40 punte tussen hulself en teenstanders.
Renaldo Kiewiet (loskakel) lei hul aanval van voor, maar die span is vol gevaarpunte. Die Goeda-tweeling, Naylan (heelagter) en Navan (vleuel), die twee slotte, Jayden Auld en Tristan Appollis, hul haastige agsteman, Ethan Jones, almal het die vermoë om ‘n verdedigingslyn te breuk en mens kan dit opmerk in die tellings wat hulle hierdie jaar behaal het.
Kiewiet was in die halfeindstryd weer drie keur agter die doellyn. Hy is waarskynlik die voorste driedrukker in die land op die oomblik.
As daar ‘n span is wat vir Welkom Gimnasium kan ontstel is dit Hoërskool Upington.
Uppies het verlede naweek alle verwagtings oorskrei om Fichardtpark se droomseisoen met 53-19 kort te knip.
Hoërskool Upington is ‘n trotse skool met ‘n sterk rugby-geskiedenis. Die Springbok losvoorspeler, Jasper Wiese, is die nuutste Springbok wat eers in die oranje trui gespeel het, maar voor hom was daar ook Tiaan Strauss, Willem Barnard en Daantjie Rossouw.
Hierdie jaar word daardie sterk tradisie bewaar deur spelers soos die neefs, PA Karsten (stut) en Roelof Slabbert (haker) wat langs mekaar sak.
Hul oupa, Piet Karsten het ook vir Upington gesak op stut, voordat hy vir Noord-Weskaap uitgedraf het.
PA Karsten se pa, Piet, was die eerstespan losskakel op sy dag, en Roelof Slabbert se pa, Rudi, was binnesenter.
Die Uppies-manne is verlede jaar in die halfeindstryd uitgeskop met ‘n 38-17 nederlaag teen Jim Fouché, so hulle het al reeds verbeter. Hulle het reeds die Griekwaland-Wes titel verower, maar die Kovsie-beker sal ‘n groot bonus vir die span uit die Noord-Kaap wees.
Upington sal moet staatmaak op hul groot voorspelers om die spel te vertraag indien hulle die Gimmies wil inperk.
Hul Cravenweek flank, Sipho Livingi, is nog heel jaar ‘n uitblinker en kan ‘n groot rol in Saterdag se wedstryd speel.
Die spanne is:
Welkom Gimnasium t. Hoërskool Upington om 14:50:
Welkom Gimnasium: 15 Naylan Goeda, 14 Navan Goeda, 13 Taschon Meas, 12 Mojalefa Matoka, 11 Khamohelo Mokoena, 10 Renaldo Kiewiet, 9 Julian Samuels, 8 Ethan Jones, 7 Rylen Kirsten, 6 Kganya Molapo, 5 Jayden Auld, 4 Tristan Appollis, 3 Keanan August, 2 Dante Smith, 1 Buhle Mxabayi.
Hoërskool Upington: 15 Ruwin Isaks, 14 Khayalenkosi Maganga, 13 Sylvester Hoffman, 12 Siphe Msebenzi, 11 Louwan Harper, 10 Emlyhn Jacobs, 9 Neil Petro, 8 Jaco Fourie, 7 Sipho Livingi, 6 Roedolf Duraan, 5 Johan Louw, 4 Ruan Janse van Rensburg, 3 Niel Visser, 2 Roelof Slabbert, 1 PA Karsten.
Die dag se bepalings:
08:30 (o.16 Colts) – St Andrews t. Brandfort.
09:40 (o.15 Irawa) – De Aar t. Bultfontein.
10:50 (o.15 Shimla) – Voortrekker t. Fichardtpark.
12:00 (o.19 Colts) – Postmasburg t. Hoopstad.
13:25 (o.19 Irawa) – St Andrews t. Wilgerivier.
14:50 (o.19 Shimla) – Welkom Gimnasium t. Hoërskool Upington.