SuperSport Schools Plus

Vrystaat steeds onoorwonne op Coca-Cola Cravenweek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-07-19

NewsGVrystaatDie Vrystaat het sy onoorwonne status op vanjaar se 54ste Coca-Cola Cravenweek vir hoërskole op St Stithians College behou deur die Pumas met 63-41 kaf te draf. Die span van Bloemfontein het teen ‘n hoë spoed weggevlieg en teen die 12de minuut ‘n voorsprong van 21-3 opgebou.

Die wenspan se haastige vleuel Janco van Heyningen is in die 22ste minuut deur die skeidsregter, Stephan Geldenhuys, vir tien minute koelkas toe gestuur. Die Pumas het toe terruggeveg en die Vrystaat het met slegs ‘n voorsprong van ‘n enkele punt met die telling op 21-20 gaan rus. 

Die spanne was in ‘n wipplankstryd in die tweede helfte gewikkel voordat die Vrystaat uiteindelik die wedstryd weggeneem het. Die Pumas kon nooit die voortou neem nie, maar het nog ‘n verdere twee keer ‘n agterstand uitgewis om slegs met ‘n enkele punt agter te loop.

Die Vrystaat se losskakel, Christopher Schreuder, het al nege van sy span se drieë verdoel. Hy het self ook een van die drieë gedruk vir ‘n persoonlike bydrae van 23 punte in die sege. 

Voorlangs het die flank Marcel Theunissen een van sy beste vertonings tot dusver vanjaar op ‘n rugbyveld opgedis, terwyl die haker, Varkie Greyling, sy span op die voorvoet met sy inklimspel in die vastelos. 

Hoewel daar kommer was oor of die Vrystaat se kaptein en senter, Rikus Pretorius, dalk die wedstryd weens ‘n besering kon misloop, het hy agterlangs ‘n hele paar keer vrae aan die Pumas se verdediging gevra. Die Vrystaters se beste agterspeler op die dag was eger sy heelagter, David Kriel. 

Dit het elke keer ‘n hele paar verdedigers geneem om Kriel te stuit. Hy het na hy nie meer veld kon wen nie ook ‘n hele paar keer die bal in die duikslag uitgegee.

Puntemakers:

Vrystaat 63 (21) – Drieë: Rikus Pretorius (2), Ruhann Greyling (2), Marcel Theunissen, Arno Nieuwoudt, Keaton Swarts, Janco van Heyningen, Teboho Rampai. Doelskoppe: Christopher Schreuder (9). Pumas 41 (20) – Drieë: Teboho Mosia (2), Prince Nkabinde, Tiaan de Beer, Stephan van der Bank, Thabiso Mkwebane. Doelskoppe: Van der Bank (4). Strafdoel: Van der Bank. 

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.