SuperSport Schools Plus

Vrystaat se tempo te veel vir Griekwa-platteland

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-16

NuusG VrystaatDie tempo waarteen die Vrystaatse o.18-rugbyspan gespeel het, het aan hom die deurslag in sy sege van 43-3 oor sy eweknie van Griekwa-platteland op Diamantveld se hoofveld hier gegee.

Vrystaat het met ‘n voorsprong van 12-3 gaan rus na ‘n eerste helfte waarin sake baie gelyk verloop het. Die Vrystaters se tempo het egter die deurslag in die tweede bewerkstellig.

As daar een aspek van die spel is waaroor die plattelanders vandag breebors oor sal rondloop is dit oor hulle lynstane wees. Die span het gehalte besit vanaf die afdeling van die spel gekry. Albei die hakers, Dick Taliesen en Dolf Zandberg, se ingooiwerk in die lynstaan was van hoogstaande gehalte.

Die span se SA Skole-flank, Cobus Wiese, het ook goed in die lynstane gerank. Hy het in die vastelos ook probleme vir die Vrystaters besorg. Indien hy op dié vertoning kan voortbou sal hy gewis weer ‘n sterk aanspraakmaker wees om die nasionale skolespan te haal.

Sy tweestryd met sy direkte teenstander, Jurie Burger, was wel baie na aan ‘n gelykopstryd. Burger wat ook oorspronklik van Upington is, is soos Wiese eintlik ‘n slot wat na die kant van die skrum geskuif het. Burger was ongetwyfeld een van die Vrystaters se beste spelers op die veld. Sy ouer broer, Junior Burger, het Griekwa-platteland se span na die Cravenweek in 2013 aangevoer.

Daar moet ook genoem word dat die Vrystaat se ander twee losvoorspelers die agsteman Dian Schoonees en plaasvervanger-flank Siya Luwaca ook ‘n reuse aandeel in die sege gehad het. Albei het met die bal in die hand en sowel as op die verdediging uitgetroon.

Schoonees het met sy drie ‘n losbal naby die middellyn opgepik en vir al Griekwa-platteland se verdedigers hakskene gewys. Nie eers die verloorspan se heelagter, Benna Nieuwoudt, kon hom inhaal nie.

Die Vrystaat sal gewis hierdie week aan hulle lynstaanspel aandag gee. Die span het heelwat in die afdeling gesukkel.

Agterlangs was die binnesenter, PR Serfontein, uitstaande. Hy het ‘n hele paar keer bresse in die verdediging geslaan en ook op die verdediging was hy rotsvas gewees. Hy en Francois Aggenbach het ook goed in die middelveld gekombineer.

Puntemakers:

Vrystaat o.18 43 (12): Drieë: Luciano Jones, Kian Skippers, Siya Luwaca, George Rossouw, Dian Schoonees, PR Serfontein, Gideo Beukes. Doelskoppe: Tiaan Schutte (2), Niel Durow (2). Griekwa-platteland 3 (3): Strafdoel: Benna Nieuwoudt.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.