Vrystaat het weer ’n nr. 10 van JF
Die Vrystaatse o.18-rugbyspan sal vanjaar op slegs vier spelers met vorige ervaring in die Cravenweek-toernooi vir hoërskole staatmaak.
Slegs die twee stutte, IG Prinsloo en Khanya Gela, die slot Kian Skippers en die flank Jurie Burger was ook verlede jaar vir die span in Middelburg (Mpumalanga) in aksie.
Prinsloo het verlede jaar die Suid-Afrikaanse Skole-span gehaal. Hy moet egter soos verlede jaar weer sy plek in die nasionale skolespan van die plaasvervangerbank oopspeel.
Dié span wat bekend gemaak is, is ’n voorlopige span vir die 52ste Cravenweek wat van 13 tot 18 Julie in Stellenbosch aangebied word. Min veranderinge word egter aan die span verwag.
Burger behoort weens ’n besering die Vrystaters se eerste opwarmingswedstryd teen Griekwaland-Wes Platteland Maandag op Hoërskool Diamantveld se hoofveld in Kimberley mis te loop.
Die keurders kon ook nie Louwtjie Steenkamp en Sentle Lehoko oorweeg nie, wat steeds op die krukkelys is. Albei was verlede jaar in die Cravenweek in aksie, maar sal nie betyds vir die toernooi herstel nie.
Vir die eerste keer sedert 2005 sal die Vrystaatse nommer 10-trui deur ’n speler van Jim Fouché gedra word.
JF se losskakel, Tiaan Schutte, het vanjaar met sy spel beïndruk en veral sy vertoning vir die Wildeklawer-span in Kimberley teen Louis Botha was van hoogstaande gehalte.
In 2005 was Bernd Theisinger van JF die Vrystaters se losskakel vir die Cravenweek in Bloemfontein. Die gasheer kon nie een van sy wedstryde daardie jaar wen nie. Theisinger het later die Cheetahs, Luiperds en Griffons se seniorspanne verteenwoordig.
Grey-kollege het soos gewoonlik die grootste verteenwoor- diging in die span met 13 spelers wat uit die land se voorste rugbyskool kom.
Agt spelers van die span is afkomstig van Louis Botha, terwyl Schutte die enigste verteenwoordiger van ’n ander skool is.
Die keurders het ook besluit om Niel Durow wat meestal die oond vanjaar vir Grey skoongemaak het, in die laaste vesting te kies. Durow het ook ’n hele paar keer in wedstryde van sy skoolspan vleuel gespeel wanneer Rewan Kruger hom op skrumskakel vervang het.
Wessel du Plessis van Grey rig saam met Louis Botha se Corné Erasmus die span af.Du Plessis het self in 2002 die Vrystaat in die Cravenweek-toernooi in Pietermaritzburg verteenwoordig.
Die span is:
Niel Durow, Godfrey Simelane, Francois Aggenbach, PR Serfontein (almal Grey), Luciano Jones (Louis Botha), Tiaan Schutte (Jim Fouché), Rewan Kruger, Diaan Schoonees, Jurie Burger (almal Grey), Jabulani Mtshatsheni, Kian Skippers (albei Louis Botha), George Rossouw, Gideo Beukes, Daniel Rust (almal Grey), Kanya Gela (Louis Botha). Plaasvervangers: Steph Brits, IG Prinsloo (albei Grey), Kagiso Marumo, Siya Luwaca (albei Louis Botha), Hardus Nel (Grey), Kyle Kermis, Tyrell Heyns (Louis Botha).




