Vrystaat, Griffons en Griekwas reg vir Noordvaal Bondedag
Die Noordvaal-Bondedag in die DP de Villiers-stadion in Sasolburg sal moontlik vandag ’n hele paar vrae vir die Vrystaatse o.18-span beantwoord.
Die Vrystaat kom in die vernaamste voorwedstryd vir die hoofwedstryd van die dag teen die Blou Bulle te staan. Die gasheer, die Valke, en die Pumas pak mekaar in die hoofwedstryd.
“Ons gaan nog ’n paar kombinasies in die wedstryd teen die Bulle toets. Dit is ’n lekker tawwe stryd om die proefnemings te doen en te sien of dit sal werk,” het Dirkie Groenewald, afrigter van die Vrystaat, gesê.
Die Vrystaat sal ook die wedstryd voor hul kragmeting tussen die Leeus en KwaZulu-Natal met belangstelling dophou. Die Vrystaat kom in sy eerste wedstryd teen die Leeus op die 51ste Cravenweek vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) van 14 tot 19 Julie te staan.
As die span dié wedstryd wen, sal hy heel moontlik in sy tweede wedstryd teen die Blou Bulle te staan kom. “Ons sal gewis iets uit ons wedstryd teen die Bulle leer wat ons dalk moontlik in die Cravenweek kan inspan,” het Groenewald gesê.
Die Ligbloues het ’n gedugte agterlyn gekies wat die Vrystaters behoorlik kan laat bontstaan.
Die skrumskakel Embrose Papier, buitesenter Franco Naudé en heelagter Eduan Keyter is almal sterk aanspraakmakers om later vanjaar die Suid-Afrikaanse Skole-span te haal. Die span se losskakel Tinus de Beer se taktiese skopwerk behoort een van dié span se bondgenote in die Cravenweek te wees.
Die Griffons sal hul kragmeting vandag teen die Limpopo Blou Bulle gebruik om nog ’n paar proefnemings voor die Cravenweek te doen.
Jaywinn Juries sal byvoorbeeld op heelagter in die wedstryd uitdraf, terwyl die heelagter Ezrick Alexander op vleuel sal speel. Jason Olivier sal in Juries se plek die oond skoonmaak.
Juries was in 2012 in die nasionale o.16-oefengroep.
Griekwaland-Wes sal sonder Nardus Bosman, wat die span teen die Vrystaat van die kant van die skrum aangevoer het, moet klaarkom. Bosman loop die wedstryd weens ’n eksamen mis.
Die Poubloues kom teen die Luiperds te staan wat vroeër vanjaar teen die Leeus met 28-0 verloor het. Die span se afrigter, Shaun Huygen, sê die span is redelik gevestig en dat hulle vandag sal gebruik om hul ritme vir die Cravenweek te vind.
Die span van die Noord-Kaap se losskakel Robbie Petzer en vleuel Wilfred Bowers behoort staatmakers te wees.
• Die Noordvaal-Bondedag se bepalings is:
09:00: Luiperds t. Griekwaland-Wes; 10:20: Limpopo Blou Bulle t. Griffons; 11:40: Leeus t. KwaZulu-Natal; 13:00: Blou Bulle t. Vrystaat; 14:20: Valke t. Pumas.