Vryburg, Ben Viljoen in binnebaan
Die Hoërskool Vryburg sal soos gewoonlik weer vanjaar een van die vroeë aanspraakmakers wees op die titel as kampioen van die Beeld Noordvaal Trofee vir mediumskole.
Vryburg is reeds as die Luiperds se kampioen gekroon, met die Hoërskool Brits wat as die naaswenner die uitspeelwedstryde betree.
Vryburg sal die Blou Bulle se naaswenner pak.
Die Wilgers en Midstream College sal op 25 Julie sake in die eindstryd van die Blou Bulle uitspook.
Die kampioen van die Blou Bulle sal regstreeks tot die kwarteindronde van die Beeld Noordvaal Trofee deurdring. Hy sal die wenner van Brits en die Pumas se naaswenner in die kwarteindstryd pak.
In die Pumas se halfeindstryde is Penryn College gasheer vir Bergvlam en Oosterland sê op sy tuisveld in Secunda Barbertondie die stryd aan.
■ Ben Viljoen van Tzaneen sal vanjaar ook nie maklik gestuit word nie. Die skool is gasheer van Limpopo se halfeindronde. Sy eerste span kom te staan teen Hans Strijdom, wat self nie sonder handskoene gepak kan word nie.
In die ander halfeindstryd sal Piet Potgieter en Louis Trichardt veg om ’n plek in die eindstryd.
■ Brandwag van Benoni sal op Stoffberg se veld in Brakpan probeer om vir John Vorster van Nigel die derde keer vanjaar met die kous oor die kop huis toe te stuur.
In die ander halfeindstryd sal die gasheer en Delmas mekaar die stryd aansê.
■ In die Leeus se liga is Trinityhouse reeds in die eindstryd met Fochville en Bekker van Magaliesburg wat sake teen mekaar sal uitspook om ’n plek in die eindstryd.
■ Vryburg is die verdedigende kampioen van die Beeld Noordvaal Trofee.
Hy het Hans Strijdom van Mookgophong (Naboomspruit) verlede jaar met 29-21 in die eindstryd getroef.
Die span was vanjaar nog net een keer teen Pionier van Vryheid aan die verloorkant. Dit was in die eindstryd van die Pukke 16-reeks.
Vryburg sal, as hy sy titel wil behou, volgens die prioriteitslys al vier sy wedstryde in die uitkloprondes weg van die huis moet wen.
Bepalings:
11:15: Fochville t. Bekker; 12:00: Penryn College t. Bergvlam; 12:00: Oosterland t. Barberton;
Limpopo by Ben Viljoen (Groblersdal) – 11:40: Piet Potgieter t. Louis Trichardt; 15:00: Ben Viljoen t. Hans Strijdom.
Valke by Stoffberg (Brakpan) – 13:00: Stoffberg t. Delmas; 14:20: John Vorster (Nigel) t. Brandwag (Benoni).
■ Tuisspanne eerste genoem, tensy anders vermeld.