Voortrekker gee Goudveld-Hoërskool goed pak
DIE Hoërskool Voortrekker van Bethlehem se eerste rugbyspan begin reeds vroeg sy spiere in die Griffon-liga bult. Die Trekkers het in sy eersteligawedstryd van dié seisoen die Goudveld-Hoërskool in Welkom met 45-15 verslaan.
Die span se losskakel, Tokkie van Zyl, het ’n driekuns aan drieë behaal. Die wenspan het sewe drieë gedruk en het die heelagter, AJ van Wyk, nie sy skopstewels by die huis vergeet nie, sou die telling veel groter gewees het.
Die span se kaptein en kantman, André Janse van Vuuren, het weer voorlangs die pas aangegee. Hy is goed deur die agtsteman, Robert de Jongh, stut Ernie Sumner, haker, Christo van Zyl, en slot Henko Naudé bygestaan.
Agterlangs het Tokkie van Zyl sy beste wedstryd sover die seisoen beleef. Benewens sy driekuns aan drieë het hy sy spel goed afgewissel en sy agterlyn mooi weggestuur. Hy was beslis die held in die sege agterlangs, maar die buitesenter, Boeta Vermaak, binnesenter, Wian van der Watt, en Junior Smit wat Van der Watt in die tweede helfte vervang het, het ook beïndruk.) Die verdedigende kampioen, Hentie Cilliers van Virginia, het sy aanslag op vanjaar se titel met ’n bonuspuntsege van 31-22 teen Welkom-Gimnasium begin. Henties was rustyd met die telling op 17-3 reeds stewig in die saal.
Gimnasium het in die tweede helfte verwoed teruggeveg. Die Gimmies se skrumskakel, Kerr Till, senter Danie Hendricks en plaasvervanger-stut, Fanie Vermaak, kan vandag tevrede met hul vertonings voel.
Henties se agtsteman, Gregan Hull, het sy uitstekende spelpeil volgehou.
Die span se skrumskakel, Ethan Williams, was agterlangs die beste speler. ) Witteberg het op sy tuisveld op Bethlehem geen genade aan die Hoërskool Kroonstad (Bloues) betoon nie en oortuigend met 59-7 gewen.
Die wenspan se senterpaar, Donavin Lourens en Louis Spershott, het die Blouskool se verdediging dikwels oorhoops gehad. Voorlangs het die haker, George Steyn, en stut Lambert Rautenbach stewige vertonings gelewer. Steyn het twee keer agter die Blouskool se doellyn gaan kuier. Vir die Blouskool het sy buitesenter, PD Marais, en slot Erlo Kleinhans moedig probeer.) Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooies) gaan vanjaar weer ’n aanspraakmaker op die
Griffon-liga se titel as kampioen wees. Die Rooiskool het HTS Welkom op Kroonstad met 45-13 geklop. Die wenspan was teen die omdraaislag reeds met 28-6 voor. Die span se kaptein en slot, TP Kleynhans, en die haker, Stephen O’Donovan, was soos gewoonlik uitblinkers. Die flank Francois Stemmet het ook ’n blink vertoning gelewer. Agterlangs was die senter Kobus Kleyn uitstaande.
Puntemakers:
AHS Kroonstad 45 (28) – Drieë: Nico Potgieter (2), Stefan Oelofse, Stephen O’Donovan, Robbie Petzer, Jeandré Uys, JP le Roux. Doelskoppe: Uys (5). HTS Welkom 13 (6) – Drie: Innocent Vala-shiya. Doelskop: Teboho Lesholi. Strafdoele: Lesholi (2).
Witteberg 59 – Drieë: George Steyn (2), Stefan Maree (2), Reinhardt Chapman (2), Donovin Lourens, Wiaan Pittendrich, Ludwig Swarts. Doelskoppe: Louis Spershott (7). Hoërskool Kroonstad 7 – Drie: Erlo Kleinhans. Doelskop: Gerhard de Bruin.
Voortrekker 41 (26) – Drieë: Tokkie van Zyl (3), Elandré Palm, Boeta Vermaak, Tiisetso Madonsela, Junior Smit. Doelskoppe: AJ van Wyk (3). Goudveld-Hoërskool 15 (3) – Drieë: Andy Jones, Michael Herbert. Doelskop: Shaun Reynolds. Strafdoel: Eric Herbert.
Hentie Cilliers 31 (17) – Drieë: Sylvester Lewis, Justin Williams, Ethan Williams, Gregan Hull, Riaan Pretorius. Doelskoppe: Ethan Williams (3). Welkom-Gimnasium 22 (3) – Drieë: Francois Kuipers, Oswaldo Swarts, Albert Brummer. Doelskoppe: Brümmer Marais (2). Strafdoel: Marais.